WIE SAL HOM NIE PRYS NIE?

Ons lewe in 'n tyd waarin mense voortdurend op soek is na iets nuuts wat hulle kan vermaak en verryk en vervul. Dinge wat weer sin en betekenis aan die lewe kan gee. Of sommer net dinge om te doen wat jou help om af te skakel, jou aandag weg lei van negatiewe ervarings wat jy gehad het en net te ontspan en weer te "recharge".' Noem dit afwisseling. Noem dit ontvlugting. Noem dit "uit-clutch". Noem dit net wat jy wil. Dis menslik en in hierdie wêreld van ons met soveel negatiewe pyle wat daagliks op almal van ons afkom, is dit sekerlik nodig. Die tipe dinge wat mense uitkies of uittoets in die hoop om een of ander vorm van satisfaksie te bereik, is uiteenlopend van aard. Sommiges soek dit in geld en die najaag van rykdom. Sommiges soek dit in ekstreme vorme van avontuur en sport. Sommiges soek dit in drank en dwelms en seksuele losbandigheid. Sommiges soek dit doodeenvoudig in fliek en televisie en lees en kuier saam met vriende. Sommige soek dit in spesiale stokperdjies. Sommiges soek dit in die een of ander gesondheids- of fiksheidsprogram. Sommiges soek dit in dans of musiek of drama of kuns. Deesdae soek meer en meer mense na vervulling in rekenaar verwante aktiwiteite - van rekenaar speletjies tot internet "chatrooms" (om nie eens van selfoon verwante aktiwiteite te praat nie). Meeste mense soek na ontvlugting in 'n kombinasie van bogenoemde, in die hoop dat hoe meer dinge hulle beproef, hoe groter is die kans om te oorleef in hierdie wêreld.

Sonder om 'n oordeel oor enige van hierdie aktiwiteite uit te spreek, en ook sonder om dit bloot goed te praat, wil ek aan die hand doen dat ons in die Woord gaan kers opsteek en sal herbesin oor wat werklik sal help om geestelik en emosioneel te oorleef in hierdie wêreld. Die Woord bring ons voor die vraag te staan: Wat salons uiteindelik meer verkwik en vervul en versadig deur ons eie hart en denke met nog meer dinge van hierdie wêreld te probeer "voed" as wat alreeds in die normale pas van die lewe gebeur, of deur ons hart en denke te voed met "iets" wat verhewe is bokant die dinge van hierdie wêreld? Maak dit nie sin nie dat as daar "iets" sou wees wat ons kan identifiseer, wat verhewe is bo die aardse, wat groter is as enige iets wat ons hier op aarde ken, kosbaarder as goud, meer werd as al die rykdomme en al die skatte wat ons hier op aarde kan versamel - AS DAAR SO IETS SOU WEES - dat dit die grootste vorm van vervulling en verkwikking sou bring as ons op hierdie "iets" kan fokus en ons daarmee kan begin besighou?

Die feit dat ons vandag hier saam is om die Naam van Yahweh op ons lippe te neem en sy Woord te verneem, is 'n bewys dat ons weet daar is so "iets" wat bestaan. Trouens, daar is meer as net 'n "iets". Daar is lemand wat groter is as enigiets of enige iemand hier op aarde. Om Hom te ken is meer werd as al die skatte van hierdie wêreld. Om van Hom te leer - van sy goedheid en sy geregtigheid en sy volmaakte wil - is kosbaarder as goud en diamante. Om Hom te soek bring groter vervulling as enige van die dinge wat mense deesdae hier op aarde met 'n dolle gejaag en met koorsagtige geskarrel in die hande probeer kry. Die perspektief wat die Woord vir ons bring is dat 'n mens nie Yahweh se grootheid kan leer ken en iets van sy afgesonderdheid kan beleef, en dan kan omdraai en maak asof niks gebeur het nie. Sy grootheid en voortreflikheid is van so 'n aard dat dit "afsmeer" op die een wat hom daarmee besighou. Dit oorweldig die een wat dit raaksien. Dit vul jou hart en dit besiel jou innerlike - al het jy net 'n vlugtige belewenis of 'n klein voorsmakie daarvan gekry. Om Hom raak te sien vir wie Hy is en daarvan kennis te nee m en daaroor te praat met ander en veral daaroor te sing, doen iets aan jou wat geen aardse belewenis aan jou kan doen nie.

Dis hoekom dit so verkwikkend en so opbouend is om die lof van die Almagtige te besing. In die proses om sy Naam groot te maak en sy kwaliteite te besing, word jyself opgebou en versterk so os niemand of niks hier op aarde jou kan opbou en versterk nie. Miskien hou dit verband met die spreuk: "If the Almighty were small enough for our minds, He would not be big enough for our needs." Miskien hou dit verband met wat Shaul (Paulus) eenkeer in Athene gesê het: "Yahweh het al die nasies van die aarde gemaak ... sodat hulle Hom kon soek, sodat hulle Hom kan aanraak en vind ... want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons" (Handelinge 17:26-27). Feite is: Ek en jy floreer wanneer ons die Naam van ons hemelse Vader besing. Kom ons kyk na gedeeltes in die Skrif (wat nie juis as lof en dank gedeeltes bekend is nie) wat hieroor handel.

  1. "En in die hele Yiesrael was daar geen man so mooi soos Avshalom, so geprys (van die werkwoord halal, wat ook na vore kom in die woord Halleluyah) nie: van sy voetsool af tot sy hoofskedel toe was daar geen gebrek aan hom nie" (2 Shemuel 14:25). As dit waar is van Avshalom, hoeveel te meer is dit nie waar van ons hemelse Vader van vrede (Ietterlik: "Av - shalom") nie?
  2. "En hy het uit die Lewiete dienaars aangestelvoor die ark van Yahweh, ,en dit om Yahweh, die Elohiem van Yiesrael, te roem en te loof (halal) en te prys (1 Kronieke 16:4) ... en om more vir more te staan om Yahweh te loof en te prys (halal) , en net so saans" (1 Kronieke 23:30). Onder die Ou Verbond is mense spesiaal aangestel om dit te doen. Kragtens die Nuwe Verbond kan mens verwag dat dit spontaan en oorvloedig uit die harte van gelowiges sal kom.
  3. "Loof Yahweh, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid; en se: Verlos ons, Elohiem van ons verlossing, en versamel ons en red ons van die nasies, dat ons u afgesonderde Naam kan loof en ons beroem in u lof! Geseënd is Yahweh, die Elohiem van Yiesrael, van ewigheid tot ewigheid! En die hele volk het gesê: Amein! en: Prys (halal) Yahweh!" (1 Kronieke 16:34-36). Die diepste rede van ons verlossing - die rede waarom Yahweh ons uit die nasies versamel het - is dat ons sy afgesonderde Naam kan loof en ons kan beroem in sy lof.
  4. "En nou, onse Elohiem, ons loof U, en ons prys (halal) u roemryke Naam. Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee" (1 Kronieke 29:13-14). Die lof van ons lippe is die spontane reaksie van iemand wat ontdek het dat alles wat hy/sy besit in werklikheid 'n gawe van Bo is.
  5. "En toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om Yahweh te prys (halal) en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente, en met: Loof (halal) Yahweh, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! - is die huis, die huis van Yahweh, vervul met 'n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die ligglans van Yahweh het die huis van Elohiem vervul" (2 Kronieke 5: 13-14). Hoe klink dit as 'n alternatief vir diegene wat gedurig op soek is na iets opwindends in hierdie lewe?
  6. "Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van Yahweh by julle, Yehudah en Yerushalayiem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek more teen hulle uit, en Yahweh sal met julle wees ... En die Lewiete ...het opgestaan om Yahweh, die Elohiem van Yiesrael, met 'n baie groot stem te prys (halal) ... En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het Yahweh 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moav en die mense van die berge van Sefer wat teen Yehudah gekom het, sodat hulle verslaan is" (2 Kronieke 20:17-22). Nêrens in die Skrif word die krag van lofprysing beter geïllustreer nie.
  7. "So het dan die kinders van Yiesrael wat in Yerushalayiem aanwesig was, die Fees van die Ongesuurde Brode sewe dae lank met groot blydskap gevier, terwyl die Lewiete en die priesters Yahweh dag vir dag geprys (halal) het met kragtige instrumente tot eer van Yahweh. En GiezkiYah het na die hart van al die Lewiete gepraat wat deeglik kennis geopenbaar het in die saak van Yahweh; en hulle het die feesoffer sewe dae lank geëet, terwyl hulle dankoffers geslag en Yahweh, die Elohiem van hulle vaders, geloof het" (2 Kronieke 30:21-22). Miskien salons ook meer deeglik kennis openbaar in die saak van Yahweh as ons groter plek gee aan lofprysing in ons byeenkomste.