VERWARD, MAAR NIE VERLORE NIE
Baie gelowiges kan hulleself volledig met die apostel vereenselwig wat besef dat dit wat hy deur Y'shua die Messias uit die hand van Yahweh ontvang het, met ‘n kosbare skat vergelyk kan word, maar dat hyself soos ‘n erdekruik is wat broos en breekbaar is (2 Kor 4:7). ‘n Mens kan dit byna só stel: Die gawe is volmaak, maar die ontvanger van hierdie gawe, is baie ver van volmaak af. Maar nou is dit juis die volmaaktheid en die voortreflikheid van die gawe (wat eintlik net ‘n verlengstuk is van die volmaaktheid van die Gewer van hierdie gawe) wat die ontvanger in staat stel om sy/haar eie onvolmaaktheid en broosheid te bowe te kom. Daarom kan Shaul sê:
In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie (2 Kor 4:8,9). Soos met die apostel, sal dit ook gereeld met ons gebeur dat ons, om dit sagkens te stel, gevoelens van verdrukking, verleentheid en neergeworpenheid in hierdie wêreld sal beleef. Wanneer dit gebeur, lê ons behoud en ons oorwinning dáárin om op die kwaliteite van die Gewer en sy wonderlike gawe te fokus, en níé op onsself en ons eie tekortkominge nie.Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die woorde, "verleë, maar nie radeloos nie". In die Grieks staan daar: "aporoumenoi" maar nie "ex-aporoumenoi" nie. "Aporoumenoi" beteken letterlik: "om sonder ‘n koers of sonder ‘n pad te wees" – met ander woorde: "om nie te weet watter kant toe nie". "Ex-aporoumenoi" is net ‘n sterker vorm van "aporoumenoi" – "om geheel en al raadop, selfs verlore, te wees". Daarom sou ons hierdie sinsnede ook só kon vertaal:
Verward, maar nie radeloos nie – of: rigtingloos, maar nie totaal verlore of verdwaal nie. Hoe goed ken ons nie hierdie gevoel nie. Om terugslae en teëspoed en trauma te beleef wat tot verwarring aanleiding gee. Hoekom gebeur sekere dinge met my? Hoe moet ek dit alles hanteer? Watter koers moet ek kies? Die Skrif se antwoord is: Fokus op die Gewer en sy wonderlike gawe. Dáár alleen sal jy van jou verwarring en verleentheid ontslae raak. In die proses om opnuut weer die woorde en beloftes van die Vader na te speur en jou eie te maak, en te ontdek dat jy miskien wel verward is, maar nie verlore nie, sal jy berusting, en selfs oorwinning vind.