Xenofobie

Xenofobie het die nuwe gonswoord in Suid Afrika geword. Ontstellende berigte van geweld in die townships, beeldmateriaal wat oor die media met vooraf waarskuwings en ouderdomsbeperkings aangebied word en eksplisiete uitbeeldings van haat wat ‘n mens met afgryse vervul was die afgelope twee weke aan die orde van die dag. Mense in die brandpunt van xenofobiese geweld sê hulle word soos diere behandel. Zimbabwiërs, Malawiërs, Mosambiekers, Angolese, Somaliërs, Nigeriane, Keniane en mense afkomstig uit ander Afrika lande het ewe skielik die status van "bedreigde spesie" en "ongewenste insypelaars" in Suid Afrika gekry – soortgelyk aan dit wat 6 of 7 dekades gelede met die Jode onder Hitler en die Nazi regime gebeur het. En terwyl mense uit talle Afrikalande in die verlede ‘n heenkome en ‘n helpende hand in Suid Afrika gevind het wanneer sake begin skeefloop in hulle geboorteland, vind daar nou ‘n omgekeerde eksodus plaas waarin die "xeno’s" of die "vreemdelinge" in hulle duisendtalle ons land verlaat. Dieselfde hand wat voorheen in ‘n gebaar van vriendskap na hulle uitgesteek is, hou nou ‘n klip vas, of ‘n slaanding of selfs ‘n vuurwapen, en word brutaal teen hulle opgelig.

Die woord "xenofobie" is van Griekse afkoms ("zenos" + "fobos") en beteken letterlik "vreemdelinge vrees". Die woord impliseer dat die inwoners van ‘n bepaalde land die vreemdelinge of die "uitlanders" wat hulle in daardie land kom vestig het, vrees en wantrou en hulle daarom nie op dieselfde manier benader en behandel as wat hulle met hulle eie landgenote sou doen nie. In werklikheid is die woord "xenofobie" nie juis ‘n akkurate beskrywing van dit wat nou in ons land gebeur nie. Dit is lankal nie meer ‘n geval van Suid-Afrikaners wat die vreemdelinge vrees nie. Dit het nou die punt bereik waar dit die vreemdelinge is wat die Suid-Afrikaners vrees. Is dit nie ‘n ontsettende tragedie nie? Mense wat juis ter wille van hulle eie behoud uit ander lande gevlug het, word nou gedwing om weer van voor af te vlug. Mense wat vol hoop na ‘n land gekom het wat in Afrika terme as veilig en stabiel en florerend beskou is, moet op die wreedste denkbare manier uitvind dis hier nog erger as waar hulle vandaan kom. En sommiges wat al vir langer as 10 of 20 jaar hier gebly het, is skielik nie meer welkom in hulle eie huise nie. Wat eers as "xenofobie" begin het, het nou met "xenofonie" geëindig. Die Griekse woord "fonos" dui op moord, doodslag, menseslagting, en bloedvergieting en is tien maal erger as om bloot net bang te wees vir mense wat anders is as jy. Xenofobie, in die letterlike sin van die woord, is verstaanbaar, xenofonie is onverskoonbaar.

Eintlik is xenofobie iets wat ons almal ken en boonop is dit iets wat op sigself nie op ‘n ramp hoef uit te loop soos wat ons nou in Suid Afrika beleef nie. Is dit nie maar deel van ons menswees dat ons almal diep in ons binneste ‘n soort vrees koester teenoor vreemdelinge nie? Is dit nie juis een van die duur lesse wat baie van ons uit ons eie geskiedenis van rassehaat en wantroue en vooroordeel moes leer nie? Dat xenofobie oorkom kan word deur daardie een wat vir jou ‘n vreemdeling is, op te soek en te leer ken en in jou lewensruimte toe te laat. Dat, deur iets van jouself aan vreemdelinge te gee en jouself (binne perke) bloot te stel deur jou eie emosies en vrese bekend te maak, vreemdelinge later nie meer vir jou vreemdelinge is nie, maar vriende en vertrouelinge en geesgenote. Dat mense wat voorheen vreemdelinge vir mekaar was, ánders oor mekaar kan begin voel as hulle dit kan regkry om mekaar in die oë te kyk, wedersyds foute te erken en mekaar te vergewe as dit nodig is.

Iemand van Noordhoek het die afgelope week ‘n brief geskryf wat op die internet gepubliseer is. In die brief word verwys na ‘n voorval van xenofobie in ons eie omgewing. Hier is ‘n kort uittreksel van die brief: "I came across a lone figure, guarding over a lifetime of possessions packed into suitcases on the pavement. It rocked my world. I've read the stories, watched the news and debated the senselessness for hours. But to actually see the uncertainty and fear in someone's eyes is another story all together. I stopped my car on the side of the road. I didn't know what to do. I must have watched him for 10 minutes, not knowing what my next step should be. As his family joined him, along with two young children, I felt tears prick my eyes. It wasn't fair; it could've been me at the side of the road with my two kids. An air of hopelessness surrounded this small group. I felt ashamed to offer assistance now, having ignored their plights for work at traffic lights for years. But this is different; tonight they had nothing to return to."

Wat mens in hierdie brief kan sien, en ook in die reaksie van baie mense wat met skok en afgryse kennis geneem het van dit wat besig is om op die oomblik in ons land te gebeur, is die ander kant van die muntstuk. Hier sien ons die teenoorgestelde van xenofobie, naamlik xenofilia, wat ‘n mens sou kon vertaal as "vriendskap of liefde teenoor vreemdelinge." Wat meesal in die koerante geplaas word en toenemend ook in die buitelandse media sal opduik, en heel moontlik buite proporsie opgeblaas sal word, is voorbeelde van xenofobie, soos die sensasie-behepte wêreld dit ken. Slagspreuke wat uitgeskreeu word, dreigemente wat gemaak word, huise wat aan die brand gesteek word en mense wat brutaal aangerand en selfs vermoor word. Dis die realiteit – dit gebeur op die oomblik in ons land – op ‘n skaal wat totaal onaanvaarbaar is en om redes wat vir meeste mense totaal onbekend is. Maar tussendeur, byna ongemerk, is daar iets moois wat ons moet raaksien en met alles wat ons het, moet ondersteun. Mense reik hulle hande uit na vreemdelinge. Mense maak hulle harte en selfs hulle huise oop vir wildvreemde haweloses. En alhoewel die xenofobiese uitbarstings byna uitsluitlik in die swart woonbuurte plaasvind, is daar meer en meer voorbeelde van xenofilia (vriendskap teenoor vreemdelinge) wat op ‘n daaglikse basis plaasvind, sonder inagneming van velkleur of nasionaliteit. Wit teenoor swart, bruin tenoor swart, swart teenoor swart, Suid-Afrikaner teenoor Afrikaner, mens teenoor mens.

Ons sal goed doen as ons in hierdie tyd, ‘n tyd wat dalk in die geskiedenis opgeteken sal staan as die tyd van die ergste vorm van xenofobie wat Suid Afrika nog ooit geken het, weer ‘n slaggie goed luister na wat die Skrif oor vreemdelinge te sê het. (1) Dat Yahweh self die vreemdelinge liefhet en aan hulle reg laat geskied – soos wat Hy aan sy eie volk gedoen het toe hulle vreemdelinge in Egipte was ("Yahweh … wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee … daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Mietsrayiem" – Devariem / Deuteronomium 10:18-19). (2) Dat hulle wat weet hoe dit voel om self vreemdelinge te wees, nie so arrogant moet wees om ander vreemdelinge te verdruk nie ("Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Mietsrayiem" – Shemot / Eksodus 22:21). (3) Dat ‘n mens uit jou oorvloed altyd iets vir die vreemdeling moet oorhou ("Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly" – Wayyiekra / Levitikus 19:10). (4) Dat die vreemdelinge en die burgers van die land oor dieselfde kam geskeer moet word ("Net een wet moet daar vir julle wees - die vreemdeling moet soos die kind van die land wees; want Ek is Yahweh" – Wayyiekra / Levitikus 24:22). (5) Dat diegene wat die vreemdelinge en die minderbevoorregtes onregverdig behandel, as vervloektes gebrandmerk word ("Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai" – Devariem / Deuteronomium 27:19). (6) Dat gelowiges in die Messias in wese niks ander as vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld is nie ("Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel. en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad praat soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, Elohiem kan lof toebring in die dag van strafoplegging" – 1 Kefa / 1 Petrus 2:11). (7) Dat enige mens wat sonder die Messias lewe en geen erg het aan die verbond en die beloftes wat op Hom van toepassing is nie, ‘n vreemdeling sonder hoop in hierdie wêreld is ("Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in daardie tyd sonder die Messias was, vervreemd van die burgerskap van Yiesraél en vreemdelinge met betrekking tot die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder Elohiem in die wêreld" – Efesiërs 2:11-12)