VOORBEREID SOOS DANIÉL

Na afloop van ‘n belangrike fees soos die fees van Ongesuurde Brode, kom die vraag by ‘n mens op: Wat staan ons nou te doen? Ons het fees gevier; ons het ons harte en huise van suurdeeg en elke bekende vorm van onreinheid probeer reinig; ons is opnuut versterk in die wete dat Yahweh groot en getrou is en ons in hierdie tyd besoek het en vereer het met sy teenwoordigheid en selfs met tasbare tekens van sy verbond. Maar wat nou? Moet elkeen nou maar net omdraai en "terugkeer na sy huis" en voortgaan asof niks gebeur het nie? Dit sou tragies wees as die fees uiteindelik geen duit se verskil aan ons lewens gemaak het nie!

Die Skrif kan ons beslis help in hierdie opsig. Een gedeelte in die Skrif wat spesifiek afspeel in die tyd direk na Ongesuurde Brode is die gesig van Daniél wat beskryf word in Daniél 10 tot 12. So lees ons in Daniél 10:1 en 4-5 die volgende woorde: "In die derde jaar van Koresh, die koning van die Perse, is 'n woord geopenbaar aan Daniél … en die woord is waarheid maar baie gewigtig; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig … En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was … het ek my oë opgerig, en daar sien ek 'n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufaz." Ongesuurde Brode eindig op die 21ste dag van die eerste maand. Daniél ontvang hierdie visioen (wat in die drie hoofstukke, Dan 10, 11 en 12 beskryf word) op die 24ste dag van die eerste maand, dus enkele dae na afloop van die Fees van Ongesuurde Brode.

Alhoewel Daniél en sy landgenote in ballingskap was en daardie jaar nie die Fees op die voorgeskrewe manier kon vier nie, kan ons seker wees dat die Een wat hierdie visioen geopenbaar het, nie van die fees en die betekenis van die fees "vergeet" het nie. Dis juis nóú die ideale tyd om weer na hierdie visioen te kyk – nie soseer met die oog daarop om alle profetiese detail te probeer ontleed nie, maar om te probeer vasstel watter fasette beklemtoon word en watter patrone na vore kom – spesifiek met die oog op die periode wat volg na Ongesuurde Brode. Ongesuurde Brode is grootliks daarop gerig om ons vir die laaste dae voor te berei. Daniél se visioen gaan spesifiek oor die laaste dae – wat ons in die laaste dae te wagte kan wees en hoe ons daarvoor voorbereid kan wees – en hierdie visoen bevat dus riglyne wat juis nóú vir ons van onskatbare waarde kan wees.

Alhoewel dit Daniél is wat die visioen ontvang het, en nie óns nie, kom ons ook so pas uit ‘n periode van verootmoediging en suiwering (soos Daniél wat homself so pas "vir drie volle weke" voor Yahweh verootmoedig het). ‘n Mens word getref deur die woorde waarmee die Boodskapper van Yahweh seker maak dat Daniél die volle impak verstaan van die boodskap wat sou volg: "Daniél, geliefde man, slaan ag op die woorde wat ek met jou praat, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur … Wees nie bevrees nie, Daniél; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te slaan en jou voor die aangesig van jou Elohiem te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom … Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja, sterk!" (10:11,12 en 19). En dan die uitwerking van hierdie woorde op Daniël: "En terwyl hy met my praat, het ek moed geskep en gesê: My meester kan maar praat, want u het my versterk" (10:19).

  1. WEET DAT DAAR BAIE STRYD EN ‘N GROOT BENOUDHEID VOORLÊ
  2. Dan 11:10 En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en 'n skare groot leërs versamel.

    Dan 11:44 Hy sal met groot woede uittrek om baie te vernietig en met die banvloek te tref.

    Dan 12:1 En in daardie tyd … sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het nie.

  3. WEET DAT DAAR BAIE POLITIEKE WOELINGE GAAN WEES
  4. Dan 11:3 Dan sal 'n dapper koning opstaan wat groot mag sal hê en sal maak net soos hy wil.

    Dan 11:6 En na verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap met mekaar aangaan.

    Dan 11:21 Hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig.

  5. WEET DAT BITTERHEID EN HOOGMOED AAN DIE ORDE VAN DIE DAG SAL WEES
  6. Dan 11:11 Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom.

    Dan 11:12 As die skare vernietig is, sal sy hart hom verhef … maar nie sterk bly nie.

    Dan 11:36 En hy sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige magtige

  7. WEET DAT BAIE LEIERS MET SLINKSHEID BEDROG SAL PLEEG
  8. Dan 11:23 Want sodra 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog.

    Dan 11:27 Hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens praat.

    Dan 11:32 En die wat in afvalligheid handel teen die verbond, sal hy met vleiery besoedel.

  9. WEET DAT GELD EN EKONOMIESE MAG ‘N AL GROTER ROL SAL SPEEL
  10. Dan 11:2 En as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring …

    Dan 11:38 … met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.

    Dan 11:43 En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede ..

  11. WEET DAT MEESTE LEIERS SOOS MAGTIGES IN HULLE EIE OË SAL WEES
  12. Dan 11:31 hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.

    Dan 11:36 En die koning sal doen net wat hy wil en hom groot hou bo enige magtige.

    Dan 11:37 En op enige eloha sal hy geen ag slaan nie; want hy sal homself bo alles groot hou.

  13. WEET DAT YAHWEH BEHEER HET OOR DIE VERLOOP VAN POLITIEKE GEBEURE
  14. Dan 11:27 Want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.

    Dan 11:29 Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom.

    Dan 11:35 Want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd.

  15. WEET DAT YAHWEH SE VOLGELINGE ANDERE TOT INSIG SAL BRING
  16. Dan 11:33 En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring.

    Dan 11:35 Om onder hulle loutering en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde.

    Dan 12:3 En dié wat baie tot regverdigheid lei, (sal glinster) soos die sterre vir ewig en altyd.

  17. WEET DAT KENNIS VAN DIE WAARHEID SAL VERMEERDER
  18. Dan 10:11 En hy het vir my gesê: slaan ag op die woorde wat ek met jou praat.

    Dan 10:14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat (aan die einde gaan gebeur).

    Dan 12:4 Hou die woorde geheim … baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.

  19. WEET DAT YAHWEH SE VOLGELINGE GELOUTER EN GESUIWER GAAN WORD
  20. Dan 10:18 Toe het die een wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk.

    Dan 11:35 Om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die … einde.

    Dan 12:10 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word.

  21. WEET DAT BAIE UIT LISTIGHEID MET DIE GELOWIGES SAL OMGAAN
  22. Dan 11:21 Daarna sal 'n veragtelike in sy plek optree … en met liste die koninkryk bemagtig.

    Dan 11:32 En die wat in afvalligheid handel teen die verbond, sal hy met vleiery besoedel.

    Dan 11:34 En hulle sal … ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit.

  23. WEET DAT SOMMIGES SAL STRUIKEL EN ANDER SAL VOLHARD EN SAL GLINSTER

Dan 11:32 Die volk wat hulle Elohiem ken, sal vashou en optree.

Dan 11:35 En van die verstandiges sal sommige struikel

Dan 12:1 In daardie tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boekrol opgeskryf staan.

 

DAAROM: Wees nie bevrees nie … wees sterk (Dan 10:19); Hou vas en tree op (Dan 11:32); Verstaan en bly verwag (Dan 12:10-12).

DAN SAL JULLE: "Glinster soos die glans van die lugruimte" en baie ander tot regverdigheid lei (Dan 12:3).