WAT BETEKEN YAHWEH VIR JOU?

  1. Yahweh Yiereh – Yahweh sal (voor)sien. Bereshiet (Genesis) 22:14 "En Avraham het daardie plek genoem: Yahweh sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van Yahweh sal dit voorsien word." Hy is die Een wat letterlik sal sien (dit wat ek nie kan sien nie) en wat sal seker maak dat ek uiteindelik sal sien dat Hy getrou is en sy kinders nooit in die steek laat nie.
  2. Yahweh Rofega – Yahweh wat jou genees. Shemot (Eksodus) 15:26 "As jy getrou na die stem van Yahweh jou Elohiem luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Mietsrayiem gelê het nie; want Ek is Yahweh wat jou gesond maak." Hy is die Een wat belowe dat as jy bly fokus op Hom en sy gebooie en sy weë, sal Hy die las van jou gesondheid en jou genesing op Hom neem.
  3. Yahweh Niessi – Yahweh is my banier. Shemot (Eksodus) 17:15-16 "En Mosheh het ‘n altaar gebou en dit genoem: Yahweh is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van Yah! Oorlog het Yahweh teen Amalek van geslag tot geslag." Hy is die Een wie se Naam vir ons ‘n banier is wat verseker dat Hy elke stryd vir ons sal stry en oorwinning sal gee wanneer sy eer op die spel is.
  4. Yahweh Mekaddieshchem – Yahweh wat julle afsonder. Shemot (Eksodus) 31:13 "Julle moet sekerlik my Shabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek Yahweh is wat julle afsonder." Hy is die Een wat sy volgelinge vir Homself afsonder – so word dit (behalwe in Shemot 31:13) nog ses maal spesifiek in die Skrif aangedui - Wayyiekra (Levitikus) 20:8; 21:8; Yegezkel 37:28; Yahuganan 17:17; 1 Tessalonisense 5:23 en Yehudah (Judas) 1:1.
  5. Yahweh Shalom – Yahweh is vrede. Shofetiem (Rigters) 6:23-24 "Maar Yahweh sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie. Toe bou Ghiedón daar ‘n altaar vir Yahweh en noem dit: Yahweh is vrede!" Hy is die Een wat (anders as enige ander wese) in staat is om só ‘n radikale vrede in ‘n mens se lewe teweeg te bring, dat so ‘n mens iets daarvan aan ander kan oordra met die woorde "Shalom lecha" ("Vrede vir jou").
  6. Yahweh Tseva’ot – Yahweh van die leërskare. 1 Shemuél 17:45 "Maar Dawied sê vir die Pelieshtyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van Yahweh van die leërskare, die Elohiem van die slagordes van Yiesraél, wat jy uitgedaag het." Hy is die Een wat beheer uitoefen oor al die "leërs" in die heelal – die sterre en planete (Devariem / Deuteronomium 4:19); die hemelwesens (1 Konings 22:19); die volk Yisrael (Shemot / Eksodus 12:41); die nasies van hierdie wêreld (Yeshayahu 34:2).
  7. Yahweh Tsiedkenu – Yahweh is ons geregtigheid. YermeYahu 23:5-6 "Kyk, daar kom dae, sê Yahweh, dat Ek vir Dawied ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Yehudah verlos word en Yiesraél veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: YAHWEH ONS GEREGTIGHEID." Hy is die Een wat nie net die Bron en die Maatstaf van geregtigheid is nie, maar ook die Bewerker daarvan.
  8. Yahweh Shammah – Yahweh is daar. Yegezkel 48:35 "en die naam van die stad sal van daardie dag af wees: Yahweh is daar!" Hy is die Een wat vir ons ‘n erfdeel bestem het waarvan Hyself die vernaamste inhoud is – nie meer sy Gawes of sy Gees of sy Geskrifte nie, maar Hyself!!
  9. Yahweh Elyon – Yahweh is hoog verhewe (bo alles en almal). Tehielliem 7:17 "Ek wil Yahweh loof na sy geregtigheid en die Naam van Yahweh, die Allerhoogste, psalmsing." Hy is die Een wat uitstyg bo elke ander ding of mens of instansie wat ons ken en wat alles van hierdie aarde in prioriteit verreweg oortref!!
  10. Yahweh Ro’i – Yahweh is my Herder. Tehielliem 23:1 "Yahweh is my herder; niks sal my ontbreek nie." Hy is die Een wat ek met vrymoedigheid kan volg; na wie se stem ek met vrymoedigheid kan luister en aan wie se sorg ek my met vrymoedigheid kan toevertrou.

 

Ken jy hierdie Een wat Homself in die bladsye van sy Woord aan die mens openbaar het?

Ken en gebruik jy sy Naam en die rykdom van betekenis wat daaraan verbind word?

Beklee Hy die plek in jou lewe wat deur die bogenoemde gedeeltes uitgestippel word?