WOORDE VAN WAARDIGHEID EN WAARHEID
Woorde het kragtige en verreikende gevolge. Met woorde kan jy iemand bemoedig. Met woorde kan jy iemand laat lag. Met woorde kan jy iemand so ver kry om sy hele lewenskoers te verander. Met woorde kan jy iemand so seer maak dat die emosionele wonde jare neem om te herstel.
Almal van ons het al die geweldige invloed van woorde ervaar. Soms is hierdie invloed so sterk dat dit jou hele dag kan opkikker. Soms sê iemand net iets – byna terloops – wat jou gemoedstoestand totaal verander. Soms lees jy iets – woorde op papier – wat ‘n uitwerking op jou het, positief of negatief. Almal word nie eweveel deur ‘n sekere woord geraak nie. Net soos almal nie vir dieselfde grappe lag nie. As ek nou sou sê: "Hoe meer mense ek ontmoet, hoe meer hou ek van my hond" sal party mense dink dis snaaks, ander sal dink ek is beledigend. Ander sal dalk glad nie dink dis snaaks nie. Hoe jy gaan reageer, sê niks oor hoe dom of hoe slim jy is nie. Dit sê meer oor watter soort woorde jou aantrek, wat jou uitkyk op die lewe is. Miskien is jy meer filosofies of realisties ingestel en vind meer aanklank by iets soos die volgende: "Eat right. Stay fit. Die anyway."
Ek wil terugkeer na die gesegde "Hoe meer mense ek ontmoet, hoe meer hou ek van my hond". Dis snaaks, maar dis presies hoe baie mense voel oor ander mense rondom hulle. Hoekom is dit so? Is dit nie onder andere omdat mense met hulle woorde soveel skade aanrig nie? Is dit nie so dat die skerp en dikwels vennynige woorde van mense jou dikwels laat voel dis beter om alleen te wees as om gedurig die pyle uit mense se monde te moet trotseer nie? Dus wil jy ook sê: "Hoe meer mense ek ontmoet, hoe meer hou ek van my hond" – dis nou te sê as jy ‘n hond het. Die ironie is net dat meeste van ons besef dat ons self skuldig is daaraan dat ons woorde soms soos pyle is. ‘n Mens kan die hond-gesegde verander deur "hond" te vervang met "mond": "Hoe meer mense ek ontmoedig, hoe minder hou ek van my mond." Is dit dalk hoe JY soms oor jou eie woorde en jou eie mond voel? Skaam en vol berou omdat jou woorde nie woorde van bemoediging was nie, maar die woorde van Ya’akov (Jakobus) 3 – vol dodelike gif, onbedwingbaar soos ‘n fontein waaruit bitter water opborrel. Of die woorde van Mieshleh (Spreuke) 5:3 – dit kom uit ‘n verhemelte wat gladder is as olie. Van hierdie soort woorde praat Tehielliem 55:21: Hulle is sagter as olie, maar hulle is skerp soos ontblote swaarde. Van hierdie soort woorde lees ons ook in Mieshleh 12:18 "Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing." Die uitdaging van die Woord is dat ek en jy tonge sal hê wat genesing vir die mense rondom ons bring. Dat ons woorde nie woorde van vernietinging en verleentheid sal wees nie, maar woorde van waardigheid en waarheid.
Een van die eerste getuienisse wat ons van die Messias in die Skrif verneem, is vir ons opgeteken in Lukas 4:22 "En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Yosef nie?" Ons het die laaste tyd baie gepraat oor die getuienis van Y'shua, wat een van die twee hoofeienskappe is wat in Openbaring aan die ware gelowiges gekoppel word. ‘n Getuienis gaan eintlik oor woorde. Dit lyk vir my hierdie getuienis sluit in dat mense ook van ons sal kan sê, soos van Y'shua, dat daar gereeld aangename woorde uit ons monde gekom het. Die woorde van die Een wie se volgelinge ons is, het mense se lewens aangeraak en verkwik. Sy woorde was woorde van gees en lewe (Yahuganan 6:63,68) – woorde wat doodsheid verdryf en weer lewe by mense aanwakker. Kan dit van jou en my woorde gesê word? Is dit deel van die getuienis oor ons – in die monde van mense wat ons dophou en soms ook onder mekaar bespreek?
Iemand het eenmaal gesê: As die sonde van die hele mensdom in twee gelyke hope verdeel moet word, sal die een hoop net uit sonde van die mond bestaan. Mense sal dalk beswaar aanteken en sê: Maar van die tien gebooie is daar net een wat oor woorde gaan – die negende gebod wat sê jy mag geen valse getuienis spreek nie. Op hierdie beswaar kan ons antwoord: Wat van die eerste gebod wat sê ons mag geen ander magtiges dien nie en die res van die Skrif wat dit kwalifiseer deur te sê ons mag nie eers die name van ander magtiges uit ons monde laat uitkom nie? Wat van die derde gebod wat sê ons mag nie die Naam van Yahweh ydellik gebruik of vervals of tot niks laat kom nie? Wat van die vierde gebod wat sê dat ons die Shabbat moet afsonder en saam daarmee YeshaYahu 58:13 wat sê dat ons op die Shabbat nie ydele taal moet praat nie. Wat van die vyfde gebod wat sê ons moet ons vader en moeder eer en Shemot 21:17 en Mieshleh 20:20 wat spesifiek sê dat ons ons vader en moeder nie met ons woorde mag te na kom nie? Wat van die sesde gebod wat sê ons mag nie moord pleeg nie en die Messias wat in MattietYahu (Matteus) 5:22 daarop uitgebrei het deur te sê dit beteken onder andere jy mag nie vir jou broer sonder rede kwaad word en vir hom sê "Jou dwaas" nie? Miskien is die vergelyking van die twee hope na alles nie so ver verkeerd nie.
Wat is die Skrif se lering oor hoe ons hierdie lewensbedreigende tydbom van onbeheersde woorde onder bedwang kan bring? Eintlik is dit baie eenvoudig en baie prakties: Dink voor jy praat. Bedwing jouself. Ons praat in vergelyking met ons luister moet proporsioneel wees tot die feit dat ons twee ore het en een mond. So lees ons in Mieshleh (Spreuke) 10:19 "By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig" en in Mieshleh 17:28 "Selfs 'n sot sal as hy stilbly, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig" en in Mieshleh 29:20 "Het jy 'n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir 'n dwaas is daar meer hoop as vir hom." In die boekie "John Ploughmen’s Talk" het Charles Spurgeon onder meer die volgende geskryf: "They who talk much lie much. If men only said what was true, what a peaceable world we should see. Silence seldom makes mischief; but talking is a plague to the parish. Silence is wisdom; but by this rule, wise men and wise women are scarce. Still waters are the deepest, but the shallowest brooks brawl the most. This shows how plentiful fools must be. An open mouth shows an empty head. If the chest had gold or silver in it, it would not always stand wide open. Talking comes by nature, but it needs a good deal of training to learn to be quiet; yet regard for truth should put a bit into every honest man's mouth and a bridle upon every good woman's tongue."
Woorde is ten diepste bedoel om te skep en te leer en te bemoedig en te herstel en te loof. Die Skrif waarsku ernstig teen woorde wat verkeerd ingespan word. Woorde wat onverstaanbaar of dubbelsinnig is (1 Kor 14:9); woorde wat tot geen nut is nie (2 Tim 2:14); woorde wat misleidend is (Efes 5:6); woorde wat skynheilig is (Tehielliem 55:21); woorde wat van ander kwaadspreek (1 Kor 6:10); woorde wat vol bitterheid is (Rom 3:14); woorde wat tot valse gerugte lei (Shemot 23:1); woorde van iemand wat bemoeisiek ("busybody") is (1 Tim 5:13); woorde wat leuens uitstrooi (Mieshleh 14:5); woorde in die vorm van vleitaal met ’n verborge motief (1 Tess 2:5); woorde wat in trotsheid uitgespreek word (Yehudah / Judas 1:16); ensovoorts. Laat ons onthou dat die verseëldes wat in Openbaring 14:5 sonder gebrek voor die troon van Elohiem gestaan het, hulle was in wie se monde geen bedrog gevind is nie
Kom ons gebruik ons woorde meer om Yahweh te vereer en te prys en minder om mense by te kom of te bespreek. Vir oulaas, nog ‘n aanhaling van Spurgeon: "Any goose can cackle … any empty barrel can give forth sound … The flies will not go down your throat if you keep your mouth shut, and no evil speaking will come out either. Think much, but say little; be quick at work and slow at talk; and, above all, ask the Almighty to set a watch over your lips."
Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Yahweh, my rots en my verlosser! (Tehielliem 19:14).