DIE TOESTAND VAN ‘N NASIE

Die afgelope week was dit weer tyd vir die tradisionele "State of the Nation" toespraak van die president van Suid Afrika. Ek het nie daarna geluister nie, maar agterna na die gepubliseerde toespraak op die internet gaan kyk. Die "State of the Nation" toespraak is bedoel om ‘n soort barometer te wees en verslag te doen aan alle Suid Afrikaners oor hoe dit regtig met die land gaan. Ek was nuuskierig om te weet wat in hierdie toespraak sou uitkom – of die politici eerlik genoeg is om te erken dat daar probleme is en of daar darem tekens van hoop is waarna ‘n mens kan uitsien. Met so ‘n toespraak weet ‘n mens egter dat jy nie te veel afleidings kan maak nie. Daar is min presidente wat in hulle "State of the Nation" toesprake sal erken dat hulle nie daarin geslaag het om hulle land goed te regeer nie. Of dat hulle in sommige opsigte heeltemal misluk het. Of dat hulle belangrike besluite geneem het wat die land in ellende gedompel het. So, die meeste wat ‘n mens uit so ‘n toespraak kan aflei is om ‘n aanvoeling te probeer kry van die algemene klimaat in die land, die gemoedstoestand van die leiers te probeer peil en te kyk na die manier hoe so ‘n toespraak ontvang word – wat mense agterna daarvan sê, wat die media daarvan dink, wat die kenners tussen die lyne gelees kry, ensovoorts. Die politieke binnegevegte wat gewoonlik deur so ‘n toespraak ontketen word, interesseer my nie regtig nie. Maar wat my wel interesseer, en ek glo vir meeste van julle ook, is die vraag: Wat is werklik, ten diepste, die toestand van ons nasie?

Die president het in sy toespraak die bekende woorde uit Charles Dickens se boek, "A Tale of two Cities" aangehaal: "It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredúlity, it was the season of Light, it was the season of Darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair, we had everything before us, we had nothing before us, we were all going direct to Heaven, we were all going direct the other way." ‘n Mens weet nie of hy doelbewus hierdie aanhaling gekies het omdat hy gemeen het dat die vermelding van "the season of darkness" heel gepas is, teen die agtergrond van die huidige Eskom krisis nie. Een ding is seker: Die president het met hierdie aanhaling getoon dat hy ‘n aanvoeling het dat mense verward en onseker en benoud oor die toekoms is.

Nadat hy hierdie woorde van Charles Dickens aangehaal het, voeg hy dadelik by: "You will ask whether I agree with this assessment, whether I too believe that we have entered an era of confusion, in which all of us cannot but lose our way, unsure of our steps, unsteady on our feet, fearful of the future!" En dan kom die ware politikus in die president weer sterk na vore as hy vol bravade antwoord: Nee, hy stem nie saam nie. Ons hoef nie bang te wees nie en ons hoef nie verward te wees nie. Die land is, algemeen gesproke, nog op ‘n gesonde basis en die toekoms is redelik rooskleurig. Teen die einde van sy toespraak sluit hy af met die woorde: "Having said all that I have said, I come back to the question: what is the state of our nation as we enter 2008! What I do know and hereby make bold to say is: whatever the challenges of the moment, we are still on course!"

Spotprent tekenaars het soms die vermoë om sekere waarhede in ‘n neutedop, met ‘n enkele prent weer te gee. Ek het na ‘n klompie van die spotprente van Zapiro gaan kyk om te sien of die prentjies wat hy skets naastenby ooreenstem met die groter prentjie wat deur die president van ons land geskets word. Die kontras tussen die twee stelle prente was verbysterend, om die minste te sê. As ons eerlik wil wees, sal ons moet erken: Die toestand van ons nasie het ’n absolute laagtepunt bereik en daar is dinge wat daagliks rondom ons gebeur wat in die lig van basiese beginsels soos regverdigheid en eerlikheid en veiligheid, totaal onaanvaarbaar is. As gelowiges behoort ons nie na politici te kyk om vir ons hoop en uitkoms te gee nie. Maar ons moet ook nie wanhopig word nie. Ek dink ook nie dat dit ‘n oplossing sal wees om na ‘n ander land te emigreer nie. Die aangewese weg vir ons is om ons antwoorde in die Woord te vind, om ons perspektief weer terug te kry deur dit wat rondom ons gebeur te meet aan wat duidelik in die Skrif voorspel word en die ewige waarhede en beginsels van die Skrif met hart en mond uit te leef in die omstandighede waarin ons ons bevind. Bloot vanuit ‘n menslike oogpunt beskou, is ons omstandighede glad nie gunstig nie. Vanuit die oogpunt van geloof en beskikbare geleenthede en die desperaatheid van mense om ‘n boodskap van hoop te ontvang, is die omstandighede rondom ons uiters gunstig. Mense daarbuite smag na waarheid en integriteit. Ons kan dit vir hulle in ‘n vorm gee waarin hulle dit miskien nie verwag het nie, maar tog op ‘n manier wat hulle hele lewe kan verander.

  1. Die toestand van ons nasie is maar net ‘n weerspieëling van die toestand van die ganse menslike ras, soos uitgestippel in die volgende Skrifgedeeltes: Bereshiet / Genesis 6:5-6 (Toe Yahweh sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, voortdurend net sleg was, het dit Yahweh berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart); Tehielliem / Psalms 5:9 (Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is 'n oop graf; hulle maak hul tong glad); YeshaYahu / Jesaja 64:6 (En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind); Romeine 3:11-18 (Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat Elohiem soek nie … Hulle het almal afgewyk … Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie … Haastig is hulle voete om bloed te vergiet … Verwoesting en ellende is in hulle paaie … Daar is geen vrees van Elohiem voor hulle oë nie).
  2. Die toestand van ons nasie is in lyn met wat die Skrif sê oor die toestand van alle nasies in die tyd reg voor die einde, soos aangedui word in die volgende Skrifgedeeltes: Daniel 12:9-10 (En hy het gesê: Gaan heen, Daniél, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die afvallige sal in afvalligheid handel; en geeneen van die afvallige mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan); YeshaYahu / Jesaja 2:2-3 (En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Yahweh vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van Yahweh, na die huis van die Elohiem van Yaákov, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel); 2 Timoteus 3:1-4 (Maar weet dit, dat daar in die laaste dae moeilike tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onafgesonder, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van Elohiem).
  3. Die toestand van ons nasie bevestig die noodsaaklikheid dat ons as gelowiges ‘n lewe van afsondering en getuienis moet lewe, soos gesien kan word in die volgende Skrifgedeeltes: YeshaYahu / Jesaja 52:11 (Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die afgesonderde voorwerpe van Yahweh!); Kolossense 3:8-10 (Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het. en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper); Openbaring 18:4 (En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie).
  4. Die toestand van ons nasie is geen rede tot paniek nie – inteendeel, dit plaas ons in ‘n ideale posisie om die grootheid en die seën van Yahweh nog meer as tevore te kan beleef, soos uitgebeeld word in die volgende Skrifgedeeltes: YeshaYahu / Jesaja 51:7-8 ( Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die oneer van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie, want die mot sal hulle opeet soos 'n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my verlossing van geslag tot geslag); Tehielliem / Psalms 24:3-5 (Wie mag klim op die berg van Yahweh? En wie mag staan in sy afgesonderde plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van Yahweh en geregtigheid van die Elohiem van sy verlossing); 2 Timoteus 2:19,21 (Die fondament van Elohiem staan vas met hierdie seël: Yahweh ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van die Messias noem, afstand doen van die ongeregtigheid. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, afgesonder en bruikbaar vir die Meester, voorberei vir elke goeie werk).

As ons te midde van die toestand van ons nasie hierdie koers kies, kan ons met vrymoedigheid saam met die president verklaar: "Whatever the challenges of the moment, we are still on course!"