WIE MAG KLIM OP U BERG?
Almal van ons word soms deur mense teleurgestel – selfs deur hulle wat ons die heel meeste vertrou. Keer op keer besef ‘n mens maar net: Soos onsself, het almal rondom ons tekortkominge en foute. Dit laat ‘n mens vrae vra soos: Wie is daar nog wat werklik vertrou kan word? Wie is daar rondom ons wat enigsins met ons Vader in die hemel vergelyk kan word? In die boek Tehielliem word daar dikwels vrae gevra wat met die woord "wie" begin, en dan is die bedoeling: "Watter mens …?" Watter mens is daar nog wat werklik kan help en kan ondersteun en kan verstaan – wat werklik vir my ‘n steunpilaar kan wees? En dan natuurlik die tergende vraag, wat hierby aansluit: Watter mens is daar nog wat Yahweh soek en Yahweh vrees en doen wat Yahweh behaag? Kom ons kyk na sommige van hierdie vrae in Tehielliem en na die aangrypende waarhede wat telkens in antwoord op hierdie vrae aangebied word.
V: Wie sal ons die goeie laat sien? (4:6) A: Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is. Ek wil (ek kan) in vrede gaan lê … want U, o Yahweh, alleen laat my in veiligheid woon.
V: Wie mag klim op die berg van Yahweh? (24:3) A: Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.
V: Wie tog is die man wat Yahweh vrees? (25:12) A: Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit.
V: Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien? (34:12) A: Bewaar jou … lippe dat hulle nie bedrog praat nie. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.
V: Wie sal my bring in die versterkte stad? (60:9) A: Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid. In Elohiem sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.
V: Wie is soos Yahweh onder die seuns van El? (89:6) A: 'n El uiters gedug in die raad van die afgesonderdes en vreesaanjaend bo almal wat rondom Hom is? Grootmagtig is U, o Yah, en u trou is rondom U!
V: Wie ken die sterkte van u toorn en u gramskap, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? (90:11) A: Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!
V: Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid? (94:16) A: As ek dink: My voet wankel - dan ondersteun u goedertierenheid my, o Yahweh!
V: Wie kan die magtige dade van Yahweh uitspreek, al sy roem verkondig? (106:2) A: Geseënd is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen … besoek my met u verlossing, dat ek … bly kan wees in die blydskap van u volk, my kan beroem met u erfdeel.