BEDIENAARS VAN VREDE EN DIE SWAARD

Die beskrywing van die uitstuur van die twaalf dissipels in MattitYahu (Matteus) 10 gee vir ons ‘n interessante kykie op die tweeledige aard van wat dit beteken om ‘n ware volgeling of dissipel van die Messias te wees. Omdat Hy, die Messias, as Vredevors in hierdie wêreld gekom het, is sy dissipels ontvangers van ‘n nuwe, ongekende vrede en word hulle ook geroep om draers van hierdie boodskap van vrede in die wêreld te wees. Maar dis juis hier waar elke ware dissipel van die Messias ontdek dat daar twee kante aan hierdie muntstuk is. Die boodskap van vrede word nie deur hierdie wêreld sonder slag of stoot aanvaar nie. Om hierdie boodskap in die wêreld "los te laat" het byna ‘n soortgelyke uitwerking as wanneer die spreekwoordelike kat in die hoenderhok losgelaat word. Die Messias bevestig dit in hierdie hoofstuk, wanneer Hy sê: "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen 'n man en sy vader, en tussen 'n dogter en haar moeder, en 'n skoondogter en haar skoonmoeder. En 'n mens se huisgenote sal sy vyande wees" (Matt 10:34-36). In effek beteken dit dus dat die Messias en sy dissipels tegelykertyd Bedienaars van vrede en van die swaard is. Wat behels dit volgens die inhoud van Matt 10?

BEDIENAARS VAN DIE SWAARD

  1. Die swaard oor mense wie se woorde nie ontvang en aanvaar word nie (vers 14)
  2. "En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af."

  3. Die swaard oor mense wat soos skape onder die wolwe is (vers 16)
  4. "Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe."

  5. Die swaard oor mense wat in die openbaar beskuldig, aangekla en vervolg word (vers 17 en 18)
  6. "Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot 'n getuienis vir hulle en vir die heidene."

  7. Die swaard oor mense wat deur hulle eie familie verwerp en verag word (vers 21)
  8. "Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak."

  9. Die swaard oor mense wat deur almal gehaat word ter wille van die Naam van Y'shua (vers 22)
  10. "En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word."

  11. Die swaard oor mense vir die blote feit dat hulle profete, regverdiges en dissipels is (vers 41 en 42)

"Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die loon van 'n profeet ontvang; en wie 'n regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die loon van 'n regverdige ontvang. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net 'n beker kou water laat drink, omdat hy 'n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie."

BEDIENAARS VAN VREDE

  1. Vrede omdat ons sien dis ‘n boodskap wat genees, reinig en bevry (vers 8)
  2. "Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee."

  3. Vrede omdat ons versterk word met woorde van wysheid wat kom van die Gees van Yahweh (vers 19 en 20)
  4. "Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal praat nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet praat ; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle praat."

  5. Vrede omdat ons besef dat ‘n dienskneg nie bo sy Meester is nie (vers 24 en 25)
  6. "'n Leerling is nie bo die meester nie en 'n dienskneg ook nie bo sy meester nie. Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy meester. As hulle die meester van die huis Ba~alzevul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!"

  7. Vrede omdat ons weet selfs die hare van ons hoof is getel (vers 29 tot 31)
  8. "Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies."

  9. Vrede omdat ons verwag dat Y'shua ons naam sal noem voor die Vader (vers 33)
  10. "Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is."

  11. Vrede omdat ons glo dat ons in die proses die ware lewe sal vind (vers 39).

"Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind."