VERVUL WEES OP BAIE MANIERE
Ek het onlangs in ‘n artikel na ‘n klompie aanhalings uit die werke en sêgoed van die bekende CS Lewis gekyk. CS Lewis is in Ierland gebore, het in die eerste gedeelte van die vorige eeu gelewe het en veral bekendheid verwerf het met boeke soos "The Problem of Pain", "Surprized by Joy", "The Screwtape Letters" en "Mere Chistianity". ‘n Klompie jare gelede is daar ‘n film, "Shadowlands", oor sy lewe gemaak, waarin Anthony Hopkins die rol van CS Lewis vertolk het. CS Lewis het ‘n besondere skerp intellek gehad en oor die vermoë beskik om waarhede raak te sien en op só ‘n manier te beskryf dat mens met nuwe oë daarna kyk. Hier is net ‘n paar van die aanhalings van CS Lewis wat my aangegryp het:
Nothing that you have not given away will ever be really yours.
The safest road to hell is the gradual one - the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts.
There are two kinds of people: those who say to the Almighty, "Thy will be done," and those to whom the Almighty says, "All right, then, yóúr will be done."
What saves a man is to take a step. Then another step.
With the possible exception of the equator, everything begins somewhere.
The real problem is not why some pious, humble, believing people suffer, but why some do not.
CS Lewis het ook ‘n besondere fyn humorsin gehad en het graag die spot gedryf – nie met mense nie, maar met dinge en patrone wat tipies is van mense en die verhoudinge waarin hulle staan. So het hy by geleentheid, tong in die kies, gesê:
Long before history began we men have got together apart from the women and done things. We had time.
Die één tema waaroor CS Lewis seker die heel meeste nagedink en geskryf het, was oor die sin van die mens se bestaan en oor daardie dinge wat ‘n mens werklik vervul en bevredig en versadig. Hy was diep oortuig daarvan dat daar méér in die lewe opgesluit lê as dit wat ‘n mens met die blote oog kon sien en dit wat meeste mense hulle lewe lank najaag. In hierdie verband het hy eenmaal gesê:
If we discover a desire within us that nothing in this world can satisfy, then we should begin to wonder if perhaps we were created for another world.
En by ‘n ander geleentheid het hy bygevoeg:
Aim at heaven and you will get earth thrown in. Aim at earth and you get neither.
By ‘n vorige geleentheid het ons uit die Skrif ontdek dat ‘n mens sterk kan wees op baie maniere – nie noodwendig net op die manier wat vir ons mense aanloklik en begeerlik is nie. Dieselfde geld ook van vervulling en versadiging. Van nature soek ons mense na vervulling en versadiging op die terrein van die vlees en op areas wat gesog en gewild in hierdie wêreld is. In hierdie verband speel BEGEERTE ‘n belangrike rol. Ons sien dinge in die wêreld rondom ons wat op die oog af bevrediging en versadiging bring en met die tyd word die BEGEERTE in ons al hoe sterker om hierdie dinge ook te kan ervaar. Saam met die begeerte is daar die VERWAGTING dat spesifiek hierdie dinge vervulling sal bring – niks meer en niks minder nie. Maar uiteindelik vind mens uit dat meeste van die dinge wat jy gehoop het vervulling sal bring, nie werklik bevredig nie. Dis soos ‘n honger wat nie versadig kan word nie. Daar bly altyd nog ‘n hongerkol in die maag oor. CS Lewis het dit êrens ráák beskryf: "You can't get a cup of tea big enough or a book long enough to satisfy me." So ook die skrywer van die boek Mieshleh (Spreuke): "Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van 'n mens (ook) nie versadig nie" (Mieshleh 27:20). Die Woord leer ons dat Yahweh ons op ander maniere wil versadig as dit wat ons in hierdie wêreld aantref. Maniere wat ook verrassend anders is as wat ek en jy van nature sou verwag. Die vraag is: Gaan ons aanhou om te probeer (en in die proses kosbare energie verspil) om vervulling te soek in dinge wat die wêreld as "spesiaal" en "opwindend" en "onoortreflik" gebrandmerk het, of gaan ons ons oë en ons harte daarvoor oopmaak dat Yahweh vir ons iets anders, en iets veel beters, in gedagte het, en begin om híérdie dinge met hart en siel na te jaag?