'N TYDIGE WOORD VAN YAHWEH

Baie mense hunker daarna om tog net Yahweh se stem te kan hoor. "As Hy tog maar met ons kon praat soos wat Hy met Mosheh (Moses) en Shemuél (Samuel) en die profete gepraat het ..." is die versugting van baie gelowiges. Het ons nie vandag die woord van Yahweh net so nodig, indien nie nog nodiger, as in die tyd van die profete nie? Hoe voel ons hemelse Vader oor die dinge wat in ons dag gebeur? Hoe voel Hy oor die regering van ons land en oor die jeug (en die Jeugliga) en oor VIGS en oor die morele waardes van ons tyd? Hoe voel Hy oor dit wat in Israel gebeur en in Pakistan en in Zimbabwe? En wat is die woord van Yahweh vir my eie lewe? Wat moet ek doen om te oorleef – finansieel, emosioneel en wat betref die onsekere toekoms wat ons almal in die gesig staar? As ek maar net 'n woord van Yahweh gehad het oor my huis en oor my huwelik en oor my kinders en oor my studies en my beroep, so voel 'n mens dikwels om uit te roep, sou die wêreld 'n veel makliker plek gewees het om in te bly.

Die feit van die saak is, meeste van die tyd hoor ons nie die stem van Yahweh duidelik en hoorbaar met ons praat nie. Ek glo die Vader het sy redes waarom Hy nie gereeld op so 'n manier met mense praat nie. Ons weet nie wat daardie redes is nie. Maar ons weet ten minste van EEN REDE waarom Yahweh nie vandag meer tydig en ontydig vir mense woorde en boodskappe uit die hemel uit laat hoor nie. Hierdie rede word onder meer verwoord in die volgende uitspraak van die Messias, as deel van die gelykenis van die ryk man en Lasarus:

Luk 16:31 As hulle na Mosheh en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Die punt is duidelik: Yahweh het in die verlede al soveel keer sy woord laat hoor. Deur Mosheh, deur die profete, deur sy eie Seun en ook deur die apostels. As iemand nie die geloof het om daardie woord of woorde te hoor en te gehoorsaam nie, sal hy nie oortuig word nie, selfs al ontvang hy 'n woord so duidelik en so hoorbaar soos 'n weerligstraal in die hemelruim – ja, selfs al sou iemand ook uit die dood opstaan om daardie woord te bevestig. Ons hét alreeds die Woord van Yahweh. En dit bevat woorde wat kan inspreek in ons lewens en 'n groot verskil kan maak. Al wat ons moet doen is om soos gehoorsame kinders te luister na daardie woord. Kom ons kyk vandag na daardie plekke in die Skrif (profete) waar ons die woorde lees, "Daarom, só sê Yahweh ..." om sodoende op hoogte te kom van sommige van die tydlose, maar ook tydige uitsprake uit die mond van ons Vader, tesame met die rede vir daardie uitspraak (opgesluit in die woord "daarom").

1. My geregtigheid en my waarheid bring sekuriteit (My righteousness and truth will bring security)

Jes 28:16 Daarom, so sê die Meester Yahweh: Kyk, Ek lê in Tsion 'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie (oftewel: "... sal nie uit vrees, oorhaastig sy blyplek verlaat en vlug nie). Rede: "En Ek sal die reg tot 'n riglyn maak, en die geregtigheid tot 'n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel" (vers 17).

2. My groot werke maak dat jy jou nie hoef te skaam nie (My mighty works will ensure that you have nothing to be ashamed of)

Jes 29:22 Daarom, so sê Yahweh tot die huis van Yaákov, Hy wat Avraham verlos het: Yaákov sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie. Rede: "want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam afsonder; ja, hulle sal die Afgesonderde van Yaákov afsonder en vir die Elohiem van Yiesraél met ontsag vervul wees" (vers 23).

3. Ek sal beskerming en vervulling bied aan die oorblyfsel (To the remnant I shall give protection and fulfilment)

Jes 37:33 Daarom, so sê Yahweh aangaande die koning van Ashur: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet nie en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opwerp nie. Rede: "Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Yehudah, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe" (vers 31).

4. Ek bring struikelblokke in die pad van húlle wat die Torah verwerp (I shall put a stumbling block in the way of those who reject my Torah)

Jer 6:21 Daarom, so sê Yahweh: Kyk, Ek gooi struikelblokke voor hierdie volk waaroor hulle sal struikel, vaders en seuns tesame; die buurman en sy vriend sal omkom. Rede: "Kyk, Ek bring rampspoed oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my Torah, dit het hulle verwerp" (vers 19).

5. Ek toets my gunstelinge, sodat hulle die leuens kan uitken (I shall try and test my favourite ones, so that they may distinguish between truth and lies)

Jer 9:7 Daarom, so sê Yahweh van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk? Rede: "En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery" (vers 5)

6. Ek verwerp die profete wat valse profesieë verkondig (I shall reject those prophets who come up with popular, but false prophesies)

Jer 14:15 Daarom, so sê Yahweh: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie - daardie profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom. Rede: "En Yahweh het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gepraat nie; hulle profeteer vir julle 'n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart" (vers 14).

7. Ek rig 'n waarskuwing teen die herders wat die skape verstrooi (All those shepherds who scatter my flock, let them be warned)

Jer 23:2 Daarom, so sê Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, aangaande die herders wat my volk oppas: Julle het my skape verstrooi en hulle verdryf en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, sê Yahweh. Rede: "Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, sê Yahweh" (vers 1).

8. Ek verander jou nood, ter wille van my afgesonderde Naam (I shall change your circumstances, for the sake of my set apart Name)

Eseg 39:25 Daarom, so sê die Meester Yahweh: Nou sal Ek die nood van Yaákov verander en My ontferm oor die hele huis van Yiesraél en ywer vir my afgesonderde Naam. Rede: "En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Yiesraél uitgegiet het, sê die Meester Yahweh" (vers 29).