WAARMEE SAL ONS BESIG WEES?

Daar is geen twyfel nie dat die woorde van die Messias wat in die Na-Messiaanse Geskrifte opgeteken is, voldoende en genoegsaam is om vir ons in geen opsig in die duister te laat ten opsigte van sake wat met geloofskennis en die waarheid te make het nie. Ons weet egter dat nie alle woorde van die Messias in die Skrif ingesluit is nie. Die apostel Shaul het byvoorbeeld in Hand 20:35 ‘n uitspraak van die Messias aangehaal ("Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang") wat nie op enige ander plek in die Skrif opgeteken is nie. So is daar heel waarskynlik ander uitsprake ook wat die Messias gemaak het, wat nie in die enige van die Evangelies ingesluit is nie. In Joh 21:25 word hierdie feit bevestig: "En daar is nog baie ander dinge wat Y'shua alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie."

Volgens die antieke geskrifte van Justinus die Martelaar en Clemens van Alexandrië (wat in die periode 100 – 200 n.M. heel moontlik toegang gehad het tot ‘n apokriewe geskrif wat nie meer vandag bestaan nie) het Y'shua by geleentheid gesê: "In the things wherein I find you, in them will I judge you." As die Messias werklik hierdie woorde uitgespreek het, is dit volkome in lyn met ander gedeeltes in die Skrif soos Yegezkel 24:14 ("Ek sal nie ophou nie en sal nie verskoon of berou hê nie; ooreenkomstig jou wandel en jou handelinge sal hulle jou oordeel, sê die Meester Yahweh") en Yegezkel 30:20 ("Ek sal julle oordeel, elkeen ooreenkomstig sy weë, o huis van Yiesraél!"). Die moontlikheid dat die Messias hierdie woorde gesê het, verleen egter ‘n verdere dimensie van dringendheid aan die vraag: WAARMEE SAL EK EN JY BESIG WEES AS DIE MESSIAS WEER KOM?

Waarmee sal ons besig wees as die Messias weer kom? Ons weet dat die Vader besig is om soos ‘n Pottebakker te vorm en werk met die volk wat Hy vir Homself uitgekies het. Ons weet Hy kan nie anders as om regverdig te oordeel oor diegene wat hulle rug op Hom gedraai het nie – hulle wat na hulle eie gedagtes wandel en volgens die verhardheid van hulle eie bose harte (YermeYahu 18:12). Ons weet egter ook dat Hy, byna met opgehoude asem, gereed staan om vergifnis en seën te skenk aan hulle wat terugkeer na Hom en wat bereid is om hulle weë in ooreenstemming met sy Woord te bring – om weg te keer van die sypaaie en ongemaakte paaie en weer op die ou, beproefde paaie te loop (YermeYahu 18:15). Dit is juis hierdie volgehoue pottebakkerswerk van die Vader wat ons terugbring by die vraag: Waarmee hou ons ons besig? In watter dinge (en op watter paaie) gaan Hy ons aantref as Hy weer kom?

In YeshaYahu 44:20 lees ons hierdie woorde: "Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar nie ‘n leuen in my regterhand nie?" Die "as" waarvan hier gepraat word, dui op nietige dinge – dinge wat nie die moeite werd is om tyd en energie mee te verspil nie. Meer spesifiek gaan dit in hierdie gedeelte oor die verskuilde gestaltes van afgodediens. Hoevele is nie vandag met een of ander subtiele vorm van afgodediens besig nie? Die tragiese is dat sulke mense se harte hulle verlei het (ten spyte daarvan dat hulle hulself probeer troos het met uitsprake soos "Die Vader ken my hart"). En ewe tragies is die feit dat dit nie eens by hulle opkom om te vra: "Is daar nie miskien ‘n leuen in my regterhand nie?" Dis asof die "as" waarmee hulle hulle besig hou, in hulle oë gekom het en maak dat hulle nie kan sien nie en nie kan besef dat hulle hulle op ‘n gevaarlike afdraaipad bevind nie.

In Hoshea 12:1 lees ons hierdie woorde: "Efrayiem hou hom besig met wind, en hy agtervolg die oostewind; die hele dag vermeerder hy leuens en geweld, en hulle sluit ‘n verbond met Ashur, terwyl olie na Mietsrayiem gevoer word." In aansluiting hierby staan daar in vers 8: "Maar Efrayiem sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my ‘n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie." Hier word verwys na drie euwels wat vandag nog steeds ‘n groot rol in ons samelewing speel: Leuens, geweld en materialisme. En saam hiermee, net soos in die geval van die misleiding van afgodediens, is daar ‘n oorweldigende gees van valse gerustheid ("dit is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie"). Dit is veral die materialistiese gees van ons dag wat soveel mense in ‘n valse gemaksone plaas waaruit hulle net nie kan ontsnap nie. Geld en besittings en finansiële sekuriteite speel so ‘n groot rol in hulle lewens dat hulle net nie meer desperaat genoeg is om Yahweh en sy weë onvoorwaardelik te volg nie.

In 2 Kron 24:13 lees ons hierdie woorde: "En die uitvoerders van die werk (aan die huis van Yahweh) was ywerig besig, sodat die herstellingswerk deur hulle hand gevorder het, en hulle het die huis van Elohiem herstel ooreenkomstig sy oorspronklike bouplan en dit reggemaak." Hier is een van die antwoorde wat die Skrif self gee, in antwoord op die vraag: "Waarmee behoort ons besig te wees, wanneer die Messias weer kom?" Ons behoort deel te wees van die span wat bekend staan as die "uitvoerders van die werk aan die huis van Yahweh". En ons behoort ywerig met hierdie werk besig te wees. Daar is dringende herstelwerk wat vandag aan die huis van Yahweh aangebring moet word. Ons praat nie hier van ‘n fisiese tempel nie. In elk geval nie in hierdie stadium van die geskiedenis waarin ons ons bevind nie. Herstelwerk en restourasiewerk is egter nodig, omdat die "oorspronklike bouplan" tot ‘n groot mate verlore geraak het en met ander bouplanne, menslike skemas en kerklike doktrines, vervang is.

In MattitYahu 24:46 het die Messias verklaar: "Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy meester, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind." Watter manier het die Messias hier in gedagte? Ons kry die antwoord in die voorafgaande vers (vers 45): "Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy meester oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?" Hier stel die Messias dit baie duidelik hoe Hy graag sy volgelinge wil aantref as Hy weer kom: Besig om soos getroue en verstandige diensknegte die versorging van sy diensvolk te behartig. Besig om vir mense voedsel op die regte tyd te gee. Besig om te verseker dat nie een van die skape wat deel uitmaak van sy kudde, op enige manier skade ly nie. En beslis nie besig om saam met die dronkaards te eet en te drink (vers 49) omdat hy of sy nie meer kans gesien het om langer te wag vir die koms van die Meester nie.

In MattitYahu 21:23 word die volgende beskryf: "En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?" In hierdie beskrywing is daar ook vir ons ‘n kosbare les opgesluit. Dit tyd waarvan in hierdie gedeelte gepraat word, was die week voor Y'shua se teregstelling toe Hy alreeds in Yerushalayiem was met die oog op die naderende fees, wat natuurlik die Vader se vasgestelde tyd vir sy Seun se dood was. Ons weet dat die koms van die Messias ook op ‘n "vasgestelde tyd" of ‘n fees sal plaasvind. Dit waarmee ons ons besighou op Yahweh se vasgestelde tye sal tot ‘n groot mate bepaal waarmee ons besig sal wees wanneer Y'shua weer kom. Hoe gaan Hy ons aantref as Hy weer kom? Gaan ons saam met sy ware volgelinge besig wees om die fees te hou soos dit in die Woord bepaal is, of gaan ons in die wêreld besig wees om ons gewone gang te gaan? Gaan ons met ons eie selfopgelegde programme besig wees (en verskonings soos werkdrukte of familieverpligting voorhou) of gaan ons besig wees met die vasgestelde tye wat reeds van die skepping van hierdie wêreld as ‘n vaste item op die ewige kalender van die Vader geplaas is?