KEN JY DIE VERVULLING VAN DIE WOORD?
"Om te vervul" of "om vervuld te wees" in die Hebreeuse denke beteken "to satisfy" (or "be satisfied"); "to accomplish" (or "be accomplished"); to complete (or "be completed"); "to confirm" (or "be confirmed"); "to make whole" (or "be whole"); "to fill up" (or "be full") en "to perform satisfactorily". Hierdie begrip speel n baie belangrike rol reg deur die Skrif en verwoord iets van die volheid, oorvloed, vrede en seën wat die Almagtige van die begin af vir sy volk in gedagte gehad het.
Soms word die gedagte van "vervulling" in n uiters negatiewe sin in die Skrif gebruik. In Bereshiet 6:11 lees ons: "Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van Elohiem, en die aarde was vol (letterlik: vervul met) geweld." In Ezra 9:11 staan daar: "Die land waar julle inkom om dit in besit te neem, is n onrein land vanweë die onreinheid van die volke van die lande, deur hulle gruwels waarmee hulle dit van die een end tot die ander vervul het in hulle onreinheid." Ook indiwidue kan vervul wees met emosies en gedagtes wat uiteindelik n vernietigende uitwerking kan hê. Ester 5:9: "En op dié dag het Haman bly en opgeruimd heengegaan; maar toe Haman Mórdegai in die poort van die koning sien en dat hy nie opstaan of vir hom bevrees is nie, was Haman met woede vervul teen Mórdegai." Nog n voorbeeld is Tehielliem (Psalm) 10:7: "Sy mond is vervul met vloek en bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg." So ook Mishleh (Spreuke) 12:21: "Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die afvallige is vol (letterlik: "vervul met") teëspoed." Dit is duidelik dat iets wat jou vervul, jou hele lewe in beslag neem. As dit iets is wat goed en opbouend is, sal dit sonder twyfel n positiewe, heilsame uitwerking op jou hele lewe hê. As dit egter iets is wat boos, krities en liefdeloos is, sal dit n negatiewe en vernietigende uitwerking op jou lewe hê (soos in die geval van Haman wat uiteindelik aan sy eie galg opgehang is).
Die wêreld waarin ons vandag leef, vertoon opvallende ooreenkomste met die wêreld kort na die sondeval (vgl. "die aarde was vervul met geweld"), asook die land van die Yisraeliete in die tyd van die ballingskap (vgl. "n onrein land deur gruwels van die een end tot die ander end vervul"). Almal van ons gaan gebuk onder hierdie neerdrukkende klimaat rondom ons. Ons ervaar dit aan ons eie lyf en ons word onwillekeurig daardeur beïnvloed dit is immers nie iets wat sporadies voorkom nie; nee, dit is iets wat die wêreld van ons dag van hoek tot kant vervul. Die groot vraag is: Is daar n manier om te midde van hierdie negatiewe klimaat op koers te bly, vrede te ervaar en selfs so te lewe dat dit kan bydra om n klimaatsverandering teweeg te bring? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons uitkom by dit wat die Skrif in n positiewe sin oor "vervul" te sê het.
Direk nadat Yahweh sy wette en insettinge vir Mosheh gegee het, het Hy duidelik aangedui hoedat die volk kon verseker dat hulle nie in n spiraal van ellende, siekte, frustrasie en neerslagtigheid beland nie. Ons lees daarvan in Shemot (Exodus) 23:20-26: "Kyk, Ek stuur n Boodskapper voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. Want my Boodskapper sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Getiete en Periziete en Kena~aniete, Gewiete en Yevusiete; en Ek sal hulle vernietig. Jy mag jou voor hulle magtiges nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan. En julle moet Yahweh julle Elohiem dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder. Daar sal in jou land niemand wees wat n miskraam gehad het of n onvrugbare is nie. Ek sal die getal van jou dae vervul." Kortliks kom hierdie belofte daarop neer dat as Yisrael na Yahweh sou luister en sy opdragte uitvoer, sou Hy die getal van hulle dae vervul. Wat beteken dit? Dit beteken eenvoudig dat Hy sal toesien dat hulle lewe nie kortgeknip word deur n ontydige dood nie (soos wat uiteindelik gebeur het met die oorgrote meerderheid van volk wat gehoop het om in die Beloofde Land in te gaan: weens ongehoorsaamheid is hulle dood voordat hulle die land kon binnegaan). Wanneer Yahweh die getal van ons dae vervul, is dit soos die vervulling van n belofte: die belofte dat as ons Hom dien en gehoorsaam en liefhet, Hy aan ons n lang en vol (geseënde nie "moeitevrye" nie) lewe sal gee.
Die interessante is egter dat dit nie net Yahweh is wat sal vervul nie. Yisrael (ons) moet ook vervul. Wat moet ons vervul? Ons moet sy opdragte en sy lering (sy Torah) vervul. Wat beteken vervul in hierdie konteks? Dit beteken "to accomplish" en "to perform satisfactorily". Van Kalev word in Bemiedbar 14:14 gesê dat hy volhard het om Yahweh te volg en dat hy daarom (in teëstelling met die res van die volk) die beloofde land sou binnegaan. Letterlik staan daar dat Kalev Yahweh vol-uit of heelhartig gevolg het. Die woord wat hier vir vol-uit gebruik word, is "maleh" dieselfde woord wat normaalweg met "vervul" vertaal word, soos wanneer daar gesê word dat Yahweh sy beloftes sal vervul. Wat het Kalev dus gedoen wat hom van die res van Yisrael onderskei het, is dat hy Yahweh se opdragte vervul het. Hy het nie halfpad omgedraai en n ander koers gekies nie daarom het Yahweh ook sy belofte vervul om hom n aandeel aan die Beloofde Land te gee. Meer as dit: Yahweh het letterlik die getal van Kalev se dae vervul, want in Yahushua 14:10-11 getuig Kalev self teenoor Yahushua (die enigste ander oorlewende onder diegene wat uit Mietsrayiem weggetrek het): "En nou, kyk, Yahweh het my laat lewe, soos Hy gepraat het, nou al 45 jaar sedert Yahweh hierdie woord met Mosheh gepraat het toe Yiesra~el in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag 85 jaar oud; ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Mosheh my uitgestuur het."
Die enigste een buiten Kalev wat Yahweh se opdragte in die woestyn-periode vervul het, was Yahushua (Mosheh se opvolger). Hierdie Yahushua was n duidelike voorloper van Yah(u)shua wat baie eeue later as Messias na hierdie wêreld sou kom. Sou Y'shua die Messias ook die Torah en die opdragte van Yahweh vervul? Ja, hy sóú, sonder enige twyfel! Die Messias self het onomwonde verklaar dat Hy nie gekom het om die wet of die profete te ontbind nie, maar om dit te vervul (Matt 5:17). Beteken vervul in hierdie konteks iets anders as wat dit beteken het in die tyd van Kalev en Yahushua, die opvolger van Mosheh? Nee, beslis nie. Die Messias het gekom om dit wat in die wet en die profete geskryf staan, te doen. Volledig te doen sonder om een jota of titteltjie daarvan weg te laat. Want geen jota of titteltjie van die wet sal verbygaan (of geskrap word) voordat die hemel en die aarde nie verbygaan nie (Matt 5:18). En elkeen wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele (Matt 5:19). Daar is niks dubbelsinnig en vaag aan hierdie duidelike uitspraak van die Messias nie.
Kom ons keer terug na die vraag wat ons reeds in die opskrif van hierdie stuk gevra het: "Ken jy die vervulling van die Woord?" Die Skrif praat ook van hierdie "vervulling" as "shalom" om volkome te wees; om voorspoedig te wees; om geseënd te wees. Is dit moontlik om hierdie vervulling te ken as ek nie die ander kant van die muntstuk die vervulling van die Torah ken nie? Is dit moontlik om self die Torah te vervul en daarmee saam Yahweh se belofte van vervulling te ervaar, as ek volhou Y'shua het die Torah vervul deur dit te beëindig? Ons kom hier te staan voor die een saak wat sal bepaal of ons self vervulling sal ken, of nie. Volgens die Skrif sal Yahweh nie ons lewens vervul nie en ook nie sy beloftes vervul nie, as ons nie in die minste die begeerte het om sy woord en sy lering (d.w.s. sy Torah) en sy wil te vervul nie. En die tragiese is dat Satan dit reggekry het om derduisende mense oor baie eeue te laat glo dat die Messias die Torah nietig verklaar het en dat ons dit nie meer hoef te vervul nie! Geen wonder die wêreld word al hoe meer vervul met geweld, wetteloosheid, vyandskap en uitsigloosheid.
In YeshaYahu 61:10 vind ons n treffende en beeldryke beskrywing van die soort vervulling wat Yahweh vir sy volk wil bied: "Ek is baie bly in Yahweh, my siel juig in my Elohiem; want Hy het my beklee met die klere van verlossing, my in die mantel van geregtigheid gewikkel soos n bruid wat haar versier met haar juwele." Hierdie beeld van Yisrael as die bruid wat sierlik beklee word vir haar ontmoeting met die Bruidegom, kom dikwels in die Skrif voor. Die woord wat hier (en elders) vir "bruid" gebruik word, is "kallah". Dit is n woord wat ryk is aan betekenis en afgelei is van "kalal" wat beteken "om volkome, volmaak en vervuld te wees". Dit is hierdie bruid wat die Messias sal ontmoet wanneer Hy weer kom. Een wat haar aanhoudend verbly het in Yahweh. Een wie se siel nie moeg geraak het om te juig in haar Elohiem nie. Een wat die kleed van verlossing aangetrek het wat die Bruidegom vir haar gegee het. Een wat die geregtigheid van Yahweh vervul het, na die voorbeeld wat die Bruidegom reeds gestel het. Dit is hierdie bruid wat die ware vervulling van die Woord sal sien en beleef.