WIE IS ONS TOG?
Oor die afgelope paar weke het die besef tot ons deurgedring dat dit dringend noodsaaklik geword het om ons voor Yahweh te verootmoedig en sy guns af te smeek oor onsself en die wêreld waarvan ons deel is. Daar is besluit om ‘n Dag van Verootmoediging uit te roep en Messiaanse gelowiges reg oor die hele land op te roep om hierby in te skakel. Ons het reeds by meer as een geleentheid die Skrif ondersoek en probeer vasstel watter soort gesindheid die Vader soek by mense wat hulle voor Hom verootmoedig. Dit gaan uiteraard oor méér as net nederigheid. Dit gaan ook oor ‘n diepe besef van Wie die Almagtige is, wat sy karakter is, hoe Hy voel oor dit wat tans in die wêreld gebeur en wat ons kan doen om weer nader te kan kom aan Hom en aan sy volmaakte wil vir ons lewens. In die Skrif is daar ‘n hele aantal voorbeelde van mense wat tot die besef gekom het dat daar tussen hulle en die Een wat in die hemel woon ‘n onmeetlike groot verskil is en, in die lig hiervan, byna in verwondering staan daaroor dat Yahweh nogtans met hulle bemoeienis maak. Kom ons kyk kortliks na sommige van hierdie gedeeltes en kyk wat ons by ons voorgangers in die geloof kan leer oor die gesindheid en die motief wat met verootmoediging behoort saam te gaan.