DIE VIER GROOTSTE MAGTE AAN ONS BEKEND
Algemeen gesproke is dit korrek om te beweer dat daar basies twee groot magte aan die werk is in hierdie wêreld: die mag van die Bose wat daarop uit is om te verderf en te vernietig en die almag van die Allerhoogste wat daarop gemik is om geregtigheid en vrede (shalom) in hierdie wêreld te vestig. Daar is baie ander magte en kragte wat ‘n rol speel in ons lewens, soos die magte wat na menslike vermoëns, emosies, begeertes en instellings teruggevoer kan word. Geeneen van hierdie magte kan egter op dieselfde vlak geplaas word as die mag van die Bose nie. En op sy beurt kan die mag van die Bose nie vergelyk word met die almag van die Allerhoogste nie. Die Skrif dui vir ons aan dat dit moontlik is dat ek en jy só deur die almag van die Allerhoogste beskerm kan word, dat die mag van die Bose ons nie blywende skade kan aandoen nie. Dit kan egter net gebeur as ons die Almagtige werklik liefhet en die keuse maak om by Hom te skuil.
Die merkwaardige is dat Yahweh, die Almagtige, oneindig baie doen om dit vir ons makliker te maak om hierdie keuse te maak. Hy sê nie net: Kies jy maar self of jy vir jou by My wil skaar nie. Nee, Hy openbaar Homself aan jou en my. Hy kom wys vir ons waarin sy almag geleë is. Natuurlik nie net sy almag nie – ook sy liefde en sy geregtigheid en sy getrouheid. Maar dit gaan vir ons hier veral oor sy almag. As ons kan uitvind presies waarin die groot mag van die Allerhoogste geleë is, in watter fasette dit veral na vore kom, sal dit dien as ‘n motivering om ons toevlug by Hom te neem. Ons behoort juis op hierdie spesifieke aspekte van sy almag te fokus wanneer ons met die ander groot magte in hierdie wêreld te make kry – veral die Bose en sy listige planne met ons.
Die Skrif sê onomwonde dat die hele wêreld in die mag van die Bose is (1 Joh 5:19) en dat wanneer iemand tot geloof kom, hy hom van die mag van Satan tot Yahweh bekeer (Hand 26:18). Satan se mag kom natuurlik op verskillende maniere te voorskyn. Een van die belangrikste gestaltes van die mag van Satan is die grootskaalse misleiding en dwaling in hierdie wêreld. Min mense besef hoe waar dit is dat die hele wêreld inderdaad in die mag van die Bose is. Dat duisendes wat meen dat hulle op die regte pad is, eintlik in die greep van misleiding is. Die Skrif is duidelik daaroor dat hierdie ‘n geweldige mag is waarmee ek en jy deeglik moet rekening hou. Openbaring 12 sê dat Satan die hele wêreld verlei. 2 Tessalonisense 2 sê dat Satan met allerhande kragtige dade tekens en wonders van die leuen kan bewerk. In Psalm 141 bid Dawid dat Yahweh hom sal bewaar van die vangnet van die een wat vir hom strikke stel. Die Skrif se getuienis is eenstemmig: Daar is een wat magtig is en wat strikke stel en daar is baie wat in hierdie strikke trap.
Waarop ons dus veral wil ingaan, is die vernaamste gestaltes van Yahweh se mag of krag, wat die mag van die Bose by verre oortref. Ons weet dat Yahweh almagtig is. Ons weet ook dat Hy aan Y'shua, sy Seun, alle mag in die hemel en op aarde gegee het (Matt 28:18). Y'shua het aan sy volgelinge mag gee om die krag van die vyand te neutraliseer, om selfs op slange en skerpioene te trap (Luk 10:19). Maar waarin is hierdie mag geleë? Hoe het die Almagtige by uitstek sy mag aan die mense van hierdie wêreld bekendgestel en op watter aspekte van sy mag behoort ek en jy te fokus sodat ons nie deur die magte van hierdie wêreld afgetrek word nie? Daar is veral vier aspekte van Yahweh se mag wat herhaaldelik in die Skrif ter sprake kom en waarvan ons deeglik behoort kennis te neem. Ons sou met reg kon sê: hierdie dinge is die vier grootste magte aan ons bekend.