DIE VERSTOMMENDE ONGELOOF VAN HIERDIE VOLK
Die volk van Israel (Yiesraél) word allerweë beny omdat dit die één volk is wat Yahweh, die Almagtige, oor eeue heen met sy guns en met sy kragtige dade besoek het – die één volk wat bo alle ander uitgekies is en wat reeds sowat 3800 jaar lank die voorreg geniet om eksklusief as "volk van Yahweh" bekend te staan. Soms wonder ‘n mens: Wat maak húlle so spesiaal? Hoekom Yiesraél en nie die Engelse of die Franse of die Malawiërs of die Suid-Afrikaners nie? Miskien sou meeste ander volke beter gevaar het as draers van die titel "Volk van Yahweh" as hierdie hardnekkige, eiesinnige en murmurerende volkie wat uit die staanspoor nog net veragting en vervolging en opposisie beleef het en seker nog nooit een enkele dag kon sê nie: Ons het ‘n duidelik gedefinieerde land wat net aan ons behoort en al die ander nasies van die wêreld gun dit vir ons om in vrede in hierdie land te woon.
Feit bly staan: Dis vir Yiesraél wat Yahweh uitgekies het. Nie omdat hulle so groot of so magtig of indrukwekkend was nie. Maar juis omdat hulle in die oë van die wêreld so onbeduidend en selfs veragtelik is – sodat Hý sy groot dade in hulle midde kan doen en deur die wel en die wee van hierdie hierdie volkie kan demonstreer dat dit Hý is wat mense spesiaal en suksesvol en geseënd maak, nie die prestasies wat mense deur hulle eie vermoëns bereik het nie.
Teen hierdie agtergrond is dit absoluut verstommend dat juis hierdie volk deur die geskiedenis heen so knaend hulle rug op Yahweh gedraai het en sy opdragte en voorskrifte verwerp het. ‘n Mens begryp dit beswaarlik dat ‘n volk wat kort-kort bo-natuurlike wonderwerke in hulle midde aanskou en talle kragtige bevestigings beleef dat Yahweh aan hulle kant is, nog steeds so sukkel om Yahweh en sy Woord eerste te stel in hulle lewens. Die ou profete van Yiesraél het net so swaar gekry om dit te verstaan. Die ongeloof van hulle eie volk het hulle telkens verstom – soveel so dat hulle dikwels met afkeer van die volk gepraat het as "hierdie volk". Nie "my volk" of "my mense" of "u volk" nie, maar "hierdie volk" (Hebreeus: "haám hazeh") – hierdie ongehoorsame, hardnekkige, halstarrige, ongelowige volk wat net nie kan volhou om aan Yahweh, hulle goedgunstige en uiters verdraagsame, maar ook regverdige Elohiem, getrou te bly nie. Kom ons kyk na ‘n paar gedeeltes waar die profete (en in sommige gevalle, Yahweh self) verbasing en verstomming uitgepsreek het oor die ongeloof van "hierdie volk".
YeshaYahu 6:9-10
En Hy het gesê: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor voortdurend, maar verstaan nie, en sien voortdurend, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore toe en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.YeshaYahu 8:11-13
Want so het Yahweh met my gepraat toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde: Julle mag nie alles 'n komplot noem wat hierdie volk 'n komplot noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Yahweh van die leërskare - Hom moet julle afsonder, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!YeshaYahu 28:14
Daarom, hoor die woord van Yahweh, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Yerushalayiem is! Omdat julle sê: Ons het 'n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons 'n verdrag aangegaan; as die golwende gesel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek - daarom, so sê die Meester Yahweh: Kyk, Ek lê in Tsion 'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.YeshaYahu 29:13-14
En Yahweh het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.Yerm. 5:23-24
Maar hierdie volk het 'n oproerige en rebelse hart, hulle het afgewyk en weggegaan; en hulle het nie in hul hart gesê nie: Laat ons tog Yahweh onse Elohiem vrees, wat reën gee, vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd, wat vir ons die vasgestelde weke van die oes in stand hou.YermeYahu 6:19-20
Hoor, aarde! Kyk, Ek bring rampspoed oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my Torah, dit het hulle verwerp. Waarom sou daar tog vir My wierook uit Sheva kom en die kosbare kalmoes uit 'n ver land? Julle brandoffers is nie aanvaarbaar nie, en julle slagoffers is My nie aangenaam nie.YermeYahu 23:30-32
Daarom, kyk, Ek het dit teen die profete, sê Yahweh, wat my woorde steel, die een van die ander. Kyk, Ek het dit teen die profete, sê Yahweh, wat hulle eie tong gebruik en sê: Yahweh praat! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, sê Yahweh, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, sê Yahweh.YermeYahu 33:24-26
Het jy nie gemerk wat hierdie volk praat nie as hulle sê: Die twee geslagte wat Yahweh uitverkies het, hulle het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie. So sê Yahweh: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie, dan sal Ek ook die nageslag van Yaákov en van my kneg Dawied verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Avraham, Yietsgak en Yaákov nie; want Ek sal hulle nood verander en My oor hulle ontferm.Gaghai 1:2-4
So sê Yahweh van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van Yahweh gebou moet word nie. So het die woord van Yahweh dan gekom deur die diens van die profeet Gaghai en gesê: Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?MAAR TEN SPYTE VAN DIT ALLES:
ZegarYah 8:6-8
So sê Yahweh van die leërskare: As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in daardie dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees? sê Yahweh van die leërskare. So sê Yahweh van die leërskare: Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste en hulle aanbring; en hulle sal midde-in Yerushalayiem woon. Dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n Elohiem wees, in trou en geregtigheid.