Wanneer Yahweh in my pyn verskyn
Daar het n paar jaar gelede n boek van Coenie Nolte verskyn met die titel: "Wanneer God in my pyn verdwyn". Coenie het die boek geskryf na aanleiding van die traumatiese belewenis van n dogter wat selfmoord gepleeg het en die wroeging wat hy as pa deurgemaak het om hierdie tragedie te verwerk. Ek het die boek nog nie self gelees nie, maar het n artikel gelees wat die skrywer oor sy stryd en sy geloofskrisis geskryf het. In die artikel (en soos wat ek kan aflei, ook in die boek) kom n mens diep onder die indruk van die geweldige en intense dilemma waarin hierdie gebeurtenis hom as n gelowige gedompel het. n Mens ontmoet hierin n man wat opnuut begin het om die wortels en die integriteit van sy eie geloof of soos hy dit noem: die geloofspakkie wat andere aan hom oorhandig het te ondersoek en te weeg en te toets aan dit wat hy self beleef het. En dan erken hy ruiterlik: "Ek het n wilsbesluit geneem om van my God van gister, die almagtige Vader, die God in die kassie waarmee ek groot geword het, afskeid te neem hom dood te verklaar en van voor af buite die kassie te begin soek na God".
Laat ons nie te haastig wees om Coenie te veroordeel nie. Hoe sou ons ooit kon weet wat hy alles in sy ure en jare van benoudheid deurgemaak het? Wie is ons om soos Job se sogenaamde vriende voor te gee dat ons al die antwoorde ken? Mens kan jou liewer daaroor verbly dat hierdie man in sy donkerste uur nie die deur na die Almagtige toegeklap het of met sy soektog opgehou het nie, maar dat hy dieper en dringender as ooit tevore begin soek het. En in die tussentyd, so glo ek werklik, by antwoorde uitgekom het wat weer sin en betekenis aan sy lewe gee.
Die titel van die boek impliseer dat wanneer n mens pyn en lyding deurmaak, of swaarkry en stryd beleef, kan dit maklik gebeur dat jy Yahweh op die agtergrond skuif, of selfs heeltemal uit jou lewe uitskuif. Ons mense is nou maar eenmaal geneig om die Almagtige en sy betrokkenheid by ons, en sy liefde vir ons, te meet aan hoe goed dit met ons gaan. Daarom glo ons maklik as ons gesond is, en voorspoedig en suksesvol, maar sukkel ons in die geloof as dinge nie verloop soos ons gehoop het nie en die lewe sy tande vir ons wys. Dis net nie altyd so maklik om Yahweh se hand oor ons lewens raak te sien of te herken, wanneer ons deur periodes van sielewroeging en donker dieptes gaan nie. Tog is daar baie getuienisse in die Skrif wat bevestig dat Yahweh in mense se pyn en swaarkry, nie geheel en al verdwyn nie, maar soms bloot tydelik terugstaan, net om uiteindelik op n baie spesiale en betekenisvolle manier weer te verskyn en sy grootheid aan daardie mense te openbaar vir redes wat nie altyd aan hulle wat binne-in die krisis is, bekend is nie. Kom ons kyk opnuut na wat die Skrif vir ons in hierdie opsig leer.