VOORBEELDE VAN SUBTIELE VERDRAAIING VAN DIE WAARHEID OM DIE VALSE IDEE TE SKEP DAT Y'shua DIE MESSIAS EEN EN DIESELFDE WESE IS AS YAHWEH DIE ALMAGTIGE

  1. In plaas van "Y'shua is die die woord wat vlees geword het" (Joh 1:14; Joh 1:18), word verkondig en geglo "Y'shua is Yahweh wat vlees geword het".
  2. In plaas van "Y'shua is geopenbaar in die vlees" (1 Tim 3:16; 1 Joh 4:3), word verkondig en geglo "Yahweh is geopenbaar in die vlees, in die gestalte van Y'shua".
  3. In plaas van "daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is eenstemmig" (1 Joh 5:8; 1 Joh 5:11), word verkondig en geglo "Daar is drie wat getuig: Die Vader en die Seun en die Gees, en hierdie drie is een".
  4. In plaas van "Y'shua het gelykheid aan Elohiem nie as iets geag wat (uit hoogmoed) aangegryp moet word nie" (Fil 2:6; Eseg 28:2), word verkondig en geglo "Y'shua het nie bly vashou aan sy gelykheid met Elohiem nie".
  5. In plaas van "Y'shua en Yahweh is een - op dieselfde manier as wat die gelowiges in Messias een moet wees" (Joh 17:21; Joh 17:22), word verkondig en geglo "Y'shua en Yahweh is een en dieselfde wese".
  6. In plaas van "Y'shua is die Seun van Yahweh" (Mat 14:33; Mat 16:16), word verkondig en geglo "Y'shua is Yahweh, die Seun".
  7. In plaas van "alle mag is aan die Seun gegee deur die Vader" (Mat 28:18; Joh 3:35), word verkondig en geglo "die Seun beskik oor onbeperkte mag van sy eie".
  8. In plaas van "Yahweh het alle dinge in Y'shua en vanweë Hom en tot Hom geskape" (Kol 1:16; 1 Kor 8:6), word verkondig en geglo "Y'shua het alle dinge geskape".
  9. In plaas van "Y'shua is deur Yahweh uit die dood opgewek" (Hand 3:15; Efes 1:20), word verkondig en geglo "Y'shua het uit die dood opgestaan vanweë die feit dat Hy self Yahweh is".
  10. In plaas van "ons moet bid tot Yahweh, in die Naam van Y'shua" (Joh 15:16; Joh 16:23), word verkondig en geglo "ons moet bid tot Y'shua, net soos ons bid tot Yahweh".
  11. In plaas van "Y'shua is die eerste en die laaste vanweë sy opstanding uit die dood" (d.w.s. die eersteling van baie ander wat sal opstaan en die laaste omdat Yahweh aan Hom die sleutels van die dood gegee het – Openb 1:17-18; 1 Kor 15:20), word verkondig en geglo "Y'shua is die eerste en die laaste omdat Hy as Yahweh van ewigheid tot ewigheid bestaan".
  12. In plaas van "Y'shua het Yahweh erken as sy Elohiem" (Joh 20:17; Openb 3:20), word verkondig en geglo "ons moet Y'shua erken as Yahweh, ons Elohiem".
  13. In plaas van "In Openbaring is Y'shua die Lam wat voor die troon van Yahweh staan" (Openb 5:13; Openb 7:10), word verkondig en geglo "In Openbaring is Y'shua die Lam wat op die troon sit".
  14. In plaas van "Y'shua dra die titel van Meester ("kurios") omdat Yahweh Hom gekies en as Meester aangestel het" (Hand 2:36; Hand 5:31), word verkondig en geglo "Y'shua dra die titel "kurios" omdat Hy Yahweh, die Meester van die ganse aarde is".
  15. In plaas van "bring lof aan Y'shua omdat Yahweh Hom verhoog het en aan Hom 'n naam bo elke ander naam gegee het" (Dan 7:14; Fil 2:9), word verkondig en geglo "bring lof aan Y'shua want as Yahweh verdien Hy al ons lof en aanbidding".
  16. In plaas van "Y'shua is die een wat Yahweh geroep en aangestel het om in sy Naam (d.w.s. namens Yahweh) as Koning te regeer" (Ps 89:27; Mig 5:4), word verkondig en geglo "Y'shua is koning van die begin af en daar is geen hoër gesag as Hy nie."
  17. In plaas van "Yahweh is die hoof van Y'shua" (1 Kor 11:3; 1 Kor 3:23), word verkondig en geglo "Y'shua is in alle opsigte gelyk aan Yahweh".
  18. In plaas van "Y'shua het wonderwerke gedoen deur die krag van Yahweh, sy Vader" (Mat 12:28; Luk 11:20), word verkondig en geglo "Y'shua het wonderwerke gedoen, want Hy is die Almagtige en daar is niks wat Hy nie kan doen nie".
  19. In plaas van "Y'shua is deur Yahweh as Hoëpriester aangestel en sy bedoeling is om aan Yahweh alle lof toe te bring" (Heb 3:1-2; Heb 5:5), word verkondig en geglo "Y'shua moet as volmaakte Hoëpriester ons offers en gebede ontvang".
  20. In plaas van "Y'shua het gekom om die wil van sy Vader te volbring en Yahweh se Torah te verduidelik en uit te voer" (Mat 5:17; Joh 4:34), word verkondig en geglo "Y'shua het oor die mag beskik om die Torah tot niet te verklaar en dit is presies wat Hy gedoen het".
  21. In plaas van "Y'shua het spesiale vermoëns en outoriteit aan sy volgelinge gegee – mag wat Hy op sy beurt van sy Vader ontvang het" (Mat 9:8; 1 Kor 15:27-28), word verkondig en geglo "Y'shua is die gelowige se bron van krag en mag vanweë die feit dat Hy self Yahweh is."
  22. In plaas van "Y'shua is die beeld van die onsienlike Elohiem, soos dit Yahweh se bedoeling van die begin af was dat elke mens sy beeld sou weerspieël" (Rom 8:29; Kol 3:10), word verkondig en geglo "Y'shua is die beeld van Elohiem, omdat Hy Yahweh is wat 'n menslike gestalte aangeneem het".
  23. In plaas van "Elke tong sal bely dat Y'shua die Meester is tot eer van Yahweh, die Vader" (1 Kor 8:6; Fil 2:11), word verkondig en geglo "Elke tong sal bely dat Y'shua Yahweh is".
  24. In plaas van "Y'shua het gely en gesterf om mense met Yahweh te versoen en hulle by sy Vader uit te bring" (1 Pet 3:18; Efes 2:16-18), word verkondig en geglo "Y'shua het gely en gesterf om 'n nuwe geloof, die Christelike geloof, te begin".
  25. In plaas van "Y'shua is die Messias, die Afgesonderde van Elohiem" (Mark 1:24; Hand 2:27), word verkondig en geglo "Y'shua is Yahweh, die enigste en Afgesonderde Elohiem".
  26. In plaas van "Y'shua was regverdig en sonder sonde, omdat Hy geleer het wat gehoorsaamheid is" (Heb 5:8; Joh 15:10), word verkondig en geglo "Y'shua was regverdig en sonder sonde omdat Hy een wese met die Vader is".
  27. In plaas van "Y'shua is die gevolmagtigde verteenwoordiger van Yahweh – aangestel om onder meer as Koning en Regter op te tree" (Hand 10:42; Hand 17:31), word verkondig en geglo "Y'shua sal vanselfsprekend as Koning en Regter optree, want Hy is niemand minder nie as Yahweh self".
  28. In plaas van "Yahweh jou Elohiem moet jy aanbid en Hom alleen dien" (Mat 4:10; Eks 20:3), word verkondig en geglo "Om Yahweh te aanbid en te dien beteken presies dieselfde as om Y'shua te aanbid en te dien".
  29. In plaas van "Daar is een Elohiem en een Middelaar tussen Elohiem en die mense, die mens Y'shua, die Messias" (1 Tim 2:5; Heb 2:17), word verkondig en geglo "Daar is een Elohiem en een Middelaar tussen Elohiem en die mense, en hierdie Middelaar is terselfdertyd mens en Elohiem".
  30. In plaas van "Yahweh het met mense gepraat deur Y'shua, net soos Hy vroeër deur sy profete met die volk gepraat het" (Heb 1:1; 2 Pet 1:21), word verkondig en geglo "Yahweh het met mense gepraat deur Y'shua, want Y'shua is Yahweh wat vlees geword het".
  31. In plaas van "Y'shua het sy eie wil en begeertes aan die volmaakte wil van Yahweh onderwerp" (Mat 26:39; Luk 22:42), word verkondig en geglo "Y'shua se wil is outomaties dieselfde as sy Vader s'n, want beide is Yahweh".
  32. In plaas van "Ons gemeenskap is beide met die Vader en met sy Seun, Y'shua die Messias" (1 Joh 1:3; Joh 17:3), word verkondig en geglo "Ons gemeenskap is met die Seun, en daarom vanselfsprekend ook met die Vader".
  33. In plaas van "Y'shua behoort aan Yahweh, op dieselfde wyse as wat ons aan Y'shua behoort" (1 Kor 3:23; 1 Kor 11:3), word verkondig en geglo "Y'shua is in alle opsigte gelyk aan Yahweh en behoort dus aan niemand nie".
  34. In plaas van "Y'shua erken Yahweh as die enigste ware Elohiem" (Joh 5:44; Mat 19:17), word verkondig en geglo "Y'shua is, saam met Yahweh, die enigste ware Elohiem".
  35. In plaas van "Yahweh kan nie versoek word nie, maar Y'shua is in alle opsigte versoek, nes ander mense" (Jak 1:13; Heb 4:15), word verkondig en geglo "Y'shua is versoek, ten spyte daarvan dat Hy niemand minder was nie, as Yahweh in die vlees".
  36. In plaas van "Niemand het Yahweh ooit gesien nie, maar die Seun het Hom aan ons verklaar" (Joh 1:18; 1 Tim 6:16); word verkondig en geglo "Niemand het Yahweh ooit gesien nie, tot en met die tyd dat die Messias, d.w.s. Yahweh in menslike gestalte, verskyn het.
  37. In plaas van "Yahweh is absoluut onsterflik, maar Y'shua, daarteenoor, het gesterf en is na drie dae weer opgewek" (Rom 1:23; 1 Tim 1:17), word verkondig en geglo "Na sy menslike gestalte het Yahweh een keer gesterf, maar nou lewe Hy tot in ewigheid".