WAAROOR KAN ONS VANDAG NOG SEKER WEES?

  1. Ons kan seker wees dat Yahweh sy afgesonderdes sal verhoor met magtige dade van verlossing. Tehielliem 20:6-7 "Nou weet ek dat Yahweh sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy afgesonderde hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand. Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar ons sal roem op die Naam van Yahweh onse Elohiem."
  2. Ons kan seker wees dat as Yahweh aan ons kant is, geen mens ons enige blywende skade kan aandoen nie. Tehielliem 56:9-11 "Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat Elohiem aan my kant is. Deur Elohiem sal ek die woord prys; deur Yahweh sal ek die woord prys. Ek vertrou op Elohiem, ek vrees nie; wat kan 'n mens my doen?"
  3. Ons kan seker wees dat Yahweh ons Rots en ons Bergvesting wil wees en dat die Een wat Hom vertrou, nie sal wankel nie. Tehielliem 62:6 "Sekerlik, Hy is my rots en my verlossing, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie."
  4. Ons kan seker wees dat Yahweh sonde sal straf en die kop van die Vyand sal vermorsel. Tehielliem 68:21 "Gewis, Elohiem sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel."
  5. Ons kan seker wees dat Yahweh se Naam groot betekenis het en dat Hy alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde. Tehielliem 83:18 "sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam Yahweh is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde."
  6. Ons kan seker wees dat Yahweh se besluite getrou en regverdig is, selfs al bring dit vir ons verdrukking mee. Tehielliem 119:75 "Ek weet, Yahweh, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het."
  7. Ons kan seker wees dat Yahweh diegene ryklik sal seën wat Hom vrees en in sy weë wandel. Tehielliem 128:1-4 "Geseënd is elkeen wat Yahweh vrees, wat in sy weë wandel! Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; geseënd is jy, en dit gaan met jou goed! Jou vrou is soos 'n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat Yahweh vrees."
  8. Ons kan seker wees dat Yahweh groot en almagtig is, verhewe bo elke ander magtige wat daar mag wees. Tehielliem 135:5 "Waarlik, ek weet dat Yahweh groot en onse Meester bo alle magtiges is."
  9. Ons kan seker wees dat Yahweh se werke volmaak is en dat dit gesien kan word in die manier waarop elke unieke indiwidu geskape is. Tehielliem 139:14 "Ek loof U, omdat ek so ontsaglik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed."
  10. Ons kan seker wees dat Yahweh Hom skaar by die ellendiges en die behoeftiges en dat Hy hulle sake sal behartig. Tehielliem 140:12 "Ek weet dat Yahweh die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig."