DIT WAARNA ONS MET SEKERHEID KAN UITSIEN EN WAARVOOR ONS SONDER OPHOU MOET BID

‘n Vergelyking tussen Yeshayahu 60 en die boek van Openbaring

  1. Na die dag wanneer die grootheid van Yahweh ons enigste lig sal wees (60:1 "jou lig kom, en die grootheid van Yahweh gaan oor jou op" – vgl Openbaring 21:23 en 22:5)
  2. Na die dag wanneer konings hulle eie nietigheid en beperktheid in die lig van Yahweh se grootheid sal erken (60:3 "nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang" – vgl Openbaring 11:15 en 21:24
  3. Na die dag wanneer al die nasies na Yerushalayiem sal kom om voor Yahweh die Almagtige te buig (60:5 "die skatte van die nasies kom na jou toe aan" – vgl. Openbaring 7:9-12 en 15:4)
  4. Na die dag wanneer niemand meer sal huiwer om die roemryke dade van Yahweh te verkondig nie (60:6 "en verkondig met blydskap die roemryke dade van Yahweh" – vgl. Openbaring 5:9-10 en 7:9-12)
  5. Na die dag wanneer die uitverkorenes uit elke wêrelddeel soos duiwe na hulle ewige bestemming sal "vlieg" (60:8 "Wie is dit wat daar aangevlieg kom … soos duiwe na hulle vensters?" – vgl. Openbaring 7:9 en 19:14)
  6. Na die dag wanneer die stad Yerushalayiem soos ‘n bruid sal wees wat vir haar man versier is – meer nog, deur Yahweh self voortreflik gemaak is (60:9 "omdat Hy jou voortreflik gemaak het" – vgl. Openbaring 21:2 en 21:11)
  7. Na die dag wanneer die nasies (ook Livanon!) na Yerushalayiem sal kom – nie om mure af te breek nie, maar om mure op te bou (60:10-13 "En uitlanders sal jou mure bou" – vgl. Openbaring 21:23-26).
  8. Na die dag wanneer die volgelinge en die stad van Yahweh duidelik met sy Naam gemerk sal wees (60:14 "en hulle sal jou noem: Stad van Yahweh" – vgl. Openbaring 3:12 en 14:1)
  9. Na die dag wanneer dit wat aan Yahweh behoort nie meer gehaat en geïsoleer, maar opgesoek en verhoog sal word (60:15 "In plaas dat jy verlate en gehaat is…sal Ek jou maak tot 'n ewige voortreflikheid" – vgl. Openb. 15:4 en 21:24)
  10. Na die dag wanneer vrede en geregtigheid na vore sal kom op ‘n manier soos dit nog nooit in hierdie wêreld geken is nie (60:17-19 "Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders" – vgl. Openbaring 21:27 – 22:3)
  11. Na die dag wanneer hartseer en lyding en droefheid nie meer deel van ons belewing van elke dag sal wees nie (60:20 "die dae van jou treurigheid is verby" – vgl. Openbaring 7:15-17 en 21:4)
  12. Na die dag wanneer dit wat volgens wêreldse standaarde klein en gering was, groot en roemryk gemaak sal word (60:22 "Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie" – vgl. Openbaring 3:8-12 en 7:9).