WYSHEID VAN BO
Dat gelowiges "wysheid van Bo" nodig het om in vandag se wêreld staande te kan bly, nugter te kan wees en die regte besluite te kan neem, ly geen twyfel nie. As Yahweh vir ons vandag in n droom moes kom sê: "Begeer wat Ek vir jou moet gee", soos Hy vir Shelomo gesê het toe hy nog n jong seun was, sal ons dalk net soos Shelomo ook moet antwoord: "
Gee aan u kneg 'n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk (of: om reg te spreek oor ons naaste), om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer (of: wie sou die talryke probleme waarmee mense in die jaar 2010 te kampe het, kan hanteer?). Toe ons as gesin die afgelope week hierdie betrokke hoofstuk in 1 Melagiem (1 Konings) 3 gelees het, waarin onder meer verwys word na die saak van die twee babas wat Shelomo moes hanteer toe twee vroue na hom gekom het met die versoek dat hy uitsluitsel moes gee oor wie nou eintlik die regte ma was van die baba wat bly lewe het, het n mens stilletjies gewonder of daar vandag nog sulke "snaakse" tipe probleme tussen mense ontstaan. Maar hoe meer n mens hieroor nadink, hoe meer besef jy: As daar onder Shelomo se tydgenote verbasing bestaan het oor die tipiese geskille van daardie tyd, kan ons vir hulle sê: "You aint seen nothing yet!" Kyk maar net na een episode van "Judge Judy" op die TV. Vind net n bietjie uit wat is die daaglikse items op die hofrol van n landdroshof, soos die een hier in Wynberg, of waar ook al. Doen n bietjie navorsing op die internet ek het op n saak afgekom waarin n vrou van Palm Beach, Florida, die hele "County" van Florida gedagvaar het omdat n groot gans haar aangeval het terwyl sy en haar seun n openbare park in Florida besoek het. Die gans het eers op haar seun afgestorm, maar nadat sy tussenbeide getree het, het die gans haar toon gebyt en in die gestoeiery wat ontstaan het, het sy geval en haar stuitjie gebreek. Nou dagvaar sy die County omdat daar nie behoorlike waarskuwingsborde in die park aangebring is nie. Die County se verweer is "we have no obligation to post signs warning visitors to the park of obvious conditions."Die tipe omstandighede wat gelowiges vandag moet trotseer, is allesbehalwe "obvious conditions". Dis komplekse probleme, wat oplossings vra wat deur "wysheid van Bo" gekenmerk word. Meeste van die tyd is dit nie die tipe probleme wat met hofsake opgelos kan word nie. Trouens, die Skrif sê juis dat n gelowige liewer nie sy medemens na die hof toe moet sleep nie. Tussen die soort wysheid wat in die geregshowe na vore kom en die wysheid wat van Bo kom, is daar dikwels n hemelsbreë verskil. En as gelowiges lê ons laaste toevlugsoord en vergoeding by Yahweh, nie by die uitsprake wat in howe gemaak word nie. Kom ons ondersoek die Skrif om opnuut vas te stel hoe lyk hierdie wysheid wat van Bo kom en wat kan óns doen om hierdie wysheid in ons leefwêreld toe te pas.
Shemot (Ex) 23:2
Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in 'n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.Yahuganan (Joh) 7:51
Oordeel ons Torah die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?Tehielliem (Ps) 42:5
Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op Elohiem; want ek sal Hom nog loof - die verlossing van sy aangesig!2 Kor 4:7-9
Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van Elohiem mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.Tehielliem (Ps) 119:161
Heersers het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.2 Tim 3:10-11
Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochië, in Ikonium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Meester het my uit almal verlos.Mieshleh (Spr) 28:6
Die arme wat in sy integriteit wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is.2 Kor 6:4-10
maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van Elohiem, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.Kohelet (Pred) 5:19
Ook vir elke mens aan wie Elohiem rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit 'n gawe van Elohiem.1 Tim 6:17-19
Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende Elohiem wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle 'n skat weglê, 'n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle dit wat werklik lewe is, kan verwerf.Shemot (Ex) 23:4
As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit beslis vir hom terugbring.Gal 5:6
Want in die Messias Y'shua het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.1 Shemuél (1 Sam) 2:3-9
Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; want Yahweh is 'n El van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die heersers en hulle 'n erestoel te laat beërwe. Want aan Yahweh behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig. Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die afvallige mense kom om in duisternis; want 'n mens oorwin nie deur krag nie.2 Kor 4:1-2
Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie. Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van Elohiem nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor Elohiem aan.