TYD OM WAKKER TE WORD

 

Die Joodse Rabbi, Maimonides, het gesê:  “When the shofar is blown it says to us: Awake ye sleepers from your sleep and ponder over your deeds; remember your Creator and go back to Him in penitence. Be not of those who miss realities in their pursuit of shadows and waste their years in seeking after vain things which cannot profit or deliver. Look well to your souls and consider your acts; forsake each of you his wrong ways and improper thoughts and return to (Yahweh) so that He may have mercy upon you.”

 

Yom Terua (Trompettefees) hou verband met die blaas van die shofar.  Wanneer die shofar geblaas word, is dit onder meer ‘n oproep om wakker te word uit die slaap.  Hierdie betekenis van die blaas van die shofar kan gesien word in die boek Yahu’el (Joël):  “Blaas die ramshoring op Tsion, en blaas alarm op my afgesonderde berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van Yahweh kom, want hy is naby (2:1) ... Blaas die ramshoring op Tsion, sonder ‘n vasdag af, roep ‘n vergadering saam (2:15) ... Roep dit uit onder die nasies, sonder ‘n oorlog af! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk (3:9) ... Word wakker en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, Yahweh, daarheen aftrek!  Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Yahushafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom (3:11-12)”

 

Die woord wat in 3:9 hierbo met “wek op” en in 3:12 met “word wakker” vertaal word, is die Hebreeuse woord “oehr”.  Die basiese betekenis van hierdie woord is “to wake up, to lift up, to raise up, to stir up”.  Die woord kan ook die betekenis hê van:  “om iets oop, onbedek, of nakend te maak” (wanneer ‘n mens wakker word, maak jy jou oë oop – jou oë is onbedek).  Die woord “oehr” kan ook “kaf” beteken (d.w.s. die neweproduk wanneer koring nakend of onbedek gelaat word).  Ander woorde in Hebreeus wat met hierdie woord verband hou is “oohr”, wat “vel” beteken (dit wat jy sien by ‘n mens wat nakend is), “avar” wat “blind” beteken (asof daar ‘n vel of ‘n vlies oor iemand se oë is) en “iehr” wat “stad” beteken (d.w.s. ‘n plek wat deur wagte of mense wat wakker bly, bewaak word). 

 

Die oproep om wakker te word, word in die Skrif dikwels gebruik saam met begrippe soos “naaktheid” (vgl. Hos 2:3), “kaf” (vgl. Dan 2:35), “blindheid” (vgl. Yesh 42:7) en “onbewaakte stede” (vgl. Yerm 4:5).  In al hierdie gedeeltes is die belangrikste boodkap egter:  WORD WAKKER UIT DIE TOESTAND VAN SLAAP!  Moenie langer die oë sluit vir dit wat beslis gaan gebeur nie.  Moenie soos ‘n blinde mens die waarheid van sy Woord ontken nie.  Moenie langer voortgaan met sondig nie.  Moenie langer die stem van Yahweh ignoreer nie.  Moenie lewe asof Hy nie bestaan nie.  Die dag van Yahweh kom beslis!  Dan sal hulle wat nie ag gegee het op die klanke van die shofar nie, totaal ontbloot en nakend voor Yahweh staan.  Ja, hulle sal soos kaf van die koring geskei word.  Hulle sal soos die stad Jerigo (en al sy inwonders) met die grond gelyk gemaak word.

 

1.                       WORD WAKKER, JULLE WAT YAHWEH EER MET DIE LIPPE, MAAR NIE MET DIE HART – Yesh 29:8,13-14: “En soos ‘n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en—sy siel is leeg; en soos ‘n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en—hy is moeg en sy siel versmag: só sal die skare van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Tsion ... En Yahweh het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.”

2.                       WORD WAKKER, JULLE WIE SE HARTE ONBESNEDE EN VERMENGD IS – Yesh 52:1,10,11: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Tsion, trek jou sierlike klere aan, o Yerushalayim, afgesonderde stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie ... 10 Yahweh het sy afgesonderde arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die verlossing van onse Elohiem.  11  Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die afgesonderde voorwerpe van Yahweh!.”

 

3.                       WORD WAKKER, JULLE WAT NIE DIE WERKE VAN DIE VYAND HERKEN NIE – Matt 13:24-26 “'n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.”

 

4.                       WORD WAKKER, JULLE WAT VIR JULLE SKATTE OP AARDE BYMEKAAR MAAK – Luk 12:34-37 “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.  Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.  En julle moet wees soos mense wat op hulle meester wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Geseënd is daardie diensknegte vir wie die meester wakker sal vind as hy kom.”

 

5.                       WORD WAKKER, JULLE WAT DIE BEGEERTES VAN DIE VLEES BEVREDIG – Rom 13:11-14 “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die verlossing is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.  Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.  Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Meester, Yahshua die Messias, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”

 

6.                       WORD WAKKER, JULLE WAT DEELNEEM AAN  WERKE VAN DIE DUISTERNIS – Efes 5:11-14 “Hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.  Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig. Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en die Messias sal oor jou skyn.”

 

7.                       WORD WAKKER, JULLE WAT DINK DAT JULLE LEWE, MAAR DOOD IS – Openb 3:1-2 “Dít sê Hy wat die sewe Geeste van Elohiem en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.  2  Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor Elohiem gevind nie.”

 

8.                       WORD WAKKER, JULLE WAT NIE GEREED IS VIR DIE KOMS VAN DIE BRUIDEGOM NIE – Matt 25:3-6 “En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.  4  Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.  5  En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.  6  En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!”