Wanneer die Woord verwys na die manier waarop gelowiges in gehoorsaamheid behoort te lewe, word daar dikwels van die begrip "wandel" gebruik gemaak. Van die vroegste tye is gelowiges soos Avraham opgeroep om voor Yahweh (se aangesig) te wandel (Bereshiet / Gen 17:1), om agter Hom aan te wandel (Devariem / Deut 13:4), om in sy weë te wandel (Devariem / Deut 5:33), om nie téénoor Hom (in verset teen Hom) te wandel nie (Wayyiekra / Lev 26:21), om nie weg van Hom te wandel (agter ander magtiges) nie (YermeYahu / Jer 7:6), om nie volgens die verhardheid van jou eie hart te wandel nie (Devariem / Deut 29:19), om in opregtheid te wandel (Tehielliem / Ps 84:11), om in die lig van Yahweh se aangesig te wandel (Tehielliem 89:15), om nie in die weë van duisternis te wandel nie (Mieshleh / Spr 2:13) ensovoorts.
In die Na-Messiaanse Geskrifte word hierdie tema voortgesit en word Y'shua, die Messias voorgehou as voorbeeld en inspirasie om die belangrike boodskap te beklemtoon dat elke gelowige baie noukeurig op sy wandel hier op aarde moet let. Die een wat Hom volg, sal nie in die duisternis wandel nie (Joh 8:12); gelowiges behoort te wandel in die voetstappe van die geloof van Avraham (Rom 4:12); Y'shua se opstanding is ons aansporing dat ons in ‘n nuwe lewe moet wandel (Rom 6:4); gelowiges behoort nie volgens die vlees te wandel nie, maar volgens die Gees (Rom 8:1), hulle behoort ook nie deur aanskouing te wandel nie, maar deur geloof (2 Kor 5:7), ensovoorts.
Die Hebreeuse woord "halag" is die woord wat normaalweg met "wandel" (Eng: "walk") vertaal word. Hierdie woord word (in verskeie vorme) meer as 1500 keer in die Voor-Messiaanse Geskrifte gebruik - in sommige gevalle verwys dit doodgewoon na die letterlike handeling van "om te loop" of "om te beweeg" of "om êrens heen te gaan". In baie gevalle word "halag" egter in ‘n figuurlike sin gebruik en beklemtoon dit een of ander belangrike aspek van ons "handel en wandel" hier op aarde. Kom ons kyk na enkele gedeeltes waar die gebruik van "halag" ‘n belangrike waarheid onder ons aandag probeer bring. In elkeen van hierdie gevalle word lig gewerp oor wat dit beteken om soos Ganog / Henog (Bereshiet / Gen 5:24) en Noag (Bereshiet 6:9) "met" Yahweh te wandel, of soos Avraham (Bereshiet / Gen 17:1) en Dawied (1 Melagiem / 1 Kon 8:25) "voor" Yahweh te wandel.
- Ons wandel is dit wat ons hier op aarde doen, voordat ons sterwe en al ons aardse aktiwiteite tot ‘n einde gebring word. Bereshiet / Gen 15:2 Toe vra Avram: Meester Yahweh, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan ("halag") en die erfgenaam van my huis die Damaskener Eliézer is?
- Ons wandel kan net voorspoedig wees as ons Yahweh as ons Meester erken en Hom vertrou vir elke tree wat ons gee. Bereshiet 24:42-44 Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: Yahweh, Elohiem van Avraham, my meester, as U dan my weg waar ek op gaan ("halag"), voorspoedig wil maak, kyk, ek staan by die fontein - laat dit nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink - en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep - sy is die vrou wat Yahweh vir die seun van my meester bestem het.
- Ons wandel is bepalend vir die vraag of Yahweh in ons midde sal wandel (m.a.w. ons Elohiem sal wees) en of sy seën oor ons sal wees. Devariem / Deut 23:14 Want Yahweh jou Elohiem wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer afgesonder wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.
- Ons wandel kan net bestendig wees as dit gebaseer is op die goeie weg wat Yahweh self vir ons geleer het. 1Melagiem / Konings 8:35-36 As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Yiesraél vergewe - want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel - en gee reën op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het.
- Ons wandel in die weë van Yahweh is ‘n uitdrukking daarvan dat ons harte volkome is met Yahweh ons Elohiem. 1 Melagiem / Konings 8:61 Laat julle hart dan volkome met Yahweh onse Elohiem wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou.
- Ons wandel sal geseënd wees as ons wegbly van die raad van die afvalliges, die weg van die sondaars en die kring van die spotters (letterlik: hulle wat op ‘n arrogante manier dinge leer wat nie in lyn met die Woord is nie). Tehielliem / Ps 1:1 Geseënd is die man wat nie wandel in die raad van die afvallige en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie.
- Ons wandel moet getoets word om te verseker dat ons geloof opreg is en dat ons in geen opsig wankel nie. Tehielliem 26:1-3 Doen aan my reg, o Yahweh, want ek wandel in my opregtheid en vertrou op Yahweh sonder om te wankel. Toets my, Yahweh, en beproef my, keur my niere en my hart, want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid.
In aansluiting hierby, en waarskynlik met verwysing na presies dieselfde woord ("halag"), voeg die Na-Messiaanse Geskrifte by:
- Ons wandel saam met die Messias, m.a.w. ons vashou aan sy getuienis, is ‘n duidelike maatstaf of ons sy dissipels is, of nie. Yahuganan / Joh 6:66 Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.
- Ons wandel in die vrees van Yahweh sal daartoe lei dat ons vrede sal ervaar, opgebou en vertroos sal word en (vanself) sal vermeerder. Hand 9:31 En die gemeentes deur die hele Yehudah en Ghaliel en Shomeron het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van Yahweh en die vertroosting van die Afgesonderde Gees, het hulle vermeerder.
- Ons wandel het deur die goedgunstige ingryping van Yahweh verander van … "Volgens die patroon van hierdie wêreld" (Efes 2:1-2 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes, waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld) na … "Gerig op die doel om die prys van die hoë roeping te verkry" (Fil 3:14-16 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van Elohiem in die Messias Y'shua …laat ons volgens dieselfde reël wandel).