DIE VALSTRIK VAN VALSHEID

Hoe dit lyk en hoe om dit te oorwin, volgens die boek YermeYahu

Die profeet YermeYahu (Jeremia) gee ‘n uitvoerige beskrywing van sy volk wat van Yahweh afvallig geword het en hulle vertroue op leuens en valsheid geplaas het – ‘n beskrywing wat in breë trekke ook geldig is vir die situasie van ons dag. Net soos in die tyd van YermeYahu is daar vandag ook duisende mense regoor die wêreld wat hulleself sien as Yahweh se mense (of: "kinders van die Here"), maar wat, sonder dat hulle dit dalk besef, in ‘n valstrik getrap het wat oor eeue heen, deur afvallige mense met bedenklike motiewe, gestel is. Die profeet YermeYahu sê dat hierdie sg. leiers soos voëlvangers op die loer is en met bedrieglike metodes mense "vang" en sodoende vir hulleself grootheid en rykdom in die sak bring (lees Yerm 5:26-27). ‘n Hernude studie van die boek van YermeYahu kan vir ons help om hierdie proses (met al sy fasette) in ons eie dag te herken en onsself volledig daaruit los te wikkel.

  1. Die voorloper en die vrug van valsheid is dikwels een en dieselfde probleem: Mense wat hulle nie met hulle hele hart tot Yahweh bekeer nie.
  2. Yerm 3:10 "Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Yehudah, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, sê Yahweh."

  3. Een van die duidelikste gestaltes van valsheid is ‘n valse verwagting dat indrukwekkende strukture, persoonlikhede, veldtogte en getalle die sleutel tot verlossing is.
  4. Yerm 3:23 "Waarlik, tevergeefs (letterlik: "valslik") verwag hulle dit van die heuwels en van die geraas op die berge; waarlik, in Yahweh onse Elohiem is Yiesra~el se verlossing."

  5. Een van die vernaamste boustene van die valsheid van ons dag is die verkondiging van vrede, terwyl daar geen vrede is nie en hierdie leuen word veral aangevuur deur ‘n houding van gemaksugtigheid en vrees vir swaarkry.
  6. Yerm 6:13-14 "Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die gebrokenheid van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! --terwyl daar geen vrede is nie."

  7. Valse leringe en leerstellinge word gevoed deur slim mense en skrywers wat aanspraak maak op wysheid en kennis van die Woord, maar in werklikheid die woorde van Yahweh (op ‘n selektiewe manier) verwerp.
  8. Yerm 8:8-9 "Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van Yahweh is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers. Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van Yahweh verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?"

  9. Een van die dinge wat dit geweldig moeilik maak vir mense om uit die greep van leuens los te kom, is die bevestiging wat hulle by selfaangestelde mooiweers-profete kry dat die koers wat hulle ingeslaan het, deur die Almagtige goedgekeur word.
  10. Yerm 14:14-15 "En Yahweh het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gepraat nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart. Daarom, so sê Yahweh: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie—dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom."

  11. Die proses om weg te draai van die valsheid begin daar waar ‘n mens erken dat jy ‘n spul leuens van jou voorouers en voorgeslagte geërf het en dat hierdie leuens geen voordeel vir jou inhou nie, omdat dit op afgodediens gebaseer is.
  12. Yerm 16:19 "O Yahweh, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërwe, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie."

  13. Om te erken dat jou hart van Yahweh afgewyk het beteken om te erken dat jy op die vlees vertrou het en die enigste manier om dit reg te stel is om weer jou vertroue en verwagting volledig in Yahweh te stel – onder meer deur die Shabbat te onderhou (want daardeur gee jy te kenne dat Hy, en nie jou werk nie, sal verseker dat dit met jou goedgaan).
  14. Yerm 17:5; 7-8; 21 "Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van Yahweh afwyk … Geseënd is die man wat op Yahweh vertrou, en wie se vertroue Yahweh is, want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie … Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die dag van die Shabbat en dit inbring deur die poorte van Yerushalayiem nie."

  15. Dit is onmoontlik om jou rug volledig op valsheid te draai as jy nie kan insien dat valse profete dit reggekry het om talle mense die Naam van Yahweh te laat vergeet (ook in die letterlike sin van die woord) deur (of "ter wille van ") Baäl nie.
  16. Yerm 23:26-27 "Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart— is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Ba~al?"

  17. Die mens wat vasgevang was in die greep van misleiding, word verseker dat as hy of sy die keuse maak om die Naam van Yahweh in daardie noodsituasie aan te roep, daar wonderlike dinge sal gebeur, genesing sal plaasvind en duursame vrede sal volg.
  18. Yerm 33:1-3,6 "Verder het die woord van Yahweh vir die tweede keer tot YermeYahu gekom, terwyl hy nog opgesluit was in die voorhof van bewaking, en gesê: So sê Yahweh wat dit doen, Yahweh wat dit formeer om dit te bevestig, Yahweh is sy Naam: Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie … Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede."

  19. Dit is net Yahweh wat die verlore en misleide skape wat hunker om weer versadig te word, na hulle weiveld toe kan terugbring. Dit gebeur op die basis van vergifnis en herstelde geregtigheid in die lewens van ‘n groep mense wat, in vergelyking met die breë spektrum van godsdienstige aktiwiteite in hierdie wêreld, slegs as ‘n oorblyfsel beskou word.

Yerm 50:6;19-20 "‘n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet … En Ek sal Yiesra~el na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Bashan; en sy siel sal op die gebergte van Efrayiem en in Ghiel~ad versadig word. In dié dae en in dié tyd, sê Yahweh, sal die ongeregtigheid van Yiesra~el gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Yehudah, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.