UITKOMS NA DIE DROOGTE
In die Wes-Kaap is daar op die oomblik (Maart 2005) ‘n droogte wat al beskryf is as die ergste in meer as 100 jaar. Daar is nog water in die damme, en daar word reën verwag in die wintermaande, maar as ‘n mens na bergreekse en tuine kyk wat hierdie tyd van die jaar gewoonlik pragtig, groen en met allerlei natuurlike plantegroei bedek is, dan besef jy: In jare was dit nog nooit so droog nie. Tye van droogte het in die Skrif byna altyd ‘n boodskap vir die volk ingehou. Dis nie maar net toevallig dat dit so droog is nie. Dit pas elke gelowige om in hierdie tyd fyn te luister en uit te vind watter boodskap die Almagtige vir ons deur hierdie volgehoue droogte wil deurgee.
Die Hebreeuse begrip wat normaalweg gebruik word om ‘n droogtetoestand aan te dui, is die stamwoord "garav" wat volgens Strongs beteken: "to parch (through drought); to desolate; to be dry; to make waste". Van hierdie woord is daar ‘n aantal ander woorde afgelei wat almal met droogte en verwoesting te make het: "gerev" ("swaard" – so genoem omdat dit soveel verwoesting saai); "garev" ("om verwoes te wees" of "om in puin te lê"); "gorev" ("hitte" of "droogte" – die naam van die berg Horev [Horeb] het dieselfde betekenis); "gorbah" ("puinhoop") en "garavah" ("droog").
Watter omstandighede het volgens die Skrif normaalweg tot ‘n situasie aanleiding gegee wat met een van hierdie woorde beskryf word? Dit is nie moeilik om ‘n patroon uit die Skrif af te lei nie. Kom ons kyk na ‘n aantal toepaslike gedeeltes:
"So sê Yahweh: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot. 2 Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand geantwoord nie? Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in my geen krag om uit te red nie? Kyk, deur my teregwysing maak Ek die see droog ("garav"); Ek maak die riviere tot ‘n woestyn"
(YeshaYahu 50:1-2)."Die swaard ("gerev") oor die grootpraters, dat hulle dwaas kan word! Die swaard ("gerev") oor sy helde, dat hulle verskrik kan word! 37 Die swaard ("gerev") oor sy perde en sy strydwaens en oor die hele gemengde bevolking wat daar binne-in is, dat hulle vroue kan word! Die swaard ("gerev") oor sy skatte, dat hulle geplunder kan word! 38 Droogte ("gorev") oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! Want dit is ‘n land van gesnede beelde, en deur die skrikgestaltes is hulle waansinnig"
(YermeYahu 50:36-38)."Yahweh is regverdig binne-in hom, Hy doen geen onreg nie; elke môre laat Hy sy reg aan die lig kom, dit ontbreek nooit nie; maar die kwaaddoener ken geen skaamte nie. 6 Ek het nasies uitgeroei, hulle hoekvestings is vernietig; hulle strate het Ek verwoes ("garav"), sodat niemand meer verbygaan nie; hulle stede is verniel, sodat daar geen mens, geen inwoner in is nie. 7 Ek het gesê: Mag jy My maar vrees, tugtiging aanneem! Dan sou sy woonplek nie uitgeroei word nie, nie plaasvind alles wat Ek teen hom bestel het nie. Nogtans het hulle met ywer al hulle handelinge bederwe"
(TsefanYah 3:5-7).Dit is duidelik dat droogte, en die verwoesting wat daarmee gepaard gaan, volgens hierdie gedeeltes die gevolg van sonde, ongeregtigheid, ongehoorsaamheid en afgodediens is. ‘n Mens hoor die versugting van die Vader se hart gedurende sulke tye helder en duidelik in TsefanYah 3:7 – "Mag jy my tog vrees, mag jy tog die tugtiging aanneem!" Dit is op hierdie versugting dat ons moet ag slaan in ‘n tyd soos dié waarin ons nou verkeer. Daar is ‘n grootskaalse weiering om in die vrees van Yahweh te wandel. In die Wes-Kaap, maar ook in die res van ons land en regdeur die wêreld. Daar is ‘n algemene, hardnekkige weerstand om die tugtiging van Yahweh ernstig op te neem. Die Wes-Kaap, spesifiek, het ‘n reputasie dat hy die res van die land soms vóór is in die proses om die deur al hoe meer oop te maak vir praktyke wat direk indruis teen Yahweh se Woord. Dis hier waar landswette bekragtig word wat gebore is uit ‘n filosofie waarin die vrees vir Yahweh geen rol speel nie – landswette soos die afskaffing van die doodstraf en die wettiging van aborsies en homoseksuele huwelike. Geen wonder dat Kaapstad die Gay-hoofstad van die wêreld genoem word nie. Dis hier in die Wes-Kaap dat dwelmisbruik en satanisme en jeugmisdaad tot ‘n vlak gevoer word wat nêrens anders in die land sy gelyke het nie. Dit is hier waar egskeiding en ontug hoogty vier – sekerlik meer gekonsentreerd as op enige ander plek in ons land. Dit is hier waar afgodediens, in die verskuilde gestaltes van New Age, vrye denke, materialisme en selfs amptelike kerklike leerstellings, ‘n valse vesting van sekuriteit vir duisende mense geword het. Ons hoef ons nie te verbaas dat ons die ergste droogte in 100 jaar in die Wes-Kaap beleef nie.
Kan ons verwag dat hierdie toestand van droogte tot ‘n einde sal kom en dat ons weer op ‘n nuwe manier die guns en die seën van Yahweh sal ervaar? Ek glo ons kan, mits ons die woorde van die profeet Gaghai ernstig opneem:
"Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin ("garev") lê? 5 So sê Yahweh van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: 6 julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek. 7 So sê Yahweh van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! 8 Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ‘n welgevalle daaraan hê en My allesoortreffende grootheid toon, sê Yahweh. 9 Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek Yahweh van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin ("garev") lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. 10 Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. 11 En Ek het droogte ("gorev") oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande"
(Gaghai1:4-11).Wat is die probleem volgens hierdie gedeelte? Elkeen is besig om vir sy eie huis te hardloop (of: te "ywer", te "swoeg"), terwyl die huis van Yahweh in puin lê (vers 9). Hierdie houding word weerspieël wanneer ‘n mens jou geld en jou tyd en jou energie verspil deur persoonlike belange na te jaag en Yahweh en sy Woord nie deel maak van jou lewe nie. Dit word ook daarin weerspieël dat iemand bewus is daarvan dat Yahweh se Woord nie gehou en eerbiedig word nie, maar nie juis ‘n vinger verroer om iets aan die situasie te doen nie. Is ons bereid om iets aan hierdie situasie te doen?
Wat is die oplossing volgens hierdie gedeelte? Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis (vers 8). Die opdrag om teen die berg op te klim word met die woord "alah" aangedui, wat beteken "om op te staan; om op te gaan; om uit te styg; om op te lig; om (op) te offer". Yahweh soek manne en vroue wat bereid is om vir Hom op te staan en uit te styg bo hulle wat Hom nie erken nie en sy Naam op te lig en hulle lewens aan Hom te offer. Selfs al is daar net ‘n klein groepie wat bereid is om só "op die berg te klim" kan ons verwag dat die droogte gebreek sal word.
Die woord wat vir "hout" gebruik word, is "ets", afkomstig van die stamwoord "atsah" wat beteken: "om vas te maak; om styf te maak; om toe te maak" – dit waarvoor hout normaalweg gebruik word. Dit is wat nodig is om die geestelike droogte in ons dag te verbreek – mense wat met die "hout" wat hulle van Bo af, van die Vader af, en van sy Woord af, gekry het die wankelrige strukture van ons tyd weer vas en stewig te maak en die openinge in die (bouvallige) muur weer toe te maak. Dis net met die hout wat van die berg van Yahweh af kom, dat ons dit sal regkry.
Die begrippe "bou" en "huis" is twee variasies van dieselfde woord, die woord "banah" wat beteken: "om op te bou, om te herstel, om te restoureer, om kinders te verwek, om kinders te identifiseer". Hierdie betekenisveld, op sigself, is ‘n duidelike illustrasie van wat die diepste betekenis van die "huis van Yahweh" is en wat dit eintlik beteken om aan hierdie huis te bou. Dit beteken om op te bou wat vervalle ("garev") geraak het. Dit beteken om herstel te bring in ‘n wêreld waar die vrees van Yahweh nie meer geken word nie en die weë van Yahweh nie meer bewandel word nie. Dit beteken nie soseer om met bakstene te werk nie, maar met mense (kinders) en veral om diegene te identifiseer (en op te bou) wat deel uitmaak van die ware volk van Yahweh. As hierdie gesindheid by jou en my teenwoordig is, kan ons verwag dat die fisiese droogte in ons midde gebreek sal word.
Daar is ‘n vergelyking wat in Yegezkel 36:38 gebruik word wat besondere betekenis het vir ons wat uitsien na reën, maar wat ook uitsien na Pesag wat oor ‘n week gevier sal word: "Soos die afgesonderde skape, soos die skape van Yerushalayiem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê ("garev"), vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek Yahweh is." Die hele hoofstuk van Yegezkel 36 gaan daaroor dat Yahweh in sy guns en ter wille van sy eer die situasie van knellende droogte en stede wat in puin lê, sal verander en weer uitkoms sal gee. In vers 38 word hierdie uitkoms vergelyk met die feestelikheid wat in Yerushalayiem tydens ‘n fees soos Pesag gesien kan word. Daar is by my ‘n versugting en ‘n verwagting dat daar in die week wat oorbly tot met Pesag ‘n nuwe begeerte onder die volgelinge van Yahweh sal ontstaan om die belange van sy Huis weer eerste te stel in hulle lewens. Saam hiermee is daar by my ‘n versugting en ‘n verwagting dat Yahweh voor die einde van die Week van Ongesuurde Brode die hemele sal open en reën sal stuur soos wat ons nog nie hierdie jaar gehad het nie…