VRAE WAT ANTWOORDE IS

Om vrae te vra is 'n wesenlike deel van die Joodse kultuur. In Joodse geskrifte soos die Talmud en die Mishnah en die Gemara kom dit duidelik na vore dat Jode hulle dikwels verlaat op die metode van vrae vra, om uiteindelik by die beste antwoorde uit te kom en 'n moeilike vraagstuk beter te verstaan. As jy vir 'n Jood 'n vraag vra, is die kanse baie goed dat hy dadelik gaan reageer met nog 'n vraag voordat hy vir jou 'n antwoord gee. Daar is 'n goeie voorbeeld in die onlangse Amerikaanse politieke debat van hierdie neiging om 'n vraag met nog 'n vraag te beantwoord. Op 'n perskonferensie verlede jaar waar die debat op 'n stadium baie "warm" geword het, het 'n joernalis 'n vraag gevra aan Barney Frank, Joods-gebore Senator van Massachusetts: "Why do you continue to support a Nazi policy as Obama has expressly supported this policy? Why are you supporting it?" Hierop was Senator Barney Frank se bitsige antwoord: "On what planet do you spend most of your time?" Daarna het die Senator 'n tipiese politieke antwoord gegee en afgesluit met die woorde: "Trying to have a conversation with you would be like arguing with a dining room table."

Die Messias het dikwels ook 'n vraag met nog 'n vraag beantwoord. Toe daar eenkeer 'n gesiene man, wat baie ryk was, na Hom toe kom en vir Hom vra "Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?" het Y'shua met 'n vraag geantwoord: "Waarom noem jy my goed?" En eers daarná het Hy geantwoord: "Jy ken die geboooie ...". By 'n ander geleentheid het die oudstes na Y'shua gekom en vir Hom gevra: "Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?", waarop Y'shua met 'n teenvraag geantwoord het: "Die doop van Yahuganan, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?" Daar word dikwels gepraat en bespiegel oor die groot en bekende uitsprake van die Messias, soos "Julle moet julle vyande liefhê" en "Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel" en "Niemand kan twee meesters dien nie" en "Klop, en vir julle sal oopgemaak word". Maar hoeveel keer het ons al daaraan gedink om na die vrae van die Messias te gaan kyk? Ons sal verbaas wees om te ontdek hoeveel diepte daar in sy vrae was en hoeveel dinge hierdie vrae uiteindelik vir 'n mens duidelik maak. Kom ons gaan kyk na 'n klompie hievan ...

Mat 5:46 Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE YAHWEH SE SOORT LIEFDE VERSTAAN NIE).

Mat 6:25 Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT HULLE BLINDSTAAR TEEN MATERIËLE DINGE EN SWAARKRY DAARMEE OM YAHWEH ONVOORWAARDELIK TE VERTROU).

Mat 7:9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT TWYFEL DAAROOR OF YAHWEH WERKLIK HULLE HART KEN EN HULLE NOOD VERSTAAN).

Mat 8:26 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT OORWELDIG VOEL DEUR PROBLEME EN DIE STORMS WAT RONDOM HULLE WOED).

Mat 9:28 En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Y'shua sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Meester. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT MEEN DAAR IS NIE SALF AAN HULLE EIE SITUASIE TE SMEER NIE).

Mat 10:29 Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT MEEN DAT HULLE TE GERING OF TE EENVOUDIG IS OM DIE VADER SE AANDAG TE TREK).

Mat 11:16,20 Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? ... (met verwysing na) die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT HULLESELF NIE SOVER KAN KRY OM 'N VASTE KEUSE VIR DIE MESSIAS TE MAAK NIE).

Mat 12:48 Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT VOEL DAT HULLE GELOOFSKEUSE HULLE VAN HULLE EIE FAMILIE SAL VERVREEM).

Mat 13:51-52 Y'shua sê vir hulle: Het julle al hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Meester! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat 'n leerling geword het in die koninkryk van die hemel, soos 'n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE 'N KONNEKSIE KAN MAAK TUSSEN HIERDIE LEWE EN DIE KONINKRYK WAT VOORLÊ NIE).

Mat 14:31 En Y'shua het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT VOEL DAT HULLE GELOOF NIE STERK GENOEG IS NIE).

Mat 15:3 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van Elohiem ter wille van julle oorlewering? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT GROTER WAARDE AAN MENSLIKE TRADISIES HEG AS AAN DIE WOORD VAN YAHWEH).

Mat 16:13 En toe Y'shua in die streke van Cesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE TOT 'N BESLUIT KAN KOM OOR Y'shua DIE MESSIAS NIE).

Mat 17:17 Toe antwoord Y'shua en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT WEENS HULLE KLEIN GELOOF KRAGTELOOS IN HIERDIE WÊRELD IS).

Mat 18:12 Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die nege en negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT MEEN DAT "KLEINTJIES" NIE VIR YAHWEH TEL NIE).

Mat 19:17 En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik Elohiem. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE DIE ONDERSKEID TUSSEN YAHWEH EN Y'shua KEN NIE).

Mat 20:22 Maar Y'shua antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek binnekort gaan drink? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE BESEF DAT DISSIPELSKAP 'N PRYS VAN HULLE GAAN VRA NIE).

Mat 21:42 Y'shua sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE KAN GLO DAT YAHWEH SE REDDINGSPLAN IETS MET HULLE TE MAKE HET NIE).

Mat 22:41 En toe die Perushiem saamgekom het, vra Y'shua hulle en sê: Wat dink julle van die Messias? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawied s'n. ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE DIE UNIEKHEID VAN DIE MESSIAS KAN AANVAAR NIE).

Mat 23:17 Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud afgesonderd gemaak het? ('N ANTWOORD VIR HULLE WAT NIE DIE DINGE WAT WERKLIK SAAKMAAK, KAN ONDERSKEI NIE).