WAT BETEKEN VERTROUE OP YAHWEH?

  1. Vertroue op Yahweh, die Elohiem van Yiesrael, laat jou uitstyg bokant hulle wat hulle vertroue op aardse dinge en mense stel – 2 Melagiem / Konings 18:5 "Hy (GiezkiYah / Hiskia) het op Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, vertrou, sodat onder al die konings van Yehudah na hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie."
  2. Vertroue op Yahweh is meer as net lippetaal en is die bron van die soort raad en dapperheid wat ons vir die aanpak van enige taak nodig het – 2 Melagiem 18:20-22 "Dink jy dat net lippetaal raad en dapperheid vir die oorlog is? Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom? Kyk nou, jy vertrou op daardie geknakte rietstok, op Mietsrayiem, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Mietsrayiem, vir almal wat op hom vertrou. Maar as julle vir my sê: Ons vertrou op Yahweh onse Elohiem - is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare GiezkiYah verwyder het nie deur aan Yehudah en Yerushalayiem te sê: Voor hierdie altaar in Yerushalayiem moet julle buig?"
  3. Vertroue op Yahweh kom makliker vir diegene wat sy Naam ken, omdat hulle geleer het dat Hy waarlik ‘n rotsvesting in tye van nood is – Tehielliem / Psalms 9:9-10 "So is Yahweh dan 'n rotsvesting vir die verdrukte, 'n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Yahweh!"
  4. Vertroue op Yahweh is dit wat maak dat van die geringstes tot die grotes altyd rede vind om hulle te verbly en nooit wankel nie – Tehielliem 21:6-7 "Want U maak hom baie geseënd vir ewig; U maak hom bly met vreugde by u aangesig. Want die koning vertrou op Yahweh, en deur die goedertierenheid van die Allerhoogste sal hy nie wankel nie."
  5. Vertroue op Yahweh is om sy Naam voortdurend te besing en aan te roep, in die seker wete dat Hy jou nie in die steek sal laat nie – Tehielliem 22:3-5 "Tog is U die Afgesonderde wat woon onder die lofsange van Yiesraél! Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie."
  6. Vertroue op Yahweh is om sewe dinge te bely: (1) U is my Elohiem (2) My tye is in u hand (3) U is my redder (4) U laat u aangesig oor my skyn (5) U guns is oor my lewe (6) U laat my nie beskaamd staan nie (7) U is die een wat ek vrees en by wie ek skuil – Tehielliem 31:14-19 "Maar ek vertrou op U, o Yahweh! Ek sê: U is my Elohiem. My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers. Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid. Yahweh, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die afvallige beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk. Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd praat teen die regverdige. o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die seuns van Adam."
  7. Vertroue op Yahweh laat die "Ek móét" in my lewe na "Ek wíl" verander: (1) Ek wil sy lof besing (2) Ek wil sy wonders verkondig en dit uitspreek (3) Ek wil sy welbehae doen en sy wet gehoorsaam – Tehielliem 40:3-8 "En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse Elohiem. Baie sal dit sien en vrees en op Yahweh vertrou. Geseënd is die man wat sy vertroue in Yahweh stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie. Groot dinge het U gedoen, Yahweh my Elohiem - u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel. U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my Elohiem, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande."
  8. Vertroue op Yahweh is die sleutel tot ware seën uit die Vader se hand – nie net vir Yiesraél nie, maar vir almal wat Yahweh vrees – Tehielliem 115:9-13 "Yiesraél, vertrou op Yahweh: Hy is hulle hulp en hulle skild! Huis van Aharon, vertrou op Yahweh: Hy is hulle hulp en hulle skild! Julle wat Yahweh vrees, vertrou op Yahweh: Hy is hulle hulp en hulle skild. Yahweh het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Yiesraél seën, Hy sal die huis van Aharon seën. Hy sal diegene seën wat Yahweh vrees, die kleintjies saam met die grotes."
  9. Vertroue op Yahweh bied ‘n soort vastigheid en permanensie wat nêrens anders op aarde te vinde is nie – Tehielliem 125:1-2 "Die wat op Yahweh vertrou, is soos die berg Tsion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid. Rondom Yerushalayiem is berge; so is Yahweh rondom sy volk van nou af tot in ewigheid."
  10. Vertroue op Yahweh is die grootste motivering waarom ons die Woord en die onderwysing van die Torah bestudeer – Mieshleh / Spreuke 22:17-19 "Gee gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis. Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê op jou lippe. Dat jou vertroue op Yahweh mag wees, daarom onderwys ek jou vandag, ja, vir jou."
  11. Vertroue op Yahweh is die vaste oortuiging dat Yahweh alles DOEN en alles IS wat vir ons verlossing nodig is – YeshaYahu / Jesaja 12:2 "Ja, El is my verlossing, ek sal vertrou en nie vrees nie; want Yah Yahweh is my krag en my psalm, en Hy het my tot verlossing geword." [In die Hebreesue teks word die Naam van die Vader in drie verskillende vorme direk na mekaar gemeld, om hierdie waarheid te beklemtoon.]
  12. Vertroue op Yahweh is die enigste sinvolle alternatief vir iemand wie se lewe soos ‘n kaal bos in die wildernis isYermeYahu / Jeremia 17:5-7 "So sê Yahweh: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van Yahweh afwyk. En hy sal wees soos 'n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, 'n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op Yahweh vertrou, en wie se vertroue Yahweh is."