WAAROP VERTROU ONS?
Die mens is só geskape dat hy nodig het om te vertrou. Niemand van ons kan voluit mens wees as ons nie die vermoë en die geleentheid en die vryheid het om te vertrou nie. Iemand het eenkeer gesê: "You may be deceived if you trust too much, but you will live in torment if you do not trust enough". Uit eie ondervinding weet ons egter dat ‘n mens se vertroue jou soms lelik op jou neus kan laat kyk. Hoe dikwels word ‘n mens nie teleurgestel en in die steek gelaat nadat jy onvoorwaardelik vertrou het nie? Meeste van ons se vertroue in iets of in iemand het op een of ander stadium ‘n groot knou gekry. Soveel so dat ons nie meer so maklik vertrou nie. Dat ons met ander woorde al hoe meer huiwerig is om mense in ons vertroue te neem of menslike idees te aanvaar. Iemand wat hierdie geleidelike verlies aan ‘n basiese vertroue in mense rondom jou probeer beskryf het, het gesê: "We are born brave, trusting and greedy, and most of us remain greedy."
Miskien is dit nodig dat ons van tyd tot tyd net weer ‘n slaggie goed gaan kyk na die dinge waarop ons werklik vertrou. Die Amerikaanse president, George Bush, het blykbaar by geleentheid gesê: "I'm not willing to stake one American life on trusting Saddam Hussein." Kom ons vergeet vir ‘n oomblik van al die etiese probleme rondom George Bush se obsessie met Irak en Saddam Hussein. Die vraag is net: Verloor ons nie baiekeer perspektief in die oordrewe vertroue wat ons op mense en dinge plaas wat hoegenaamd nie soveel vertroue werd is nie. Om meer op jou bankbalans en jou finansiële neseier te vertrou, as op ‘n lewenswyse wat volgens die Skrif die seën van Yahweh waarborg, is ‘n goeie voorbeeld van misplaaste vertroue. Om in die bravade en magsvertoon van invloedryke mense en instansies te vertrou, meer as op die beloftes en die krag van Yahweh, is nog ‘n voorbeeld van misplaaste vertroue. Om in die vernuf en die tegniese vaardighede van professionele mense – leraars, dokters, konsultante, akademici en ander – te vertrou, meer as op die wysheid en kennis wat op die Skrif gebaseer is, is na my mening ook misplaaste vertroue.
Ek lees êrens dat William Buckley by geleentheid gesê het: "I'd rather entrust the government of the United States to the first 400 people listed in the Boston telephone directory than to the faculty of Harvard University." So voel ‘n mens ook baiekeer as jy kyk na die effektiwiteit en vertroue wat ingeboesem word deur die instansies van hierdie wêreld (of die gebrek aan effektiwiteit en vertroue wat dit inboesem). ‘n Mens het al so gewoond geraak aan korrupsie op die hoogste vlak van regering en outoriteit, amptelike uitsprake wat niks meer werd is as die papier waarop dit geskryf staan nie en hoë profiel persoonlikhede wie se geraamtes in die kas een na die ander ontbloot word, dat basiese vertroue al hoe meer gekompliseerd raak. Geen wonder nie dat daar ‘n spreuk in die wêreld van die joernalistiek ontstaan het wat lui: "Nobody believes the official spokesman... but everybody trusts an unidentified source." Ons kan maar net weer die vraag vra: Waarop vertrou ons regtig? En … is daar nog mense en instansies en uitsprake wat werklik vertrou kan word?
Die antwoord het te make daarmee dat slegs Yahweh in ‘n absolute sin vertrou kan word. Hoe meer ‘n mens in jou vertroue geskok word as jy kyk na die wêreld rondom jou, hoe sterker is die impuls om Yahweh met "lock, stock and barrel" te vertrou. Nie omdat dit al is wat jy van kleins af geleer het of omdat ander mense dit van jou verwag nie, maar omdat Hy Homself oor en oor as betroubaar bewys. Ralph Emerson het hierdie impuls probeer formuleer deur te sê "All I have seen teaches me to trust the Creator for all I have not seen." Kom ons kyk weer na wat die Skrif in hierdie opsig leer.
Daarom:
Vertrou op Yahweh sonder om te wankel (Tehielliem 26:1); Vertrou op Yahweh en sê "U is my Elohiem" (Tehielliem 31:14); Vertrou op Yahweh, en doen wat goed is (Tehielliem 37:3); Vertrou op die goedertierenheid van Elohiem (Tehielliem 52:8); Vertrou op Elohiem en sê: Wat kan vlees aan my doen? (Tehielliem 56:4); Vertrou op Yahweh, want Hy is jou skild (Tehielliem 115:9); Vertrou op Yahweh met jou hele hart (Mieshleh 3:5); Vertrou op Yahweh, want Hy is ‘n ewige rots (YeshaYahu 26:4); Vertrou op die Naam van Yahweh (YeshaYahu 50:10); Vertrou op die Woord van Yahweh – Hy verlos ooreenkomstig sy belofte (Tehielliem 119:41-42).