DIE VASGESTELDE TYE EN WAT DIT VIR ONS BETEKEN

 

In Tehilliem (Psalm) 104:19 lees ons:  “Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.”  Die Hebreeuse woord wat hier met “vaste tye” vertaal word, is “mo’adiem”.  Volgens die Strongs Woordeboek beteken hierdie woord (Strongs No. H4150):  “an appointment, that is, a fixed time or season; specifically a festival; an assembly (as convened for a definite purpose); technically the congregation; by extension, the place of meeting; also a signal (as appointed beforehand)”.  Dieselfde woord word in Bereshiet (Genesis) 1:14 gebruik:  “En Elohiem het gesê: Laat daar ligte wees aan die hemelruim van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vasgestelde tye (“mo’adiem”), asook vir dae sowel as jare.”  Hierdie woorde is op die vierde skeppingsdag uitgespreek toe Yahweh die son, maan en die sterre geskape het.  Die bedoeling is dat veral die son en die maan spesifiek gemaak is, nie net om tussen dag en nag te onderskei nie, maar ook om as tekens te dien met behulp waarvan die “mo’adiem”, of vasgestelde tye bepaal kan word.

Enige instelling wat teruggevoer kan word tot by die skepping (soos die instelling van die Shabbat en die huweliksbepaling dat ‘n man sy vader en moeder sal verlaat en sy vrou sal aankleef), moet as uiters belangrik en bindend vir jou en my beskou word.  Ons kan nie daaraan verander en daarmee wegdoen soos wat ons goeddink nie, want dan kom ons in opstand teen die bepalinge en verordeninge wat die Almagtige in sy wysheid oor ons lewens uitgeroep het.

Reg deur die Skrif word dit oor en oor beklemtoon dat die maan, en veral die nuwemaan, van deurslaggewende belang is in die bepaling van elkeen van die sewe feeste.  Die Skrif gebruik meestal die woord “mo’adiem” of “vasgestelde tye” om na die feeste of feestye te verwys.  So byvoorbeeld staan daar in Wayyikra 23:2:  “Die feestye (mo’adiem) van Yahweh wat julle moet uitroep as afgesonderde samekomste - dit is my (d.w.s. Yahweh se) feestye (mo’adiem)”.  Hoe weet ons wanneer om hierdie vasgestelde tye of “mo’adiem” te hou?  Wayyikra 23:5 gee vir ons alreeds ‘n goeie aanduiding:  “In die eerste “godesh” (nuwemaan of maand), op die veertiende (dag) vanaf die “godesh” (nuwemaan), tussen die aande, is die Pesag van Yahweh”.  Die Skriftuurlike nuwemaan is wanneer die eerste skrefie van die maan gesien kan word.

Die nuwemaan is die duidelike en sigbare teken, elke 29 of 30 dae, waarvolgens die begin van elke nuwe maand en elke nuwe jaar bepaal moet word.  Die Gregoriaanse maandindeling en jaarindeling wat tans deur die hele wêreld gevolg word, is nie in ooreenstemming met die Woord van Yahweh nie.  Om te verseker dat sy volk tred hou en in pas bly met die vasgestelde tye wat Hy uitgeroep het, het Yahweh dit duidelik uitgestippel dat hulle wat Hom erken en sy Naam bely, op elke nuwemaan, aan die begin van elke nuwe maand, bymekaar moet kom.  Nuwemane dui nie net die vasgestelde tye aan nie, maar word self ook as vasgestelde tye beskou.  Dit blyk onder meer in Bemidbar (Numerie) 28:2 en 11 waar daar eers opdrag gegee word dat sekere offers op die vasgestelde tye (“mo’adiem”) gebring moet word en daarna aangedui word dat die nuwemaan een van hierdie vasgestelde tye is.

In Bemidbar (Numerie) 10:10 lees ons:  “Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle Elohiem. Ek is Yahweh julle Elohiem.”  In Devariem (Deuteronomium) 16:1 staan daar:  “Onderhou die nuwemaan (“godesh”) van Aviev en hou Pesag vir Yahweh jou Elohiem; want in die maand Aviev het Yahweh jou Elohiem jou in die nag uit Mitsrayiem (Egipte) uitgelei.”  Hierdie praktyk om op nuwemaan bymekaar te kom word in die res van die Skrif telkens bevestig:  1 Shemu’el 20:50 (“Toe sê Dawied vir Yahunatan: Kyk, môre is dit nuwemaan, en ek moet sekerlik met die koning saam aansit om te eet; maar laat my gaan, dat ek my wegsteek in die veld tot oormôre-aand”); 2 Konings 4:23 (“En hy sê: Waarom gaan jy vandag na hom? Dit is geen nuwemaan of Shabbat nie”); 1 Kronieke 23:31 (“die brandoffers aan Yahweh op die Shabbatte, op die nuwemane en op die feestye”); 2 Kronieke 8:13 (“moes hulle na die eis van elke dag offer ooreenkomstig die gebod van Mosheh, op die Shabbatte en op die nuwemane en op die feestye”); ensovoorts. 

In die Na-Messiaanse (Nuwe Testamentiese) tyd het die gebruik om as gemeente op die dag van nuwemaan bymekaar te kom, nog steeds voortgegaan, al is daar baie mense wat dit probeer ontken.  In Kol 2:16-17 lees ons:  “Moenie dat enige iemand julle oordeel in spys en in drank nie, hetsy met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of ‘n Shabbat nie,  wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam van die Messias”.  Die taal en konteks van hierdie gedeelte toon duidelik aan dat dit die gebruik van die liggaam van die Messias was om met feestye en nuwemane en Shabbatte bymekaar te kom.  Mense wat nie deel was van die liggaam van die Messias nie, was geneig om (van buite) te kom en voor te skryf hoe hierdie byeenkomste ingeruim moes word (byvoorbeeld:  wat daar geëet en gedrink behoort te word, en wat nie).  Sha’ul se instruksie is dat enige iemand nie sommer net kan kom en voorskryf oor die inrigting van hierdie byeenkomste nie.  Die liggaam van die Messias (die gemeente) moet self bepaal hoe hulle hierdie byeenkomste gaan inrig.  Buitestanders verstaan nie die toekomstige dinge (rakende die wederkoms van die Messias) nie – daarom het hulle nie die reg om uitsprake te maak oor byeenkomste wat heenwys na die toekomstige dinge nie.

Die woord “mo’adiem” kom oorspronklik van die woord “ya’ad” wat volgens woordeboeke die volgende betekenisse het:  “to appoint, to fix, to gather, to meet, to assemble, to agree, to betrothe”.  Deur hierdie betekenisse in ag te neem kry ons ‘n baie goeie idee waarom Yahweh van sy volk verwag het (en nog steeds van ons verwag) om sy “mo’adiem” te hou en dit nooit te vergeet of te verontagsaam nie.

Die “mo’adiem” herinner ons in die eerste plek op ‘n gereelde basis daaraan dat Yahweh vaste tye het waarop Hy sy groot werke in die geskiedenis doen – so was dit in die verlede en so sal dit wees tot met die koms van die Messias.  Hierdie vaste tye (“fixed times”) verteenwoordig die belangrikste en grootste gebeurtenisse in die geskiedenis – as ons enige waarde daaraan heg om iemand se verjaardag of selfs ons eie troudag te herdenk, behoort ons baie meer waarde daaraan te heg om hierdie mo’adiem te hou.   In 1 Kronieke 12:32 word daar van die seuns van Yissasgar gesê dat hulle ‘n “kundige insig (gehad het) wat die vaste tye (mo’adiem) betref” en dat hulle daarom “geweet het wat Yisra’el moes doen”.  Ons sal ook beter weet wat om te doen – veral met die oog op die naderende einde, as ons erns maak met Yahweh se vaste tye.

Die “mo’adiem” herinner ons tweedens daaraan dat Yahweh met ons ‘n ooreenkoms (“agreement”) aangegaan het of ‘n afspraak (“appointment”) gemaak het.  Die inhoud en implikasies van hierdie ooreenkoms of afspraak word vervat in sy verbond.  In Bereshiet (Genesis) 17:7 lees ons die vernaamste implikasies van hierdie ooreenkoms:  “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n Elohiem te wees en vir jou nageslag ná jou”.  Die Vader het dit goedgedink om elke week (shabbat), elke maand (nuwemaan) en elke jaar (jaarlikse feeste) geleenthede of “afsprake” daar te stel waartydens ons nie net aan hierdie ooreenkoms herinner word nie, maar waartydens ons die seën en die vreugde en die verreikende implikasies van hierdie ooreenkoms saam met mekaar kan vier.  Waarom sou enige iemand wat iets van hierdie implikasies besef en in die volle seën daarvan wil deel, so ‘n afspraak wou misloop?

Die “mo’adiem” herinner ons ook daaraan dat daar ‘n groot toekomstige samekoms of byeenkoms is waarna ons almal uitsien en waarop ons hoop gevestig is.  Ons samekomste as gemeente op Yahweh se vaste tye is byna soos kleedrepetisies vir die groot samekoms (“gathering”) met die koms van die Messias wanneer gelowiges uit alle oorde versamel sal word om die Messias te ontmoet.  Hiervan word onder meer in Tehilliem (Psalms) 107:1-9 geskryf (veral vers 2 en 3 wat meld van die verlostes wat “uit die lande” versamel sal word, ja, “van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af”).  Wanneer gelowiges byeenkom, is dit nie maar net ‘n praktiese reëling nie.  Nee, dis ‘n profetiese aksie wat vooruitgryp na daardie dag wanneer die grootste byeenkoms of oes-insameling van alle tye sal plaasvind.  Geen wonder die Skrif sê ons moet nie ons onderlinge byeenkomste versuim nie, maar mekaar in hierdie opsig moet vermaan, namate ons die groot dag van Yahweh sien nader kom – Ivriem (Hebreërs) 10:25.

Die “mo’adiem” herinner ons in die laaste plek daaraan dat Yahweh Hom aan ons verloof (“betrothe”) het.  “En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming.  En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy Yahweh ken” (Hoshea 2:19-20).  Verlowing beteken letterlik om in te stem (“agree”) of af te spreek (‘n “appoint”-ment maak) om te trou.  Dit is presies wat die Vader in sy groot liefde met sy volk (en almal wat by Hom en sy volk aangesluit het) gedoen het.  Wanneer iemand verloof is en uitsien na die huwelik (as die oomblik van volkome en volmaakte vereniging), word elke geleentheid voor die huwelik aangegryp om ‘n ontmoeting of ‘n samekoms met die verloofde te kan geniet.  Is dit hoe ek en jy voel oor die Een wat Hom aan ons verloof het en die heerlikste beloftes aan ons gegee het?