VEEL MEER AS NET ‘N FEES

As iemand vir ons sou vra: "Waarom steur julle julle aan voorskrifte uit ‘n tyd lank gelede en hou julle vandag nog dieselfde feeste as wat Israel 3500 jaar gelede gehou het?" sal meeste van ons instinktief hierop antwoord: "Want die Woord sê ons moet dit hou!" Dis natuurlik wáár en die belangrikste rede waarom ons die feeste hou is omdat dit ‘n opdrag van die Woord is. ‘n Opdrag van Yahweh kan nie net geïgnoreer word nie. Ons erken Yahweh en sy Woord as die hoogste outoriteit wat daar is en gooi nie sekere dele van die Woord weg net omdat sommige mense die fabelagtige boodskap verkondig dat die opdragte van die eerste duisend bladsye van die Woord nie meer op ons van toepassing is nie.

Laat ons egter nooit die fout maak om te dink dat die feeste bloot iets is wat ‘n mens moet hou en agter die rug kry, sodat jy weer so gou as moontlik kan aangaan met jou lewe nie. Jy hou dit met ander woorde net vir een rede – en dit is omdat jy nie ongehoorsaam aan die Woord wil wees nie. Maar in jou hart is daar ‘n swarigheid en selfs ‘n stuk rebelsheid, want jou hele wese vind nie juis aanklank by die gedagte aan so ‘n geleentheid nie en jy sien en ervaar geen voordeel wat die fees andersins vir jou inhou nie. As daar miskien nog iemand is wat vandag, op die vooraand van die fees van Shavuot, só voel, het dit tyd geword dat ons weer ‘n slaggie goed gaan kyk na wat die Skrif vir ons in hierdie opsig leer. ‘n Goeie vertrekpunt is om na drie gedeeltes in die tweede boek van Divre Hayyamiem (2 Kronieke) te gaan kyk:

2 Kronieke 5:1-3 en 11-14 2 Kronieke 7:9-16 2 Kronieke 30:22-27

Hierdie gedeeltes is merkwaardig, om die minste daarvan te sê. In al drie gedeeltes word beskryf hoe een van die voorgeskrewe feeste van die Woord gehou word. In die eerste twee gedeeltes is die fees gehou in kombinasie met die inwyding van die tempel. Al die stamhoofde was daar en al die familiehoofde en al die oudstes, en die hele volk. Ook al die priesters en Leviete – of dit nou hulle beurt was om diens te doen, of nie. Tesame met trompetblasers en sangers en musikante met simbale, harpe en siters. Uit een mond en uit een hart het hulle Yahweh geloof en sy Naam groot gemaak met sang en musiek. En dan lees ons: "Toe is die huis, die huis van Yahweh, vervul met 'n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die ligglans van Yahweh het die huis van Elohiem vervul." Stel jou voor: ‘n Byeenkoms waar ‘n skare mense saam is om hulle afspraak met Yahweh na te kom en daar is ‘n teenwoordigheid van Yahweh wat so sigbaar en tasbaar is dat die bedienaars nie kan regop staan om hulle diens te doen nie! Klink vir my na die belewenis van ‘n leeftyd!

In die derde gedeelte word Pesag gehou in die tyd van GiezkiYah, die koning van Yehudah. In baie opsigte was dit nie ‘n gewone fees nie. Daar was buitengewone omstandighede betrokke en die fees word in die tweede maand (in plaas van die eerste maand) gehou. Almal kon hulle ook nie reinig en afsonder voor die fees soos wat dit voorgeskryf is nie, maar GiezkiYah het ‘n spesiale gebed tot Yahweh gerig. Yahweh, wat almal se harte ken, keur die fees goed en besoek die volk tydens daardie fees op ‘n manier wat totaal ongekend en ongehoord was. Daar vind genesing plaas op daardie fees. Daar vind verhoring van gebed plaas. Daar vind ‘n wonderwerk plaas, want vir die eerste keer in jare kom mense uit beide die twee ryke – beide die Noordelike ryk (Yiesraél of Efrayiem) en die Suidelike ryk (Yehudah) saam in Yerushalayiem om fees te vier. Daar is ‘n blydskap onder die mense wat meeste van hulle nog nooit beleef het nie. GiezkiYah praat na die hart van die mense en openbaar deeglike kennis in die saak van Yahweh (vers 22) en die volk word só verstek dat hulle besluit om nog sewe dae lank fees te vier!

Wat sê die res van die Skrif oor die gevolge en die vrug van die feeste in gelowiges se lewens?

1. Feeste is tye van herinnering en besondere blydskap. Exo 12:14 En hierdie dag moet vir julle 'n herinneringsdag wees, en julle moet dit as 'n fees tot eer van Yahweh vier. Julle moet dit in julle geslagte as 'n ewige insetting vier. Num 10:10 Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in herinnering te bring voor die aangesig van julle Elohiem. Ek is Yahweh julle Elohiem.

2. Feeste dek die tafel vir groot deurbrake in ons lewens. Exo 34:24 Want Ek sal nasies voor jou uitdryf en jou grondgebied uitbrei, sodat niemand jou land sal begeer nie terwyl jy opgaan om te verskyn voor die aangesig van Yahweh jou Elohiem, drie maal in die jaar.

3. Feeste bring ons op besondere wyse in aanraking met die seën van Yahweh. Deu 16:15 Sewe dae lank moet jy vir Yahweh jou Elohiem fees hou op die plek wat Yahweh sal uitkies; want Yahweh jou Elohiem sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.

4. Feeste is spesiale geleenthede om aan Yahweh eer toe te bring. Exo 13:6 Sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar fees tot eer van Yahweh. Exo 23:19 Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van Yahweh jou Elohiem bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.

5. Feeste bemoedig en versterk gelowiges soos min ander dinge. 1Ko 8:66 Op die agtste dag het hy die volk laat gaan, en hulle het die koning geseën en na hul tente gegaan, verheug en opgeruimd oor al die goeie dinge wat Yahweh aan sy kneg Dawied en sy volk Yiesraél gedoen het.

6. Feeste bring ons tot rus sodat Yahweh kan begin werk. Ezr 6:22 Hulle het ook die Fees van die Ongesuurde Brode met blydskap sewe dae lank gehou; want Yahweh het hulle verbly en die hart van die koning van Ashur na hulle omgewend, om hul hande te versterk in die werk aan die huis van Elohiem, die Elohiem van Yiesraél.

7. Feeste is Yahweh se manier om ons trane, gebrokenheid en oneer weg te neem.

Kla 2:6 en 11 En Hy het sy eie omheining soos 'n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes; Yahweh het in Tsion feestyd en Shabbat laat vergeet, en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp … My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die gebrokenheid van die dogter van my volk, omdat kind en suigeling op die pleine van die stad versmag. Zef 3:18-19 Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek; hulle hoort by jou, die oneer druk swaar op hulle. Kyk, in daardie tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was.

8. Feeste is waar Yahweh mense se harte weer na Hom toe laat terugkeer. Hand 2:37-41 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Kefa en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broers? En Kefa sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Y'shua die Messias tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Afgesonderde Gees ontvang … Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op daardie dag omtrent drie duisend siele toegebring.