'N WAARDIGE KONING

Daar is mense wat só 'n fenomenale impak op 'n gemeenskap, 'n nasie of selfs die wêreld gehad het dat hulle na hulle dood op 'n manier vereer word wat 'n mens uiteindelik nie anders kan beskryf nie as: 'n Verering en 'n ophemeling wat meer en groter is as wat enige gewone, geskape mens toekom. Ek het in die afgelope week begin nalees oor 'n sekere bekende persoon, oor wie daar onder meer die volgende gesê word: "He is the greatest cultural force of the 20th century... He is the greatest who ever was, is or ever will be ... He made an imprint on the world unequalled by any other single person... He was the first and the best... He was a giant and influenced everyone in the business... No one, but no one, is his equal, or ever will be - he was, and is supreme... He was the most popular man that ever walked on this planet since the Messiah... He came along and whispered some dream in everybody's ear, and somehow we all dreamed it ... There have been a lot of tough guys, there have been pretenders, and there have been contenders, but there is only one king." Hierdie laaste aanhaling kom van Bruce Springsteen. En die een oor wie al hierdie lofbetuiginge gemaak word, is niemand minder nie (eintlik moet ons se: niemand meer nie) as Elvis Presley.

Vir jare lank word daar met groot bewondering onder musiekliefhebbers na Elvis verwys as "The King". Dit is hierdie maand presies 30 jaar gelede dat Elvis op die relatief jeugdige ouderdom van 42 jaar dood aangetref is in sy huis, Graceland, in Memphis, Tennessee - op 16 Augustus 1977. Oor die afgelope 30 jaar het Elvis se populariteit onder die breë publiek nie minder geword nie - dit het eintlik meer geword. Meeste mense verkies om die donker wolk wat veral die laaste deel van sy lewe omring het en die swakhede en tekortkominge van die mens, Elvis, te vergeet en net die superhero, die kulturele fenomeen, Elvis, te onthou. Vir dertig jaar lank word daar nou reeds elke jaar in Augustus 'n pelgrimstog uit alle dele van die wêreld na Graceland meegemaak om Elvis se dood te herdenk. Vanjaar het daar die afgelope week 'n geraamde 75 000 mense in Graceland saamgedrom. Reg deur die jaar kom daar sowat 600 000 mense uit alle wêrelddele om Graceland te besoek. Die maatskappy wat na Elvis se dood tot stand gekom het, Elvis Presley Enterprises, verdien jaarliks baie meer geld uit toerisme en musiekverkope en "Elvis memorablia" as wat Elvis self verdien het toe hy nog gelewe het.

Dan is daar mense wat verkies om hulle verering van Elvis 'n stap of twee verder te neem. Hoe hulle voel oor Elvis en wat Elvis en sy musiek vir hulle beteken, word verhef tot op 'n godsdienstige vlak en vind uitdrukking in rituele en praktyke wat in die lig van die Skrif as gruwelike afgodsdiens bestempel moet word. In Australië is daar 'n kerk wat hulleself noem: The First Presleyterian Church of Elvis the Divine! Op hulle amptelike webblad word onder meer die volgende gesê: "On a spiritual quest, Minister Anna stumbled upon the Church after realising her profound love for The King and truly acknowledging his divine qualities. For years Minister Anna had felt the divine presence of Elvis with her, in fact, she'd travelled each, and every, highway. But more, much more than this, she wanted to do it her way." lemand met die naam Gregory Reece het 'n boek geskryf met die titel: "Elvis Religion: The Cult of the King". In die boek sê Reece dat hy eenkeer 'n vrou in 'n hospitaal wagkamer in Memphis ontmoet wat teenoor hom erken het dat sy letterlik alles wat sy het, verkoop het en vanaf California na Memphis verhuis het, "just to be with Elvis" - byna 15 jaar na Elvis se dood! Reece sê in sy boek hy kan nie heeltemal die vinger lê op wat dit in die nagedagtenis van Elvis is wat mense so aangryp nie, maar dat hy glo "Elvis inspires the common man to believe that he, too, could aspire to greatness" en dat daar om die rede soms na Elvis as "The Memphis Messiah" verwys word. Dis teen hierdie agtergrond dat mens besef hoe geseënd en bevoorreg jy is as jy 'n Koning aanhang wat baie groter is as "The King of Rock" of "Elvis the divine" of "The Memphis Messiah" .

 

  1. Ons Koning, Y'shua die Messias, is waardig om geëer te word, omdat Hy waarlik uit die dood opgestaan het en lewe en volgens talle profesieë in die Skrif, as Koning sal terugkom na hierdie wêreld.
  2. Ons Koning is waardig om geëer te word, nie vanweë sy menslik aangedrewe populariteit nie, maar vanweë die feit dat Hy deur Yahweh die Almagtige verordineer is om redding te bring aan mense wat vir sy koninkryk bestem is.
  3. Ons Koning is waardig om geëer te word, nie omdat die massas ter wille van hulle eie plesier agter Hom aanstroom nie, maar omdat daar 'n "remnant" in hierdie wêreld is wat Hom eers as ware Messias herken het toe hulle hulle eie belange en voorkeure op die agtergrond geskuif het.
  4. Ons Koning is waardig om geëer te word, omdat daar geen vinger gele kon word, en vandag nog nie 'n vinger gele kan word, op sy onbesproke karakter, sy absoluut geloofwaardige getuienis, sy volmaakte voorbeeld en sy vleklose lewenstyl nie.
  5. Ons Koning is waardig om geëer te word, nie omdat Hy "the great American dream" aan ons voorgehou het nie, maar die vooruitsig van lewe tot in ewigheid voor die troon en voor die aangesig van Yahweh, die Almagtige.
  6. Ons Koning is waardig om geëer te word; omdat Hy ons kan bemoedig en vertroos op 'n vlak ver verhewe bo die vlak van "Help me make it through the night".
  7. Ons Koning is waardig om geëer te word, nie omdat sy musiek en sy liedere so besonders is nie, maar omdat daar soveel in Hom is wat vir ons rede gee om musiek te maak en liedere tot sy eer te sing.
  8. Ons Koning is waardig om geëer te word, omdat Hy die absolute misleiding uitgewys het van die lewensfilosofie wat saamgevat kan word met die titel van die lied: "I did it my way" ('n Lied wat deur beide Frank Sinatra en Elvis Presley bekend gemaak is).
  9. Ons Koning is waardig om geëer te word, nie slegs omdat Hy die regte geluide gemaak het of van die regte afkoms was of hier en daar goeie werke gedoen het nie, maar omdat Hy deur sy hele lewe (en sy dood) vertroue ingeboesem het en bewys het dat sy aansprake en sy uitsprake waar en betroubaar is.
  10. Ons Koning is waardig om geëer te word, omdat Hy nie net 'n koning in een faset van die lewe is nie, maar 'n Koning aan wie 'n mens jou hele lewe, jou emosies en jou denke, al jou prioriteite en al jou planne, ja, jou hele toekoms kan toevertrou.