WAT REG IS IN YAHWEH SE OË
(Konings van Yehudah wat ‘n navolgenswaardige voorbeeld gestel het)
Asa – konsekwentheid (spaar selfs nie sy eie moeder nie)
1 Melagiem15:11 En Asa het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh net soos sy vader Dawied:
15:12 hy het die skandseuns uit die land laat wegtrek en al die drekgode verwyder wat sy vaders gemaak het.
15:13 Ja, selfs sy moeder Maágah het hy as gebiedster afgesit, omdat sy 'n afgryslike voorwerp vir Asherah gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en in die dal Kiedron verbrand.
Yahuásh – doelgerigtheid (herstel die huis van Yahweh, kom wat wil)
2 Melagiem 12:2 En Yahuásh het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh, al sy dae waarin die priester Yahuyada hom onderrig het.
12:4 En Yahuásh het aan die priesters gesê: Al die geld wat as afgesonderde gawes in die huis van Yahweh gebring word, gangbare geld, elkeen se personegeld waarvoor hy geskat is, en al die geld wat iemand vrywillig in die huis van Yahweh bring,
12:5 mag die priesters vir hulle neem, elkeen van sy bekende, en hulle moet die bouvallige plekke van die huis herstel waar 'n bouvallige plek ook al gevind word.
12:6 Maar toe in die drie en twintigste jaar van koning Yahuásh die priesters die bouvallige plekke van die huis nie herstel het nie,
12:7 het koning Yahuásh Yahuyada, die priester, en die priesters geroep en aan hulle gesê: Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke van die huis nie? Nou dan, julle moet geen geld van julle bekendes aanneem nie, maar dit gee vir die bouvallige plekke van die huis.
GiezkiYah – lojaliteit (hang Yahweh aan sonder om af te wyk)
2 Melagiem 18:3 En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh net soos sy vader Dawied gedoen het.
18:4 Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die afgesonderde boomstamme omgekap en die koperslang wat Mosheh gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Yiesraél tot op daardie dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Negushtan genoem.
18:5 Hy het op Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, vertrou, sodat onder al die konings van Yehudah na hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie.
18:6 Ja, hy het Yahweh aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat Yahweh Mosheh beveel het.
18:7 En Yahweh was met hom; waar hy ook heen uittrek, was hy voorspoedig; en hy het in opstand gekom teen die koning van Ashur en hom nie gedien nie.
YoshiYah – gebrokenheid (verootmoedig hom voor Yahweh oor sonde)
2 Melagiem 22:2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh en geheel en al in die weg van sy vader Dawied gewandel en nie regs of links afgewyk nie.
22:11 En toe die koning die woorde van die boekrol van die Torah hoor, het hy sy klere geskeur;
22:12 en die koning het bevel gegee aan GielkiYah, die priester, en Agikam, die seun van Shafan, en Agbor, die seun van MigaYah, en Shafan, die skrywer, en AsaYah, die dienaar van die koning, en gesê:
22:13 Gaan raadpleeg Yahweh vir my en vir die volk en vir die hele Yehudah oor die woorde van hierdie boekrol wat gevind is; want die gramskap van Yahweh is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boekrol om te handel ooreenkomstig alles wat ons voorgeskryf is nie.
22:18 Maar aan die koning van Yehudah wat julle stuur om Yahweh te raadpleeg, aan hom moet julle so sê: So sê Yahweh, die Elohiem van Yiesraél: Wat die woorde betref wat jy gehoor het -
22:19 omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van Yahweh verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gesê het, dat hulle 'n voorwerp van verbasing en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, sê Yahweh.
Yahushafat – afhanklikheid (roep Yahweh aan in gebed, sonder om te skroom)
2 Kronieke 20:2-12 Toe hulle kom en aan Yahushafat berig bring en sê: Daar kom 'n groot skare teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Gatsetson-Tamar - dit is Enghedi - het Yahushafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om Yahweh te soek, en hy het oor die hele Yehudah 'n vasdag uitgeroep. En Yehudah het byeengekom om van Yahweh hulp te soek; selfs uit al die stede van Yehudah het hulle gekom om Yahweh te soek. Toe gaan Yahushafat in die vergadering van Yehudah en Yerushalayiem staan, in die huis van Yahweh, voor die nuwe voorhof; en hy sê: Yahweh, Elohiem van ons vaders, is U nie Elohiem in die hemel nie, en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie. Het U, onse Elohiem, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Yiesraél uit verdryf en dit vir altyd aan die nageslag van Avraham, u vriend, gegee nie? En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U 'n afgesonderde plek tot eer van u Naam gebou, met die gedagte: As daar oor ons rampspoed kom - swaard, straf of pes of hongersnood - sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos … Onse Elohiem, sal U nie teen hulle strafoplegging voltrek nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot skare wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.
20:14 Toe kom die Gees van Yahweh in die midde van die vergadering op Yagaziél, die seun van ZegarYah, die seun van BenaYah, die seun van Yeíél, die seun van MattanYah, die Lewiet uit die kinders van Asaf;
20:15 en hy het gesê: Luister, almal wat uit Yehudah is en inwoners van Yerushalayiem en u, koning Yahushafat! So sê Yahweh aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot skare nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van Elohiem.
20:32 En hy het gewandel in die weg van sy vader Asa en daar nie van afgewyk nie, en het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh.
AmatsYah – grootmoedigheid (luister na raad, ten koste van sy eie planne)
2 Kronieke 25:2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh, maar nie met 'n volkome hart nie.
25:6 Ook het hy uit Yiesraél honderd duisend dapper helde vir honderd talente silwer gehuur.
25:7 Toe kom daar 'n man van Elohiem na hom en sê: o Koning, laat die kommando van Yiesraél nie saam met u gaan nie, want Yahweh is nie met Yiesraél, met al die kinders van Efrayiem nie.
25:8 Maar gaan u alleen, tree moedig op in die geveg; Elohiem sal u laat val voor die vyand; want by Elohiem is krag om te help of te laat val.
25:9 Maar AmatsYah sê aan die man van Elohiem: En wat moet met die honderd talente gemaak word wat ek aan die troepe van Yiesraél gegee het? En die man van Elohiem antwoord: Yahweh kan u baie meer gee as dit.
25:10 Toe het AmatsYah hulle afgesonder, naamlik die troepe wat uit Efrayiem na hom gekom het, om na hulle woonplek te trek; maar hulle het baie kwaad geword vir Yehudah en teruggegaan na hulle woonplek in gloeiende toorn.
25:11 Maar AmatsYah het moed geskep en sy manne aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seír, tien duisend, verslaan.
UzziYah – opregtheid (soek Yahweh gedurig, angstig om meer te leer)
2 Kronieke 26:4 En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh net soos sy vader AmatsYah gedoen het.
26:5 En hy het Elohiem gedurig gesoek in die dae van ZegarYah, wat onderrig gegee het in die vrees van Elohiem. En in die dae dat hy Yahweh gesoek het, het Elohiem hom voorspoedig gemaak.
Yahutam – voorbereidheid (rig sy weë voor die aangesig van Yahweh)
2 Kronieke 27:2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh net soos sy vader UzziYah gedoen het; alleenlik het hy nie in die tempel van Yahweh ingegaan nie; en die volk het nog verderflik gehandel.
27:3 Hy het die Boonste Poort van die huis van Yahweh gebou, en aan die muur van die Heuwel het hy baie gebou.
27:4 Verder het hy stede gebou op die berge van Yehudah, en in die bosse het hy forte en torings gebou.
27:5 Ook het hy oorlog gevoer teen die koning van die kinders van Ammon en hulle oorwin, sodat die kinders van Ammon hom in daardie jaar honderd talente silwer en tien duisend kor koring en tien duisend kor gars gegee het; dit het die kinders van Ammon vir hom ook in die tweede en derde jaar gelewer.
27:6 En Yahutam het magtig geword, want hy het sy weë gerig voor die aangesig van Yahweh sy Elohiem (Engels: "prepared his ways before Yahweh")
Die naam "Yahutam" (wat beteken "Yahweh is volmaak") vat op treffende wyse saam wat deur die lewens van elkeen van hierdie 8 konings geïllustreer word: Ons lewe in ‘n onvolmaakte wêreld en boonop is ons eie harte ver van volmaak – daarom is dit verreweg die beste opsie om onsself vir hierdie lewe (en die lewe hierna) voor te berei deur so na as moontlik aan Yahweh te wandel en so ver as moontlik op Hom te steun. Omdat Hy volmaak is, is Hy ons waarborg vir voorspoed, seën en sukses in alles wat ons mag aanpak hier op aarde, hoe klein of hoe groot dit ook al mag wees …