YERMEYAHU IN KONTEKS
Die profeet YermeYahu word onder die grootste profete van alle tye gereken. Meer as enige ander profeet wie se profesieë in die Skrif opgeneem is, het die profeet YermeYahu erns daarmee gemaak om die woord van Yahweh onvervals en “onverdun” aan die volk oor te dra. Hy het die profetiese woorde wat hy van Yahweh ontvang het, dikwels ten koste van homself uitgespreek. Uit die geskrifte van hierdie profeet kan afgelei word hoedat hy soms deur ‘n diepe worstelstryd moes gaan wanneer hy ‘n verdoemende boodskap moes bring aan die volk Yisrael vir wie hy so innig lief was. Ons kan by hierdie profeet leer – nie net deur die inhoud van sy profesieë te bestudeer nie, maar veral ook deur die omstandighede te bestudeer waarin elkeen van hierdie profetiese woorde uitgespreek is. Teen hierdie agtergrond is dit van die grootste belang dat die uitsprake van hierdie profeet, net soos elke ander uitspraak in die Skrif, nooit uit die konteks gehaal word waarin dit vir ons aangebied word nie. In hierdie kort studie kyk ons na bekende tekste uit vyf van die bekendste hoofstukke van YermeYahu, naamlik YermeYahu 29-33.
1. Yerm 29:11-12 “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek Yahweh, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.” Hier het ons een van die wonderlikste beloftes in die ganse Skrif – een wat meeste gelowiges baie lief is om vir hulleself en vir ander toe te eien en toe te pas op ‘n sekere situasie waarin hulle mag verkeer. Laat ons egter nie nalaat om die konteks van hierdie belofte volledig in ag te neem nie. YermeYahu gee hierdie woord aan ‘n groep mense wat in ballingskap in Babilonië is. Tussen hulle is daar vals profete wat ter wille van gewildheid onder die mense en geldelike voordeel, allerlei profesieë bring van voorspoed en spoedige uitkoms uit die haglike omstandighede van ballingskap. YermeYahu kry opdrag om die bedrog en leuens van hierdie profete reg te stel: “Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie. Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur nie, spreek Yahweh. Want so sê Yahweh: Eers as sewentig jaar vir Bavel (Babel) verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring” (29:8-10). Die belofte wat volg (vers 11-12) staan dus in die konteks van: Yahweh gaan nie nou julle omstandighede verander nie. Weens julle volgehoue ongehoorsaamheid moet die volle periode van 70 jaar ballingskap eers uitgedien word. Daarna sal Yahweh Hom weer oor julle ontferm, want ten spyte van alles is sy bedoeling nog steeds om vir julle vrede en ‘n hoopvolle toekoms te gee.
2. Yerm 30:10 “Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Ya’akov, spreek Yahweh; en wees nie verskrik nie, o Yisra’el! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Ya’akov sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak.” Hier is nog ‘n belofte wat mense graag vir hulleself toe-eien en dit is ook reg dat gelowiges beloftes soos hierdie vir hulleself toe-eien, maar dan moet die konteks deeglik in ag geneem word. Hierdie gedeelte toon duidelik aan dat die verlossing wat Yahweh belowe, die verlossing van Ya’akov en van Yisrael is. Die “ver plekke” wat hier genoem word, is die ver plekke waarheen die volk in ballingskap weggevoer is – eers die tien Noordelike stamme (ongeveer 722 v.M. na Assirië) en daarna die twee Suidelike stamme (ongeveer 587 v.M. na Babilonië). Dit dui onteenseglik daarop dat Yahweh se verlossingsplan vir die ganse wêreld as’t ware ingebed is in die verlossing van Yisrael en al haar nasate wat as gevolg van die ballingskap reg oor die wêreld verspreid geraak het. Ons moet onthou dat die grootste gedeelte van die Yisrael (die tien Noordelike stamme) nooit uit ballingskap teruggekeer het nie, en dat hulle nasate vir alle praktiese doeleindes oor die hele wêreld versprei het en vermengd geraak het met die “alle volke en nasies en tale” waarvan daar onder meer in Dan 7:14 gepraat word. Die boodskap wat vandag nog deur die wêreld moet weerklink is dat Yahweh nie van Yisrael vergeet het nie: “Want Ek is met jou, spreek Yahweh, om jou te verlos. Want Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie”. Hy het nie met ‘n “nuwe” verlossingsplan vorendag gekom wat op ander grondbeginsels gebou is en wat Yisrael nie meer insluit nie. Nee, op ‘n wonderlike manier sluit die Vader se oorspronklike plan met Yisrael in dat mense soos ek en jy ook opgeneem word as deel van die Yisrael van Elohiem (Gal 6:16) en kan begin om die Naam aan te roep van die Elohiem van Yisrael. Dit is die vervulling van sy belofte in YermeYahu 30 dat Hy hulle sal vermenigvuldig (vers 19) dat sekeres hulle lewe sal waag om nader te kom na Hom toe (vers 21) en dat hulle vir Hom ‘n volk sal wees en Hy vir hulle ‘n Elohiem (vers 22).
3. Yerm 31:31-32 “Kyk, daar kom dae, spreek Yahweh, dat Ek met die huis van Yisra’el en die huis van Yehudah ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Mitsrayiem (Egipte) uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek Yahweh.” Hoeveel maal het gelowiges nie al hierdie teks vir mekaar aangehaal met die bedoeling om ander te bemoedig nie. Hoeveel gelowiges is daar nie vandag wat hierdie teks gebruik om te “bewys” dat die nuwe verbond in alle opsigte van die ou verbond verskil nie. Vers 32 sê immers dat die nuwe verbond nie sal wees soos die verbond wat net na die uittog uit Mitsrayiem gesluit is nie. Die konteks toon egter duidelik in watter opsig die nuwe verbond van die ou verbond sal verskil. Die een groot verskil tussen die ou verbond en die nuwe verbond is dat Yisrael die ou verbond telkens verbreek het (vers 32), maar dat dit met die nuwe verbond anders sal wees. Met die nuwe verbond sal dit nie eens meer nodig wees dat die een vir die ander sê: Ken (of dien) Yahweh nie, want almal sal Hom ken, klein en groot (vers 34). Onder die ou verbond het mense vanweë hulle sonde en hulle volk se sonde voor Yahweh geween en gekla (vers 9, 15, 18); met die koms van die nuwe verbond is daar die wete dat Yahweh ons ongeregtigheid vergewe het en aan ons sondes nie meer dink nie (vers 34). Vir die mense onder die ou verbond was die wet op kliptafels geskrywe; vir diegene onder die nuwe verbond word (dieselfde) wet nou op die tafels van hulle hart geskrywe (vers 33). Daar is ‘n nuwe, innerlike motivering om Yahweh te behaag en sy opdragte te gehoorsaam.
Hierdie hoofstuk bied vir ons een van die mees sterk-bewoorde motiverings in die hele Skrif waarom iemand wat nog buite staan, na Yahweh toe moet terugkeer en spesifiek by Yisrael moet aansluit (Let Wel: Yisrael is nie gelyk aan die “Jode” soos hulle vandag bekend staan nie, alhoewel dit duidelik is dat daar ook Jode sal wees wat uiteindelik in die seën van die nuwe verbond sal deel).
3.1 Die Vader het vir Yisrael onomwonde gesê dat Hy haar liefhet met ‘n ewige liefde en haar getrek het in goedertierenheid(3).
3.2 Die oppassers (die “natsariem” – hulle wat deur Yahweh “bewaar” word en ook sy gebooie “bewaar”) staan op die berge van Efrayiem en roep: “Maak julle klaar en laat ons optrek na Tsion, na Yahweh onse Elohiem” (6).
3.3 Yahweh het belowe dat Hy die oorblyfsel van Yisrael uit die agterhoeke van die aarde bymekaar gaan maak, insluitende blindes en lammes en swangeres en barendes (8).
3.4 Yahweh sê Hy self het Yisrael verstrooi en Hy self sal hulle weer vergader en hulle bewaar soos ‘n Herder sy kudde (10).
3.5 Yahweh belowe dat Hy vir Yisrael die “seëninge van Yahweh” sal skenk en dat hulle siel sal wees soos ‘n welbesproeide tuin en dat hulle nooit weer sal kwyn nie (12).
3.6 Yahweh belowe dat Hy Yisrael op ‘n wonderbaarlike manier sal troos deur hulle rou in vreugde te verander en hulle kommer in blydskap (13).
3.7 Yahweh sê dat Efrayiem sy dierbare seun en sy troetelkind is, dat sy ingewande oor Efrayiem in beroering is en dat Hy Hom sekerlik oor hom sal ontferm (20).