Ek lees êrens ‘n baie interessante artikel met die opskrif, "Raising the Titanic, sinking Cristianity?" wat gaan oor die nuwe opspraakwekkende dokumentêre film wat deur James Cameron, skepper van die film "The Titanic", gemaak is. Die naam van die dokumentêr is "The Jesus family Tomb" en die aanspraak word gemaak dat bewyse gevind is, wat na bewering ook deur DNA toetse bevestig is, dat Y'shua nooit uit die dood opgestaan het nie. Daar was vroeër vanjaar ‘n artikel hieroor in die Time Magazine. Die artikel begin met die woorde: "Brace yourself. James Cameron, the man who brought you 'The Titanic' is back with another blockbuster. This time, the ship he's sinking is Christianity."
Die film, in kort, is gebaseer op ‘n ontdekking wat 27 jaar gelede gemaak is toe konstruksiewerkers êrens in Jerusalem ‘n 2000 jaar oue graf met 10 steenkiste ontdek het waarop die name van tien afgestorwe familielede aangebring is. Dit het argeoloë sowat 20 jaar geneem om die name te ontsyfer en uiteindelik het dit blykbaar aan die lig gekom dat sommige van die kiste behoort het aan "Yeshua, seun van Yosef", "Maria" (of Miryam), (nog ‘n) "Maria", "Matteus", "Yofa" en "Yehuda, seun van Yeshua". Deur hierdie name met ‘n stel DNA toetse te vergelyk, word die afleiding dan gemaak dat dit een familie moes gewees het; dat die eerste "Maria" die moeder van "Yeshua" is; dat "Yeshua" getroud moes gewees het (omdat hy ‘n seun het, "Yehuda") en dat die tweede "Maria" die vrou van Yeshua moes gewees het, waarskynlik Maria Magdalena. Dit alles kom natuurlik daarop neer dat die gegewens wat die Skrif, en by name die Nuwe Verbond, vir ons oor Y'shua die Messias gee, van alle waarheid ontbloot is en veral dat Y'shua nooit uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het nie.
Laat ons net eers ‘n aantal dinge regstel. Die aanspraak wat in hierdie film gemaak word, kom van ‘n Hollywood filmmaker. Alhoewel hy saam met mense gewerk het wat veronderstel is om kundiges op die terrein te wees, kan ‘n mens nie anders as om te verwag dat daar ‘n sterk sensasionele element in die film sal wees nie. Daar is wêreldbekende argeoloë wat na dieselfde vonds gekyk het, wie se bevindinge totaal en al verskillend is en wat dit glad nie met die Y'shua van die Skrif in verband bring nie. Die name wat op hierdie kiste voorkom, is baie algemene name van daardie tyd. Dit kon aan enige ander gewone gesin behoort het. Boonop is daar nie eenstemmigheid oor die korrekte vorm van die name nie – party sê die twee vrouename is Miryam en Marta en nie twee Miryam’s nie. Alhoewel Y'shua in Jerusalem doodgemaak is, het die res van sy familie ver daarvandaan, in Galilea, gebly en ‘n mens sou verwag dat die familiegraf eerder in Nasaret sou wees. Die steenkiste en die duur inskripsies dui op ‘n welvarende familie wat nie strook met die feit dat Y'shua uit ‘n arm skrynwerkers-familie gekom het nie. Dan moet ‘n mens ook byvoeg dat dit nie net die fondasies van "Christianity" is wat deur hierdie aansprake in gedrang kom nie. Daar is baie gelowiges reg oor die wêreld wat hulle nie by "Christianity" skaar nie, maar wat tog glo in Y'shua as die Messias en die feit dat Hy uit die dood opgestaan het. Uit die aard van die saak word sulke mense se geloofsfondasies ook deur hierdie film geraak.
Cameron is nie die eerste een in die geskiedenis wat ‘n streep deur Y'shua se opstanding probeer trek nie en sal seker ook nie die laaste wees nie. Die vraag is wat maak ons met hierdie en ander pogings om die opstanding te ontken en in die proses die geloof van miljoene te "sink" – net soos die Titanic, vandag presies 95 jaar gelede, ná ‘n botsing teen ‘n ysberg gesink het? Kom ons kyk na die Skrif …
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit wat herhaaldelik deur Y'shua self teenoor sy dissipels en ander mense uitgespreek is. Yahuganan 2:19 "Y'shua antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig." Sien ook Matt 12:28-40; Matt 16:21; Matt 17:9; Matt 17:23; Matt 20:19; ens.
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit wat noukeurig in die Skrif gedokumenteer word, wat deur talle getuies bevestig is (tydgenote van die Messias) en wat mense vandag nog voor ‘n geloofskeuse stel. 1 Kor 15:3-8 "Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat die Messias vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Kefa verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broers tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Yaákov; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene."
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit wat bevestig word die opvallende verandering wat daar by die dissipels plaasgevind het, enkele dae na Y'shua se teregstelling. Hand 4:18-20 "En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Y'shua te praat of te leer nie. Toe antwoord Kefa en Yahuganan en sê vir hulle: Of dit reg is voor Elohiem om julle meer gehoorsaam te wees as Elohiem, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie."
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit gesien kan word in die groot getal nuwe, entoesiastiese gelowiges in die Messias, kort na die berig van sy opstanding. Hand 6:7 "En die woord van Elohiem het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Yerushalayiem baie vermeerder, en 'n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof." Sien ook Hand 21:20.
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit wat geboekstaaf word deur die geskrifte van Shaul, een van diegene aan wie die opgestane Messias verskyn het, en die feit dat hy nie huiwer om die opstanding die kern van ons geloof te noem nie. 1 Kor 15:14-19 "En as die Messias nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van Elohiem bevind, omdat ons teen Elohiem getuig het dat Hy die Messias opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is die Messias ook nie opgewek nie; en as die Messias nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in die Messias ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op die Messias hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense."
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit wat onderstreep word deur die lewende hoop op die wederkoms van die Messias en ook die hoop op die opstanding van gestorwe gelowiges, wat baie pertinent by gelowiges ná die aardse lewe van die Messias voorgekom het. 1 Tess 5:8 "Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die verlossing." Sien ook Titus 2:13; Heb 6:18; 1 Kefa 1:3; 1 Yahuganan 3:3.
- Die opstanding van Y'shua die Messias is ‘n feit wat nie geïgnoreer kan word nie, in die lig daarvan dat duisende mense vandag nog hulle geloof daarop bou, en dit ten spyte daarvan dat die vyand oor die afgelope 2000 jaar talle desperate pogings aangewend het om dit as ‘n mite af te maak. Hand 17:32 "Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor." Yahuganan 11:25 "Y'shua sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe …"