WET EN GUNS (2)

Ons het by ‘n vorige geleentheid die Skrif se standpunt oor die verhouding tussen wet en guns ondersoek en vasgestel dat Yahweh nooit bedoel het dat hierdie twee aspekte gesien moet word as twee teenoorgesteldes wat mekaar uitsluit nie. Toe die profete oor die koms van die Messias geprofeteer het, het hulle telkens beklemtoon dat sy geboorte die begin sou wees van ‘n tydperk van besondere gunsbetoning en ‘n nuwe openbaring van die goedertierenheid en goedgunstigheid van Yahweh. Maar nie een enkele profeet het ooit voorspel dat die wet of die Torah op enige manier sou wegval nie. Nee, almal het juis beklemtoon dat die Torah met die koms van die Messiaanse era weer sy regmatige plek in die lewens van gelowiges sou inneem. Ek lees die afgelope week dat iemand skryf: "Many a lie has been told in the name of Christianity". Een van die grootste leuens wat seker nóg onder die dekmantel van die Christendom vertel is, moet die leuen wees dat die Messias ‘n einde gemaak het aan die Torah en ‘n radikale boodskap van Torah-loosheid of wetteloosheid verkondig het.

Die skokkende gevolg van hierdie populêre siening van ‘n groot deel van die Christendom, is dat die houding al hoe meer ingeneem word dat die mens self ‘n ingebore en inherente aanvoeling het van wat hy behoort te doen en wat nie en dat hy nie wette "van bo af" nodig het om sy lewe te reël nie. Die mens self staan in die sentrum – hý is in beheer, sy eie hart sal hom lei – daar is nie iemand "van buite af" nodig om vir hom voorskrifte oor die lewe te kom gee nie. Soms word hierdie lewensfilosofie so effens vergeestelik en dan word daar bygevoeg: "Ons het mos die Gees in ons harte – Hy sal keer dat ons nie die verkeerde besluit neem nie." Maar in wese bly dit dieselfde gesindheid van: Elke mens het die finale seggenskap en reg van besluitneming oor wat hy wil doen en wat hy nie wil doen nie. Die feit dat die Skrif uitdruklik leer: die versinsels wat die mens in sy hart bedink is voortdurend net sleg (Bereshiet / Genesis 6:5) en die hart is bedrieglik bo alle dinge (YermeYahu / Jeremia 17:9) en wie op sy eie hart vertrou is ‘n dwaas (Mieshleh / Spreuke 28:26) – dít word hoegenaamd nie in berekening gebring nie en word selfs gerieflikheidshalwe vergeet.

In een van die internet nuusblaaie het daar die afgelope week ‘n bydrae verskyn wat my oog gevang het. Die opskrif daarvan was: "Where is the mercy?" In die artikel beskryf die skryfster ‘n toneel wat sy in die hospitaal teëgekom het: ‘n man in ‘n rystoel wat een been verloor het en van die middel af ondertoe verlam was, wie se hele wese die boodskap uitstraal dat daar niks meer is wat hy van die lewe verwag nie – ‘n mens sonder hoop, sonder vreugde en sonder die lus om te lewe. Die skryfster skryf haar artikel met deernis en met ‘n hart wat uitgaan na hierdie man (en ‘n mens het waardering vir die manier waarop sy dit doen), maar dan kom sy by die eintlike punt wat sy wou maak en sy vra hierdie absoluut deurdringende vraag: "What is it about the human race, I wondered anew, that will sentence a man to suffer worse than an animal in the gutter, that will allow his life to be reduced to pain, suffering, inarticulate indignity, and still keep in effect a law that says we may not put him out of his misery?"

Dit tref my dat die skryfster van hierdie artikel worstel met dieselfde vraag waaroor ons die afgelope tyd besin het: Law and Mercy, of Wet en Guns. Sy benader egter die hele vraagstuk vanuit ‘n ander hoek. Sy benader dit vanuit haar deernis met mense wat swaarkry en vanuit ‘n hart wat iets wil doen aan die lyding wat sy in die wêreld rondom haar waarneem. Ek haal my hoed af vir haar oor die sensitiwiteit en die empatie wat sy met haar artikel uitstraal. Maar ek vind in myself ‘n kriewelrigheid (om die minste te sê) oor die implikasies van haar artikel: Die implikasie dat enige wet of beginsel of morele waarde wat vir ‘n mens ongerief of selfs pyn veroorsaak, liewer geskrap moet word. Die implikasie dat die swaarkry en ongerief wat ‘n mens deurmaak, meer gewig behoort te dra as een van die ewige beginsels wat Yahweh pertinent in sy Woord laat opteken het – in hierdie geval die beginsel dat ‘n mens nie die reg het om te besluit wanneer ‘n ander persoon se lewe beëindig moet word nie.

Dit gaan nie vir my hier in die eerste plek oor die hele kwessie van genadedood nie. By ‘n ander geleentheid kan ons dalk meer spesifiek dáárby stilstaan. Dit gaan oor die arrogansie en grootheidswaan van die mens om te dink dat sy eie belange en sy eie begeertes, belangriker is as Yahweh se belange en begeertes, soos dit onder meer neerslag gevind het in die opdragte wat Hy vir ons in die Woord laat opteken het. Die sinnetjie waarmee die skryfster hierbo haar artikel afgesluit het, bevestig vir my hoe deur en deur humanisties haar aanslag is en hoe min sy daarvan verstaan dat Yahweh en sy Woord die hoogste bron van gesag in ons lewens behoort te wees. Sy skryf: "There is something wickedly immoral about keeping such a system in place. If we are not truly our brother's keeper, then what is our purpose on this earth?" Is dit nie ironies nie dat sy hier ‘n aanhaling uit die Skrif neem ("our brother’s keeper") en daarmee probeer om ‘n subtiele vorm van moord goed te praat, terwyl hierdie woorde juis uitgespreek is in ‘n konteks waarin Yahweh sy afkeur te kenne gegee oor Kain wat op onregmatige wyse die lewe van sy broer Abel geneem het? En moenie dink dat hierdie manier van dink net sporadies voorkom nie. Inteendeel. Op hierdie betrokke nuusblad kon mense kommentaar lewer op die artikel as hulle wou. Daar is 70 mense wat kommentaar gelewer het en sover ek kon agterkom was daar nie een van hierdie 70 wat dit gewaag het om te sê dat Yahweh se wette groter gewig dra as ons mense se ongerief en slegte ervarings nie.

Ek glo dat elkeen wat Yahweh liefhet, geroep word om nie net "our brother’s keepers" te wees nie (in die sin waarin die Skrif dit éíntlik bedoel), maar ook "our Father’s seekers" (in die sin waarvan onder meer gepraat word in Ezrah 8:22: "Die hand van onse Elohiem is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat"). Kom ons kyk na ‘n aantal tekste in die Skrif wat die aspek van liefde en lojaliteit en gehoorsaamheid aan Yahweh, bo alles, beklemtoon.

Isa 29:13 Hierdie volk kom nader met hulle mond en eer My met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is.

1Sa 2:30 Maar nou sê Yahweh: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.

Mal 1:6 'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy meester. As Ek dan 'n Vader is, waar is my eer? En as Ek 'n Meester is, waar is die vrees vir My?

2Ch 16:9 want Yahweh - sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.

Psa 34:9 Vrees Yahweh, o sy afgesonderdes, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.

Deu 12:28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders na jou goed kan gaan tot in ewigheid.

Isa 1:19-20 As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en rebels is, sal julle deur die swaard geëet word.

Mat 5:6 Geseënd is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

1Jn 2:4 Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie.

Heb 5:8 Hy … het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, 'n bewerker van ewige verlossing geword.

Rev 14:7 En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees Elohiem en gee Hom eer, want die uur van sy oordeel het gekom.