WAARIN LÊ ONS STERKTE?
Die naam van die profeet Yegezkel beteken letterlik: "Versterk ("gazak") deur Elohiem". Interessant genoeg, gee die profeet se naam vir ons ‘n sleutel om die sentrale tema van die boek wat na hom vernoem is, beter te verstaan. Die boek Yegezkel is ‘n oproep tot die volk om op te hou soek na vreemde en menslike en alternatiewe maniere om hulleself te versterk en terug te keer na Yahweh, wat by verre die beste, ja die enigste, Bron van krag en sterkte is. Die dinge waarna mense in Yegezkel se tyd gegryp het in die hoop om daardeur versterk te word, stem verbasend baie ooreen met die dinge waarna mense vandag nog gryp, in die hoop om nuwe krag en innerlike sterkte te bekom, of selfs net maar te oorleef in ‘n deurmekaar wêreld. Kom ons kyk na sommige van hierdie tevergeefse maniere waarop mense van Yegezkel se tyd, en van ons eie tyd, probeer om hulleself met krag en sterkte te vul.
Yegez 7:13 Want die gesig aangaande die hele skare van die land sal nie herroep word nie, en niemand sal homself deur sy ongeregtigheid in sy lewenskrag versterk ("gazak") nie.
Yegez 13:22 Omdat julle met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het …en die hande van die afvallige versterk ("gazak") het, dat hy van sy slegte weg nie sou terugkeer, om hom in die lewe te hou nie.
Yegez 16:49 Kyk, dit was die ongeregtigheid van jou suster Sedom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk ("gazak") nie.
Yegez 22:5,14 Die wat naby en die wat ver van jou af is, sal jou bespot, o onreine van naam, vol van geraas! … Sal jou hart standhou of jou hande sterk wees ("gazak") in die dae as Ek met jou handel?
Yegez 27:9 Die oudstes van Gheval en sy wyse manne was in jou om jou lekplekke reg te maak ("gazak"); al die skepe van die see en hulle seevaarders was in jou om jou koopware te verhandel.
Yegez 30:21 Seun van Adam, Ek het die arm van Farao, die koning van Mietsrayiem, gebreek; en kyk, dit is nie verbind tot genesing of bedek met verbande, dat dit sterk kan word ("gazak") om die swaard te vat nie.
Yegez 34:14-16 Op 'n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Yiesraél sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op 'n goeie plek en wei in 'n geil weiveld op die berge van Yiesraél. Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, sê die Meester Yahweh. Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk ("gazak"); maar die vettes en die sterkes sal Ek vernietig: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.