WAAROP ONS NIE MOET BESPAAR NIE

Die afgelope week het daar ‘n mooi briefie in Die Burger verskyn waarin iemand skryf oor hoe sy graag die nuwe kalenderjaar wil binnegaan. Hier is ‘n kort uittreksel van die brief: "Môre sal die wêreld se lot en veral die lydendes my swaar op die hart lê, maar vandag glimlag ek vir die druisende energie waarmee almal terug is van vakansie. Selfs dié wat nie met vakansie was nie, lyk sommer opnuut lus vir die lewe. En dan lees, hoor en sien mens die doemprofete se voorspellings dat die gordel sommer baie styf ingetrek sal moet word vanjaar. Moet tog net nie jou huis probeer verkoop nie. Vergeet van uiteet, vergeet van onnodige ditjies en datjies. Spaar, suster, spaar! Ek hoop Die Burger en sy lesers kan help met sente-omdraai-wenke en ekonomiese resepte vir die onstuimige jaar wat voorspel word. Moet net nie op die glimlagte bespaar nie!"

Ons het die boodskap nou al tot vervelens toe gehoor: Daar lê moeilike tye vir ons voor. Veral finansieel. Die wat tot dusver swaar gekry het, kan vanjaar dalk nog swaarder kry. As jy verlede jaar jou sente twee maal omgedraai het voor jy iets gekoop het, moet jy dit vanjaar drie maal en vier maal omdraai. Besparing, beplanning en finansiële selfdissipline, is ons almal se voorland. Al hierdie gepraat oor finansies wat knyp en die bekommernis en kopseer wat daarmee saamgaan, kan ‘n mens eintlik heel depressief maak en jou van jou vreugde ontneem – seker dié dat die skryfster bygevoeg het: Moet net nie op die glimlagte bespaar nie! Daar is geen twyfel dat dit goed sal wees om in hierdie klimaat te onthou dat geld nie alles is nie en dat ‘n glimlag niks kos nie. En wat meer is, ‘n glimlag is nie die enigste item wat vanjaar vrylik beskikbaar is en wat ons dus oorvloedig kan aanwend en rojaal kan uitdeel nie. Kom ons gaan kyk wat sê die Skrif.

Gen 27:28 En mag Elohiem jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos. Deu 28:11 En Yahweh sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land. Deu 30:9 En Yahweh … sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want Yahweh sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders. Hierdie woorde waarmee Yietsgak sy seun Yaákov geseën het, en later herhaaldelik deur Mosheh bevestig is, geld vir die ganse nageslag van Yaákov – ook hulle wat as wilde lote op die olyfboom ingeënt is. Hierdie seën bly in werking, selfs wanneer die hele wêreld onder swaar ekonomiese depressie gebuk gaan.

Psa 4:7 Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is. Ware vreugde en vrede is nie die eindproduk van die hoeveelheid koring en mos (of geld en besittings) waaroor ons beskik nie.

Psa 65:9 U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit oorvloediglik; die stroom van Elohiem is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land. In sy almag is Yahweh in staat om oorvloed te skenk – selfs wanneer die finansiële klimaat, vanuit menslike oogpunt, totaal ongunstig is.

Psa 106:7 Ons vaders in Mietsrayiem het nie ag geslaan op u wonders, hulle het nie gedink aan die oorvloed van u gunsbewyse nie, maar was rebels by die see, by die Rietsee. Laat ons nie dieselfde fout maak as Yiesraél wat hulle so blindgestaar het teen hulle onmiddellike omstandighede, dat hulle nie die oorvloed van Yahweh se gunsbewyse kon raaksien nie.

Spr 3:9-10 Vereer Yahweh uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos. Die beginsels van Yahweh se ekonomie (soos "tiendes" en "om te gee is beter as om te ontvang") is totaal anders as die beginsels van hierdie wêreld.

Spr 16:8 Liewer 'n bietjie met geregtigheid, as 'n oorvloed van inkomste met onreg. As die tekort aan geld kan bydra daartoe dat die Gees van Yahweh kans kry om te skaaf aan ander (belangriker) tekorte in ons lewens, kan ‘n jaar van finansiële swaarkry oor en oor die moeite werd wees.

Jer 33:6 Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar 'n oorvloed van duursame vrede. Ons gebede vir vol beursies en lae inflasie moet liewer plekmaak vir gebede vir ware genesing en ‘n oorvloed van duursame vrede.

Ese 16:49 Kyk, dit was die ongeregtigheid van jou suster Sedom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie. Mag ons ook, wanneer daar nie meer ‘n oorvloed van brood is nie, ons trotsheid en ons sorgeloosheid laat staan en ons hand na die armes en behoeftiges rondom ons uitsteek.

Luk 12:15 En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir enige hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. Om ‘n gesonde sin vir besparing te hê, is baie goed – nie in die eerste plek omdat geld skaars is nie, maar omdat die lewe nie uit die oorvloed van besittings bestaan nie.

Joh 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ware lewe en oorvloed in die lig van die boodskap van die Skrif, kom deur geloof in, en navolging van Y'shua die Messias.

Hand 9:36 En in Yafo was daar 'n sekere dissipelin met die naam van Tsavitah, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. Goeie werke is een van die belangrikste areas waarin niemand van ons kan bekostig om te bespaar nie.

Rom 15:13 En mag die Elohiem van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Afgesonderde Gees! Midde in ‘n situasie waarin mense finansieel noustrop trek, is dit nog steeds moontlik om oorvloedig te wees in die hoop op dié dinge wat Yahweh belowe het.

1 Kor 8:8 Maar die voedsel bring ons nie nader by Elohiem nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie. 1 Kor 15:58 Daarom, my geliefde broers, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Meester, omdat julle weet dat julle arbeid in die Meester nie tevergeefs is nie. 2 Kor 8:7 Maar soos julle in alles oorvloedig is - in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons - sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is. Om oorvloed te hê van kos, klere en ander besittings, is nie naastenby so deurslaggewend as om naby aan Elohiem en oorvloedig in die werk van die Meester en oorvloedig in geloof, wysheid en liefde te wees nie.

Kol 2:7 gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging. Terwyl mense rondom ons maklik verstrengel word in die net van negatiwiteit oor die situasie in ons land, moet ons ons daarop toespits om oorvloedig te wees in danksegging – dankbaarheid teenoor Yahweh dat Hy ons daagliks seën hier op aarde en dat Hy ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemel in die Messias (Efes 1:3).