VERTROU NIE OP PRINSE NIE
Met die dood van Pous Johannes Paulus II die afgelope week en die geweldige reaksie wat dit wêreldwyd ontlok het, is ‘n mens opnuut gekonfronteer met die waarheid dat mense van nature geneig is om hoop, bemoediging en geestelike geborgenheid in mense en menslike strukture te probeer vind. Dit word onder meer bevestig deur die groot ophef wat die media van die pous se dood gemaak het, die emosie-belaaide reaksie van miljoene mense reg oor die wêreld – of hulle nou Rooms Katoliek is of nie – en helaas, die geweldige omvang van die begrafnis in die Vatikaanstad, wat reeds as die "grootste en omvangrykste in menslike heugenis" beskryf is. ‘n Mens kan nie help nie om jouself daaraan te herinner dat dit maar net ‘n mens van vlees en bloed is wat gesterf het en dat die Skrif (in Tehilliem / Psalm 146:3,4) perspektief bring met die woorde: "Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen redding is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan …"
Ironies genoeg, dit is juis die geskiedenis van die Rooms Katolieke Kerk (RKK) wat oor en oor bewys dat dit fataal is om jou vertroue op prinse (en pouse) te plaas. Die woord "pous" (Engels: "pope", "papacy" is afgelei van die Latynse woord "papa" wat "vader" beteken. Op ‘n wyse wat indruis teen die beginsel van Matt 23:9 ("En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is) het die RKK van die vroegste tye af geglo dat hulle leier ‘n "papa" is, omdat hy kragtens Matt 16:18-19 ‘n gemagtigde en amptelike opvolger van Petrus is. In Matt 16:18-19 staan daar: "En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus (meer korrek: Kefa), en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees".
Miskien moes die RKK van die begin af kennis geneem het wat met "Petrus" self, wie se naam in werklikheid eers "Shimon" was en toe na "Kefa" (nie die Griekse vorm "Petrus") verander is, gebeur het toe hy sy vertroue op homself geplaas het en nie sy hoop, soos Tehilliem 146:5 aandui, in Yahweh sy Elohiem gestel het nie. Anders as Kefa het die RKK die Messias, as gevolg van ‘n misplaaste vertroue op mense en menslike strukture, baie meer as net drie maal verloën …
Een van die titels van die pous is "Vicar of Christ". Die woord "vicar" kom van ‘n Latynse woord wat te make het met die begrip "plaasvervanging". Die bedoeling is dus dat die pous vir mense ‘n verteenwoordiger, ja, selfs ‘n plaasvervanger van die Messias moet wees. Geen wonder dat die geskiedenis aandui dat uitsprake van die pous dikwels as "onfeilbaar" en "onherroeplik" beskou is nie. En dat die pous en sy verteenwoordigers selfs die mag ontvang om sondes te vergewe of om mense uit die kerk, en sodoende ook uit die koninkryk van die hemele te verban nie. ‘n Alternatiewe titel vir die pous is "Vicar of Peter". Die impak van hierdie titel het vroeg in die geskiedenis van die RKK reeds duidelik na vore gekom toe die bekende Pous Leo I, ook genoem Leo die Grote, in die 5 de eeu ‘n amptelike uitspraak oor die twee nature van die Messias gemaak het. Die bekende en deurslaggewende Sinodesitting van Chalcedon in 451 het Pous Leo se uitspraak in hierdie verband as volg beskryf: "Peter has spoken through Leo".
Soms word die pous ook genoem: "Supreme pontif of the universal Church". Die woord "pontif" (en "pontifex") hou verband met die Latynse woord "pons" wat "brug" beteken. Met hierdie titel word daarop gesinspeel dat die pous ‘n soort brug of "hoëpriester" tussen mense en die Allerhoogste is. Hierdie konsep is so diep in mense se godsdienstige bewussyn ingegraveer dat daar in meeste van die godsdienste vandag nog die opvatting bestaan dat gewone mense ‘n "heilige" of ‘n "gevolmagtigde" van ‘n erkende kerk of godsdiens nodig het om met die Allerhoogste in aanraking te kan kom. Die getuienis van die Skrif is egter dat Y'shua die Messias ons enigste Hoëpriester is, dat Hy die enigste is wat deurgemaak het wat ons deurmaak, maar sonder sonde is, wat boonop die hemele deurgebreek het en deur wie ons dus met vrymoedigheid na die troon van Yahweh kan gaan, sodat ons guns kan verkry en op die regte tyd gehelp kan word (Ivriem / Hebreërs 4:14-16).
Net soos Pous Leo die Grote is ander lede van die pousdom deur die geskiedenis heen as gevolmagtigde en "volbloed" verteenwoordigers van Kefa en die Messias gesien. Dit is nie duidelik hoe hierdie sogenaamde "verteenwoordiging" volgehou word teen die agtergrond van die bedenklike praktyke waarby talle van hierdie pouse betrokke geraak het nie. ‘n Mens dink hier aan die praktyk van Inkwisisie (Engels: Inquisition) wat gemik was teen sogenaamde "heretics" en wat dikwels met onderdrukking en marteling gepaard gegaan het en aan die Kruistogte (Engels: Crusades) wat vanaf die begin van die 12 de eeu plaasgevind het. Volgens Encarta was die Kruistogte "military expeditions undertaken by Western European Christians beginning in 1095, usually at the request of the pope, to recover Jerusalem and the other places of pilgrimage in Palestine (now in Israel and Palestine) known to Christians as the Holy Land from Muslim control." Derduisende mense is in die naam van die pous en die kerk gedood oor ‘n periode wat etlike eeue lank aangehou het.
Pous Johannes Paulus II het in die jaar 2000 iets gedoen wat nog nooit tevore deur enige van sy voorgangers gedoen is nie. Hy het namens die RKK apologie aangeteken vir die sondes van die RKK wat oor 2000 jaar gedoen is. Hy het hierdie sondes in 7 kategorieë verdeel: (1) Algemene sondes; (2) Sondes in diens van die waarheid - In hierdie kategorie word die Kruistogte en die Inkwisisie ingesluit en word dit as’t ware verskoon omdat dit "in diens van die waarheid" plaasgevind het; (3) Sondes teen Christelike eenheid; (4) Sondes teen die Jode; (5) Sondes uit disrespek vir liefde, vrede en kulture; (6) Sondes teen die waardigheid van vroue en minderhede; (7) Sondes teen menseregte.
‘n Mens kan met reg dit waag om ‘n vraag of twee te vra na aanleiding van hierdie lysie. Wat word bedoel met "algemene sonde"? Sluit dit byvoorbeeld die oortreding (of die verandering) van die vierde gebod (oor die Shabbat) in? Watter soort "waarheid" is so sterk dat dit sekere soort sondes "verskoon" – is dit die waarheid wat suiwer op Yahweh se Woord gebaseer is, of is dit die waarhede wat deur kerklike tradisie (en uitsprake van die pous) bepaal word? Watter soort "eenheid" is hier ter sprake – eenheid sonder waarheid of eenheid in waarheid? Word die verwerping van die Shabbat en die feeste ook beskou as sonde teen die Jode? Is dit ‘n vorm van disrespek vir ander kulture as jy hulle afgode nie volledig wil aanvaar nie? En watter regte is belangriker – menseregte of Yahweh se regte?
Hoe prysenswaardig dit ook al is dat ‘n Pous van die RKK die moed gehad het om so ‘n apologie in die openbaar aan te teken, is dit moeilik om te sien dat hierdie aankondiging enige noemenswaardige verskil gemaak het. Daar is minstens twee soorte sonde wat nie in hierdie lysie voorkom nie: (1) Sonde teen die Almagtige, sy Naam, sy Woord, sy Waarheid, sy Gebooie en sy Geregtigheid; en (2) die Sonde om jou vertroue op mense en menslike strukture te plaas. Of dit ‘n verskil sou maak as hierdie sondes ingesluit was by die pous se lysie, weet ek nie. Om dinge wat verkeerd is op ‘n lysie neer te skryf en in die openbaar aan te kondig, sal nie ‘n verskil maak as dit nie eers in mense se harte posvat nie. Net so min as wat dit die afgelope 2000 jaar ‘n verskil aan die wêreld gemaak het dat die grootste en bekendste kerk indrukwekkende, openbare uitsprake gemaak het oor terrorisme en aborsie en vigs en talle ander sosiale kwessies, maar in sy wese ‘n roete ingeslaan het waarin daar na mense en menslike strukture gekyk en geluister word en nie na Yahweh en sy Woord nie.