U IS MY VERWAGTING
Dit sou interessant wees om ‘n opname te maak van jou eie gesprekke in die loop van een volle dag, of selfs oor ‘n tydperk van een week of een maand en vas te stel hoeveel keer die woord "ek" in daardie gesprekke voorkom. Na so ‘n opname sou meeste van ons waarskynlik tot die gevolgtrekking moet kom dat die onderwerp waaroor ons die liefste is om te gesels, is onsself. Meeste van ons gesprekke gaan uiteindelik maar net oor onsself – ons eie belange, ons eie familie, ons eie behoeftes, ons eie bekommernisse, ons eie griewe, ons eie programme. Aan die een kant is dit seker onvermydelik. Aan die ander kant kan dit dalk geweldig bevrydend wees om dit reg te kry om minder oor onsself te praat (en te dink) en meer oor ander – ander mense en ander onderwerpe – nie met die doel om mense agter hulle rug te bespreek nie, maar vanuit ‘n hart wat in opregtheid uitreik na ander en hulle belange as net so belangrik as jou eie beskou.
Beraders wat met huwelike en konflik situasies in verhoudinge werk, lê dikwels groot klem op die belangrike beginsel in verhoudinge dat ‘n mens liewer "ek-taal" moet gebruik as "jy-taal". Daar steek natuurlik baie waarheid in hierdie beginsel. In ‘n konflik situasie is dit gewoonlik baie beter om jou sinne te begin met die woorde "Ek voel seergemaak …" of "Ek voel afgeskeep …" of "Ek het gefouteer …", as om beskuldigende "jy-sinne" te gebruik soos "Jy kom altyd laat …" of "Jy voel niks vir my nie …" of "Jy het nou alles bederf". Dit kan werklik ‘n verskil in verhoudinge bring as elke party in konflik situasies daarop ingestel is om meer "ek-taal" te gebruik en sodoende minder beskuldigend te wees, maar terselfdertyd meer van jou eie gevoelens te ontbloot.
Die probleem is dat party mense nie weet waar om die streep te trek met hulle ek-taal nie. Dis byna soos ‘n verslawing of ‘n obsessie wat intree en maak dat hierdie mense oor niks anders as hulleself kan praat nie. Dink ‘n bietjie daaraan: Hoe arm is ‘n mens wie se gedagtes 90% van elke dag slegs gevul word met dinge wat met homself of haarself te make het? Dis hoekom ons in die Skrif aangemoedig word om ons gedagtes te vul met inhoude wat groter is as ons eie klein wêreldjie. Om dit wat eerbaar en rein en lieflik en loflik is, te bedink (Fil 4:8). Om nie aardse wysheid na te jaag nie, maar wysheid wat van Bo is (Yaákov 3:15-17). Om nie jou eie belange te soek nie, maar die belange van ander en veral van die Messias (Fil 2:4,21).
In die Voor-Messiaanse Skrifte word die woord "attah" dikwels gebruik om aan hierdie belangrike beginsel uitdrukking te gee. "Attah" word gewoonlik met "U" vertaal en mense soos Dawied en die profete het male sonder tal die woorde "attah Yahweh" of "attah Elohiem" gebruik om daarmee te kenne te gee dat hulle die keuse gemaak het om op Yahweh en op sy grootheid en op sy talle voortreflike eienskappe te fokus, eerder as op hulle eie gebreke en die gebreke van die wêreld waarin hulle gelewe het. Ek dink daar is ‘n sleutel vir ons hierin opgesluit. Dit sluit aan by wat die apostel Yahuganan in sy eerste brief gesê het: "Hy wat in julle is (deur sy Gees), is groter as hy wat in die wêreld is". As ons meer op Yahweh kan fokus, meer op sy getrouheid en regverdigheid en sy barmhartigheid en sy almag, en minder op ons eie mislukkings en tekortkominge en om hierdie rede weier om toe te laat dat ons probleme en ons omstandighede ons heeltemal verswelg, kan ons geloof dieselfde hoogtes bereik as dié van Dawied en die profete. Kom ons kyk na ‘n aantal geloofsuitsprake in die boek Tehielliem (Psalms) wat in die vorm "attah Yahweh" verwoord word.
Teh 4:8 Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o Yahweh, alleen laat my in veiligheid woon. OP U VERTROU EK.
Teh 12:7 U, o Yahweh, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig. DEUR U WORD EK BEWAAR.
Teh 16:2 Ek het tot Yahweh gesê: U is my Meester; vir my is daar geen goed bo U nie. U IS MY MEESTER.
Teh 25:1 Tot U, o Yahweh, hef ek my siel op. AAN U DINK EK.
Teh 31:1 By U, o Yahweh, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid. BY U SKUIL EK.
Teh 40:11 U, o Yahweh, sal u barmhartighede van my nie weerhou nie; laat u goedertierenheid en u trou my voortdurend behoed. DEUR U WORD EK GESEËN.
Teh 41:10 Maar U, o Yahweh, bewys guns aan my en rig my op, dat ek hulle dit kan vergeld! U TEL MY WEER OP.
Teh 62:11-12 Een ding het Elohiem gepraat, twee is dit wat ek gehoor het: dat die sterkte aan Elohiem behoort, en aan U, o Yahweh, behoort die goedertierenheid; want U vergeld elkeen na sy werk. AAN U BEHOORT DIE STERKTE.
Teh 69:13 Maar ek - my gebed is tot U, o Yahweh: in die tyd van guns, o Elohiem, verhoor my deur die grootheid van u goedertierenheid, deur die trou van u verlossing! TOT U IS MY GEBED.
Teh 71:5 Want U is my verwagting, Meester Yahweh, my vertroue van my jeug af. U IS MY VERWAGTING.
Teh 86:5 Want U, o Yahweh, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep. U IS GOEDGUNSTIG.
Teh 102:12 Maar U, o Yahweh, U bly tot in ewigheid, en u herinneringsnaam van geslag tot geslag. U NAAM IS VIR EWIG.
Teh 119:12 Lofwaardig is U, o Yahweh! Leer my u insettinge! U IS LOFWAARDIG.
Teh 119:151 U, o Yahweh, is naby, en al u gebooie is waarheid. U IS NABY.
Teh 141:8 Want op U is my oë, Yahweh Meester; by U skuil ek: giet my siel nie uit nie! OP U IS MY OË.