VAN VREEMDELING TOT KROONDRAER
Regdeur die Voor-Messiaanse Skrifte is daar aanduidings dat die Messias wat sou kom, nie in alle opsigte aan die verwagtinge en die stereotipes van mense sou voldoen nie. Eerstens, die soort redding wat Hy sou bring, sou alle verwagtinge oortref. Kaal heuwels en verwoeste plekke sal tot groen weivelde gemaak word (YeshaYahu 49). Berge en heuwels sal in gejubel uitbreek (YeshaYahu 55). Die gees van die nederiges en die hart van die verbryseldes sal weer lewend gemaak word (YeshaYahu 57). Hulle wat voorheen getreur het en in gevangenskap was en gebrokenheid en armoede geken het, sal die rykdom van die nasies eet en ‘n dubbele deel ontvang (YeshaYahu 61).
Dis egter nie net die Messias se verstommende manier van red wat mense sou verbaas nie. Dis ook sy voorkoms en sy herkoms wat mense sou verbaas. Almal van ons ken die beskrywing van die Messias in YeshaYahu 53 – dat Hy geen begeerlike gestalte of voorkoms gehad het nie; ja, dat mense selfs die gelaat vir Hom verberg het en Hom verag het; dat daar met Hom gehandel is soos ‘n mens sou verwag van iemand wat (weens sy sonde) van Yahweh vervreemd was. Die Messias wat sou kom, sou as vreemdeling na hierdie wêreld kom – in ‘n gedaante wat vir meeste mense VREEMD en onaanvaarbaar sou wees.
In YeshaYahu 28:21 word daar in soveel woorde gesê dat Yahweh gekies het om ‘n "vreemde werk" onder sy mense te doen. "Want Yahweh sal Hom gereed maak soos by die berg Peratsiem; Hy sal aanstorm soos in die dal by Ghievón om sy werk te doen—vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig—ongehoord is sy daad!" Die Hebreeuse woord vir "vreemd" of vir "vreemdeling" is "zar". Toe Kayien (Kain) vir Hevel (Abel) doodgemaak het, het Gawah (Eva) ‘n derde seun (Shet) gebaar en gesê: "Elohiem het my ‘n ander saad geskenk in die plek van Hevel" (Bereshiet 4:25). Die woord vir "ander" is "acher" wat "ander" of "vreemde" kan beteken. Ons het hier alreeds ‘n moontlike verwysing na die Messias wat ‘n vreemde of "ander" gestalte sou inneem as wat die wêreld graag sou wou sien.
In gedeeltes soos Bemiedbar (Numerie) 3:10; 16:40 en 18:17 word sekere take eksklusief aan Aharon en sy (Levitiese) nasate toevertrou en word enige ander persoon, buite die geslag van Levi, as ‘n "vreemdeling" ("zar") beskou wat nie die terrein van die priesters en die Leviete mag betree nie. In die Skrif sien ons egter dat dit deel van die Vader se eie beplanning was dat ‘n "ander geslag" of ‘n "vreemdeling" hierdie beperking sou deurbreek. Dit het reeds met Dawid se salwing as koning duidelik geword. Shemot (Exodus) 30:33 het duidelik bepaal dat die spesiale salwingsolie van die tabernakel nie vir die salwing van nie-Leviete bedoel was nie. Toe Shemuel egter vir Dawid as koning salf (1 Shemuel 16:13), het hy die "horing met olie" geneem wat kennelik die salwingsolie van die tabernakel was, en vir Dawid daarmee gesalf. In die boek Ivriem (Hebreërs) lees ons dat die Messias gekom het as Hoëpriester volgens die orde van Malkitsedek, uit die stam van Yehudah (dus ‘n vreemdeling!), en so die volmaakte priesterlike rol vervul het.
In die Na-Messiaanse Geskrifte kan ons duidelik sien hoedat daar van die begin af ‘n neiging was om die Messias as ‘n "vreemdeling" aan te sien. Toe Filippus op ‘n keer vir Natanél gesê het: "Ons het Hom gevind van wie Mosheh in die wet en die profete geskryf het", was Natanél se reaksie: "Kan daar uit Natsaret iets goeds wees?" (Yahuganan / Joh 1:45-46). Uiteindelik het Natanél Y'shua volledig as die Messias aanvaar, maar sy aanvanklike reaksie was dat dit uiters vreemd was dat die Messias iemand uit Natsaret sou wees. Later in Yahuganan (hoofstuk 7) lees ons dat die Yehudiem tydens ‘n loofhuttefees onder mekaar geredeneer het en ‘n saak daarvoor probeer uitmaak het dat Y'shua nie die Messias kon wees nie, omdat die Messias nie uit Ghaliel (Galilea) sou kom nie. Dit is duidelik dat die woorde van Tehielliem 69:8-9 op die Messias van toepassing was: "Vreemd het ek vir my broers geword en ‘n onbekende vir die seuns van my moeder. Want die ywer vir u huis het my verteer, en die oneer van die wat U onteer, het op my geval." Geen wonder dat die dissipels aan hierdie presiese woorde gedink het toe Y'shua onder die handelaars in die tempel ingevaar het nie (vgl. Yahuganan 2:17).
Dit hoef ons nie te verbaas dat die Messias in die oë van die wêreld as "vreemd" gebrandmerk word nie. Net soos die Messias, word die Torah, of die lering van die Almagtige, ook deur baie as "vreemd" afgemaak. Ons lees hiervan In Hoshea 8:12 "Ek het hom tien duisende leringe van my wet voorgeskryf, maar dit word as iets vreemds ("zar") geag." Hierdie houding teenoor die Torah word telkens in die Skrif weerspieël en is tot vandag toe die een groot rede vir talle mense se ondergang. Dit word treffend uitgespel in Tehielliem 50:16-17 "Maar aan die afvallige sê Elohiem: Waarom praat jy nog oor my insettinge en neem jy my verbond in jou mond — terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?"
Soos ‘n mens kan verwag, hou die "vreemdheid" van die Messias sekere konsekwensies in vir sy volgelinge. As Hy as "vreemdeling" gebrandmerk is, sal hulle beslis ook die etiket van "vreemdelinge" moet dra. Hierdie gevolgtrekking kan alreeds uit YermeYahu 31:10 gemaak word: "Hoor die woord van Yahweh, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Yiesraél verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde." Die woord wat hier met "verstrooi" vertaal word, is "zarah" wat duidelik verband hou met die woord "zar". Volgens die woordeboeke beteken "zarah" die volgende: "to diffuse, to toss about, to disperse". Die woord "diffuse" beteken: "to pour out and spread; to send out and extend in all directions". Nou kan ‘n mens verstaan waarom die Skrif sê dat Yahweh gekies het om ‘n "vreemde" werk te doen. Sy "vreemde" werk sluit onder meer dat sy mense as "vreemdelinge" in alle uithoeke van hierdie wêreld versprei sou word, sodat sy (vreemde) Woord ook op so ‘n manier versprei kan word. Sodat mense "in die vreemde" ook sy blye boodskap kan hoor en die Messias waarlik kan leer ken.
Terwyl hulle hier op aarde is, sal die ware volgelinge van die Messias altyd vreemdelinge en bywoners wees (Hand 7:6; Ivriem 11:9; Efesiërs 2:19; 1 Kefa / Petrus 2:11). Hulle is deel van ‘n wêreld wat ander norme volg, volgens ander reëls leef en ‘n ander meester dien. Daarom is hulle woning hier nie permanent nie, net soos die Messias se woning hier nie permanent was nie (Yahuganan 1:14 – letterlik: "die Woord het vlees geword en onder ons tent opgeslaan"). Alhoewel die wêreld hulle leefruimte uitmaak, is hulle nie van hierdie wêreld nie, net soos die Messias ook nie van hierdie wêreld was nie (Yahuganan 17:16). Hulle hoop is nie op hierdie wêreld gerig nie; hulle verwagting is nie van die mense van hierdie wêreld nie; hulle vertroue is nie op die skemas en die prestasies van hierdie wêreld nie.
Die interessante is dat daar ‘n woord in Hebreeus is wat verwant is aan "zar" wat "kroon" beteken. Dit is die woord "zer" wat in die beskrywing van die ark van die verbond in Shemot 25:11 voorkom, wat tot eer van Yahweh gebou moes word. Die "zer" was die goue "kroon" of "omhulsel" – die raamwerk (Engels: "moulding") wat as’t ware die ark omlyn het en waarbinne die versoendeksel gepas het. Dis nie moeilik om in te sien dat hierdie "kroon" heenwys na die kroon wat die Messias sou dra nadat Hy deur sy bloed versoening vir die sondes van hierdie wêreld gebring het nie. Daar is ‘n ou Joodse tradisie wat sê dat Israel se derde kroon is die kroon van Dawid. Wat ons egter moet verstaan, is dat niks hiervan moontlik sou wees as ons die elemente van vreemdelingskap, en verstrooiing ("scattering") buite rekening probeer laat nie. Die muntstuk het egter ook ‘n ander kant: Mense wat van Yahweh vervreemd geraak het omdat sonde hulle van Hom af weggedryf het, kan nie anders as deur die Messias – die een wat ter wille van ons ‘n "vreemdeling" geword het – weer na Yahweh toe terugkeer nie. Hy wat nie deur hierdie deur wil ingaan nie, sal altyd ‘n vreemdeling bly.