DIE VOLLE SEËN VAN YAHWEH

Dis bekend dat die sg. priesterlike seën dikwels gebruik is, en vandag nog ruimskoots gebruik word, om mense wat die Naam van Yahweh ken, te seën. Dis veral betekenisvol dat die priesterlike seën afgesluit word met die woorde: "So moet hulle dan my Naam op die kinders van Yiesraél lê; en Ek sal hulle seën" (Bemiedbar / Numerie 6:27). Hierdie formele seën van Bemiedbar 6 is natuurlik nie die enigste seën-formule wat in die Skrif gebruik word nie. Daar is letterlik honderde verskillende seënbedes en seënwense wat in die Skrif gebruik word en meeste hiervan kan vandag nog met groot vrug gebruik word. Een manier om sommige van die seënwense in die Skrif op te spoor is om te soek na tekste waar die woorde "Mag Yahweh …" gebruik word. Volgens alle aanduidings was dit die mees algemene manier waarop iemand seën oor ‘n ander uitgespreek het.

Hierdie seënwense was nie sommer net leë woorde nie. Wanneer die Naam van Yahweh oor iemand uitgeroep is en aan een of ander vorm van guns of voorspoed gekoppel is, is dit as uiters kragtig en bindend beskou. Dit kan duidelik gesien word in byvoorbeeld die manier waarop Esau gereageer het toe Yaákov die seën ontvang het wat eintlik vir hom (Esau) bedoel was. ‘n Seënwens volgens die patroon van die Skrif kan nie sommer net bloot op een vlak met die seënwense van hierdie wêreld gestel word nie. Meeste van die seënwense van hierdie wêreld gaan glad nie van die veronderstelling uit dat slegs Yahweh oor die mag beskik om iemand te seën nie. Daarom word meeste seënwense op geen manier aan die Naam van Yahweh gekoppel nie. Van die vroegste seënwense wat aan ons bekend is, kom uit ‘n heidense agtergrond en het dikwels ‘n magiese konnotasie gehad. So ‘n seënwens het dus nie die bedoeling van "Mag Yahweh jou seën" nie, maar eerder van: "Mag dit wat ek oor jou uitgespreek het, waar word." Die bekende towerspreuk "abrakadabra" kan as ‘n primitiewe soort seën-uitspraak beskou word en beteken letterlik: "wat gesê is, het reeds gebeur". Ons hoef nie heidens-geïnspireerde uitsprake soos "abrakadabra" of "hocus pocus" of "merry christmas" of "happy new year" te gebruik om seën oor ander uit te spreek nie. Ons kan soos ons voorgangers in die Skrif die Naam van Yahweh, en daarom die volle seën van Yahweh oor ons medemens uitroep. Kom ons kyk na ‘n paar goeie voorbeelde hiervan uit die Skrif.

Gen 28:4 En mag (Yahweh) jou gee die seën van Avraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem (Yietsgak se woorde aan Yaákov). ‘n Seënwens wanneer ons voor ‘n nuwe uitdaging staan.

Gen 31:49 en ook Mietspah, omdat hy gesê het: Mag Yahweh wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie (Lavan se woorde aan Yaákov). ‘n Seënwens wanneer ons afskeid moet neem.

Gen 48:16 mag (Yahweh) die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Avraham en Yietsgak, en mag hulle vermeerder in die land in oorvloed (Yaákov se woorde ten opsigte van Yosef se twee seuns). ‘n Seënwens oor die kinders van gelowige ouers.

Deu 1:11 Mag Yahweh, die Elohiem van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het! (Mosheh se woorde aan Yiesraél). ‘n Seënwens om iemand te herinner aan Yahweh se beloftes.

Jos 1:17 Net soos ons na Mosheh geluister het, so sal ons na u luister; mag Yahweh u Elohiem net met u wees soos Hy met Mosheh gewees het (Yiesraél aan Yahushua). ‘n Seënwens aan iemand wat in ‘n verantwoordelike posisie geplaas word.

Rth 1:8 sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag Yahweh aan julle guns bewys soos julle … aan my bewys het. ‘n Seënwens teenoor iemand wat aan jou guns bewys het.

Rth 1:9 Mag Yahweh gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. ‘n Seënwens vir hulle wat die onbekende tegemoetgaan.

Rth 2:4 En kyk, Boáz het van Betlegem af gekom en aan die snyers gesê: Mag Yahweh met julle wees! ‘n Seënwens wanneer ‘n sekere taak verrig moet word.

Rth 2:12 Mag Yahweh jou daad vergeld, en mag jou loon volkome wees van Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, onder wie se vleuels jy kom skuil het (Boáz se woorde aan Rut). ‘n Seënwens oor iemand wat ‘n besondere diens gelewer het.

Rth 4:11 Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes (aan Boáz): Ons is getuies; mag Yahweh die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Leáh wat saam die huis van Yiesraél gebou het. ‘n Seënwens oor iemand wat in die huwelik tree.

1Sa 24:15 Maar Yahweh sal regter wees en oordeel tussen my en u. Ja, mag (Yahweh) toesien en my saak verdedig en aan my reg verskaf teenoor u (Dawied se woorde aan Shaúl). ‘n Seënwens dat reg en geregtigheid sal geskied.

2Sa 2:6 Mag Yahweh julle dan nou guns en trou bewys … omdat julle hierdie ding gedoen het (Dawied se woorde aan die manne wat Shaúl begrawe het). ‘n Seënwens aan iemand wat jy nie ken nie, maar wat ‘n weldaad bewys het of ‘n tweede myl geloop het.

2Sa 24:23 Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die koning (Dawied) gesê: Mag Yahweh u Elohiem 'n behae in u hê. ‘n Seënwens oor ‘n dienskneg of ‘n gestuurde of ‘n verteenwoordiger van Yahweh.

Psa 20:2 Mag Yahweh u verhoor in die dag van benoudheid! Mag die Naam van die Elohiem van Yaákov u beskerm! ‘n Seënwens vir iemand wat in nood verkeer.

Psa 20:5 Ons wil juig oor u oorwinning en die vaandels opsteek in die Naam van onse Elohiem. Mag Yahweh al u begeertes vervul! ‘n Seënwens aan iemand wat vashou aan die Naam van Yahweh.

Psa 128:5 Mag Yahweh jou seën uit Tsion, dat jy die voorspoed van Yerushalayiem mag aanskou al die dae van jou lewe! ‘n Seënwens aan almal wat Yahweh vrees.

1Th 5:23 En mag Hy, die Elohiem van die vrede, julle volkome afgesonder maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van ons Meester, Y'shua die Messias! ‘n Seënwens met die oog op die bewaring van die afgesonderdes.

IN DIE LIG VAN BOGENOEMDE KAN ONS MET GROOT VRYMOEDIGHEID VIR MEKAAR AAN DIE BEGIN VAN ‘N NUWE DAG (WEEK / MAAND / JAAR / SEISOEN) TOEWENS:

Mag Yahweh jou seën met oorvloed koring, mos en olie (Devariem 7:13); mag Hy die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land seën (Devariem 28:4); mag Hy jou mandjie en jou bakskottel seën (Devariem 28:5); mag Hy jou ingang en jou uitgang seën (Devariem 28:6); mag Hy jou seën in jou voorspoed en in jou teëspoed (Devariem 28:7-8); mag Hy jou seën deur elke gawe op die regte tydstip te gee en elke werk van jou hande vrugbaar en voorspoedig te maak (Devariem 28:12).