WANNEER VEROOTMOEDIGING NODIG IS

‘n Ondersoek na die Skrifte, met besondere verwysing na 2 Kronieke

Ons het by ‘n vorige geleentheid ondersoek ingestel na die belangrikheid van nederigheid en gesien hoe onontbeerlik hierdie eienskap is vir diegene wat waarlik tot Yahweh wil nader en Hom wil behaag. Niemand wat nie bereid is om laag te buig en hom of haar volkome te onderwerp aan die wil van die soewereine Elohiem van hemel en aarde, is geskik om voor Hom te verskyn nie. Dit word beklemtoon deur die blote feit dat Hy die Afgesonderde en die Almagtige is en dat daar tussen Hom en ons ‘n kwalitatiewe verskil en ongelykheid bestaan wat net met ‘n gesindheid van ootmoed en sagmoedigheid oorbrug kan word. Die Skrif beskryf ootmoed as ‘n eienskap wat nie net essensieel is in ons verhouding met die Vader nie, maar wat ook ons verhoudinge en onderhandelinge met ander mense gesien moet kan word. Dit word onder meer in 1 Kefa (1 Petrus) 5:5 na vore gebring: "Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want Yahweh weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy guns."

Die gevaar bestaan dat ‘n mens oor nederigheid op ‘n ongedefinieerde en filosofiese manier kan praat, wat maak dat die begrip in die lug bly hang en niemand werklik weet hoe om nederigheid in die praktyk uit te leef nie. In die lig van hierdie gevaar, is dit nodig om die Skrif toe te laat om ons kennis en verstaan van nederigheid te verbreed. Een manier om dit te doen is om vas te stel in watter spesifieke situasies daar van mense in die Skrif verwag is om nederigheid te betoon of in ootmoed terug te keer na Yahweh. So kan ons gehelp word om ‘n praktiese verstaan van nederigheid te ontwikkel en waarlik te groei in ons wandel voor Hom wat woon "in die hoogte en in die afgesonderde plek en by die verbryselde en nederige van gees" (YeshaYahu 57:15) en wat spesifiek gesê het dat Hy die ootmoediges sal lei en sal leer om te weet wat reg is en sy weë waarlik te ken (Tehielliem 25:9). Die boek 2 Kronieke (2 Divre Hayamiem) beskryf minstens 7 situasies waarin verootmoedig onontbeerlik en noodsaaklik is.

  1. Verootmoediging is nodig wanneer iemand teen sy naaste gesondig het. 2 Kronieke 6:22-26 "As iemand teen sy naaste sondig … en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer … en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer … en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis … (omdat U hulle verootmoedig – vers 26), wil U dan hoor uit die hemele en die sonde van u volk Yiesraél vergewe."
  2. Verootmoediging is nodig wanneer iemand teen Yahweh gesondig het. 2 Kronieke 6:26-27: "As die hemele toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemele en die sonde van u knegte en van u volk Yiesraél vergewe."
  3. Verootmoediging is nodig wanneer Yahweh se mense Hom verlaat, deur sy Torah te verlaat. 2 Kronieke 12:1, 5-7: "En toe Regavám die koningskap bevestig het en hy sterk was, het hy die Torah van Yahweh verlaat, en die hele Yiesraél saam met hom … Daarna kom die profeet ShemaYah na Regavám en die owerstes van Yehudah wat vanweë Shishak in Yerushalayiem byeengekom het, en sê vir hulle: So sê Yahweh: Julle het My verlaat; daarom gee Ek julle ook oor in die hand van Shishak. Hierop het die owerstes van Yiesraél en die koning hulle verootmoedig … En toe Yahweh sien dat hulle hul verootmoedig, kom die woord van Yahweh tot ShemaYah en sê: Hulle het hul verootmoedig: Ek sal hulle nie vernietig nie."
  4. Verootmoediging is nodig wanneer jou broers en jou vaders ontrou teen Yahweh gehandel het. 2 Kron 30:7-11 "En wees nie soos julle vaders en julle broers wat ontrou teen Yahweh, die Elohiem van hulle vaders, gehandel het nie … Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie … Maar toe die hardlopers van stad tot stad die land Efrayiem en Menasheh deurgaan tot by Zevulon, het hulle hul uitgelag en met hul gespot. Maar manne uit Asher en Menasheh en Zevulon het hulle verootmoedig en na Yerushalayiem gekom."
  5. Verootmoediging is nodig wanneer daar hoogmoed in jou hart is en jy die wonders uit Yahweh se hand verontagsaam het. 2 Kronieke 32:24-26 "In daardie dae het GiezkiYah dodelik siek geword, maar hy het tot Yahweh gebid, en Hy het met hom gepraat en hom ‘n wonderteken gegee. Maar GiezkiYah het die weldaad wat aan hom bewys is, nie opgevolg nie; want sy hart het hoogmoedig geword. Daarom was daar ‘n toorn oor hom en oor Yehudah en Yerushalayiem. Maar GiezkiYah het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Yerushalayiem, sodat die toorn van Yahweh nie oor hulle gekom het in die dae van GiezkiYah nie."
  6. Verootmoediging is nodig wanneer ‘n leier sy volgelinge verlei het om aan Yahweh ongehoorsaam te wees. 2 Kronieke 33:9-13 "Maar Menasheh het Yehudah en die inwoners van Yerushalayiem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat Yahweh voor die kinders van Yiesraél uit vernietig het. En Yahweh het met Menasheh en met sy volk gepraat, maar hulle het nie geluister nie. Daarom het Yahweh die leërowerstes van die koning van Ashur oor hulle gebring …Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van Yahweh sy Elohiem om guns gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die Elohiem van sy vaders … en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Yerushalayiem in sy koningskap teruggebring."
  7. Verootmoediging is nodig wanneer daar onder die uitverkorenes ‘n ywer is wat nie op Yahweh gerig is nie, maar op allerlei afgodspraktyke. 2 Kronieke 33:1-3; 20-23 "Menasheh was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Yerushalayiem regeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van Yahweh ooreenkomstig die gruwels van die nasies wat Yahweh voor die kinders van Yiesraél uit verdryf het. En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader GiezkiYah afgebreek het, en altare opgerig vir die Baáls en afgesonderde boomstamme gemaak en hom neergebuig voor die hele leër van die hemele en hulle gedien … En Menasheh het ontslaap met sy vaders, en hy is in sy huis begrawe; en sy seun Amon het in sy plek koning geword … En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van Yahweh, soos sy vader Menasheh gedoen het; en aan al die gesnede beelde wat sy vader Menasheh gemaak het, het Amon ywerig geoffer en hulle gedien. Maar hy het hom nie verootmoedig voor die aangesig van Yahweh soos sy vader Menasheh hom verootmoedig het nie."

Ten grondslag van hierdie gedeeltes behoort ons ons te steur aan nog ‘n gedeelte uit 2 Kronieke, wat ook oor verootmoediging handel en moet ons onsself afvra of ons nie nou weer by ‘n punt gekom het waar daadwerklike verootmoediging broodnodig geword het nie (moontlik in die vorm van ‘n spesiale Dag van Verootmoediging). Die aanhaling is 2 Kronieke 7:14 "As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemele hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees."