VERWARD, MAAR NIE VERLORE NIE

Baie gelowiges kan hulleself volledig met die apostel vereenselwig wat besef dat dit wat hy deur Y'shua die Messias uit die hand van Yahweh ontvang het, met ‘n kosbare skat vergelyk kan word, maar dat hyself soos ‘n erdekruik is wat broos en breekbaar is (2 Kor 4:7). ‘n Mens kan dit byna só stel: Die gawe is volmaak, maar die ontvanger van hierdie gawe, is baie ver van volmaak af. Maar nou is dit juis die volmaaktheid en die voortreflikheid van die gawe (wat eintlik net ‘n verlengstuk is van die volmaaktheid van die Gewer van hierdie gawe) wat die ontvanger in staat stel om sy/haar eie onvolmaaktheid en broosheid te bowe te kom. Daarom kan Shaul sê: In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie (2 Kor 4:8,9). Soos met die apostel, sal dit ook gereeld met ons gebeur dat ons, om dit sagkens te stel, gevoelens van verdrukking, verleentheid en neergeworpenheid in hierdie wêreld sal beleef. Wanneer dit gebeur, lê ons behoud en ons oorwinning dáárin om op die kwaliteite van die Gewer en sy wonderlike gawe te fokus, en níé op onsself en ons eie tekortkominge nie.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die woorde, "verleë, maar nie radeloos nie". In die Grieks staan daar: "aporoumenoi" maar nie "ex-aporoumenoi" nie. "Aporoumenoi" beteken letterlik: "om sonder ‘n koers of sonder ‘n pad te wees" – met ander woorde: "om nie te weet watter kant toe nie". "Ex-aporoumenoi" is net ‘n sterker vorm van "aporoumenoi" – "om geheel en al raadop, selfs verlore, te wees". Daarom sou ons hierdie sinsnede ook só kon vertaal: Verward, maar nie radeloos nie – of: rigtingloos, maar nie totaal verlore of verdwaal nie. Hoe goed ken ons nie hierdie gevoel nie. Om terugslae en teëspoed en trauma te beleef wat tot verwarring aanleiding gee. Hoekom gebeur sekere dinge met my? Hoe moet ek dit alles hanteer? Watter koers moet ek kies? Die Skrif se antwoord is: Fokus op die Gewer en sy wonderlike gawe. Dáár alleen sal jy van jou verwarring en verleentheid ontslae raak. In die proses om opnuut weer die woorde en beloftes van die Vader na te speur en jou eie te maak, en te ontdek dat jy miskien wel verward is, maar nie verlore nie, sal jy berusting, en selfs oorwinning vind.

  1. As mense vir wie ek omgee, eenvoudig nie die geopenbaarde waarheid van die Woord kan insien en hulle lewens dienooreenkomstig verander nie, is ek verward, maar nie radeloos nie. Hoekom nie? Omdat ek weet dat die owerste van hierdie wêreld hulle sintuie verblind het, sodat hulle nie die lig van die voortreflikheid van die Messias kan sien nie (2 Kor 4:4).
  2. As ek vervolging, bespotting en verwerping moet verduur omdat ek gekies het om nie te glo soos mense wil hê ek moet glo nie, maar soos Yahweh in sy Woord geopenbaar het, is ek verward, maar nie verlore nie. Hoekom nie? Omdat ek weet: Al vergaan die uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe (2 Kor 4:16).
  3. As ek terugdeins om die pad van waarheid te loop en bang is dat dit ‘n alleenpad sal wees en my van ander mense en groepe sal isoleer, is ek verward, maar nie verlore nie. Hoekom nie? Omdat die Skrif duidelik aandui dat die pad van die geloof ‘n smal weg is en dat net ‘n oorblyfsel dit sal kies (Matt 7:14; Rom 9:27).
  4. As dit vir my lyk of daar net te veel dinge in die natuurlike realm met my gebeur wat skynbaar in stryd is met die seën en die oorvloed waarvan die Skrif praat, is ek verward, maar nie radeloos nie. Hoekom nie? Omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor 4:18).
  5. As dit vir my voel of Yahweh sy aangesig van my verberg het – nie meer betrokke is in my lewe en nie meer sy seën op my uitstort nie – ten spyte daarvan dat ek Hom van ganser harte soek, is ek verward, maar nie verlore nie. Hoekom nie? Omdat Hy belowe het: met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou (YeshaYahu 54:8).
  6. As ek bedroef is as gevolg van omstandighede wat my baie diep raak, en uitermate baie trane hieroor gestort het, is ek verward, maar nie radeloos nie. Hoekom nie? Omdat ek weet die wat met trane saai, sal met gejubel maai (Tehielliem 126:5) en dat Yahweh vreugde-olie vir treurigheid en ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees belowe het (YeshaYahu 61:3).
  7. As vriende en familie hulle rug op my draai omdat ek ‘n begeerte het om in die waarheid te wandel en anders glo as wat húlle glo, is ek verward, maar nie verlore nie. Hoekom nie? Omdat dieselfde ook met mense soos Dawid (Tehielliem 41:9); Shaul (2 Timoteus 4:16) en Y'shua (Matt 26:56) gebeur het.
  8. As ek angs, vrees en benoudheid beleef en voel of my hart inmekaar krimp in my binneste en verskrikkinge van die dood oor my gekom het, is ek verward, maar nie verlore nie. Hoekom nie? Omdat ek weet: Yahweh hoor my stem en Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie (Tehielliem 55:4,5,17,22).
  9. As armoede en behoeftigheid die oorhand kry en bekommernis oor materiële behoeftes dikwels aanleiding gee tot slapelose nagte, is ek verward, maar nie radeloos nie. Hoekom nie? Omdat dit beter is om in my swakhede te roem en te weet dat ek deel is van ‘n groep mense wat niks het nie en tog alles besit (2 Kor 6:10; 2 Kor 11:27-30).
  10. As daar gedurig versoekings oor my pad kom en ek ontdek dat dit nie altyd so maklik is om ‘n lewe van gehoorsaamheid en kinderlike geloof te lewe nie, is ek verward, maar nie radeloos nie. Hoekom nie? Omdat die Woord sê ek moet bly wees oor allerhande versoekinge, want dit bewerk lydsaamheid sodat ek uiteindelik sonder gebrek voor Yahweh kan verskyn (Yaakov 1:2-4).