VAN "YOM KIPPUR" TOT "DEREG KIPPUR"
Een van die gedeeltes in die Nuwe Verbond wat seker die beste beskrywing bevat van die soort versoening wat Y'shua die Messias gebring het, is 2 Kor 5:17-21: "Daarom, as iemand in die Messias is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit Elohiem wat ons met Homself versoen het deur Y'shua die Messias en aan ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat Elohiem in die Messias die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om die Messias wil, asof Elohiem deur ons' vermaan. Ons bid julle om die Messias wil: Laat julle met Elohiem versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde 'Vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van Elohiem in Hom." Wat opvallend is in hierdie gedeelte, is dat versoening nie net as eenmalige gebeurtenis voorgestel word nie, maar as 'n lewenswyse, of 'n nuwe lewensweg wat ingeslaan word. Let veral op die uitdrukkings "bediening van versoening" en "woord van versoening". Een vertaling het hierdie uitrukking "woord van die versoening" vertaal met "torah van die versoening" wat duidelik sinspeel op 'n totale nuwe leefstyl. Yom Kippur vind slegs eenmaal per jaar plaas. Maar ten diepste is die bedoeling van Yom Kippur om by ons 'n "torah" of 'n leefstyl van versoening aan te kweek. Die Hebreeuse woord "dereg" is 'n goeie beskrywing hiervan - "dereg" is die woord wat gewoonlik met "pad" of "weg" vertaal word, maar dit beteken eintlik ook: "Iewenskoers; gedragspatroon; manier van doen". Die Woord van Yahweh spoor ons vandag aan om nie net een keer per jaar by Yom Kippur stil te staan nie, maar elke dag te wandel op die "Dereg Kippur" wat vir ons in die Woord uitgestippel word. In 'n Skrifgedeelte soos Devariem (Deuteronomium) 30 kan duidelik gesien word hoedat daar 'n logiese oorgang plaasvind tussen bekering en versoening ("kippur" - vers 2-3) na "wandel in die wee van Yahweh" ("dereg" - vers 16). Elkeen van die verskillende simbole wat in die Skrif met versoening in verband gebring word, hou vir ons 'n kragtige boodskap in - nie net oor hoe ons (eenmalig of "af en toe") versoening kan ontvang nie, maar oor hoe ons daagliks versoening kan "uitleef" en "uitdeel".