DIE ENIGSTE
DOOP WAT DIE APOSTELS GEKEN HET
Die Woord verklaar onomwonde dat daar net één doop is - net soos daar net één
liggaam en één geloof is (Efes 4:4-6). Reg van die begin af was dit van die
uiterste belang dat die eenstemmigheid, eensgesindheid en eenvormigheid binne
die geloofsgemeenskap bewaar en beskerm sou word, ter wille van die eenheid van
die liggaam van die Messias. 'n Liggaam sonder eenheid is nie werklik meer 'n
liggaam nie. Die tragiese feit is egter dat daar vandag hoegenaamd nie meer
eenheid in die kerk (in sy geheel) is nie - nie eenheid in geloof nie, nie
eenheid binne die liggaam nie en ook nie eenheid in soverre dit die doop aangaan
nie. Wat was die geheim van die kenmerkende eenheid van die vroeë Handelinge
gemeente? Hulle het volhard in die leer van die apostels en in
onderlinge gemeenskap met mekaar (Hand 2:42). Dieselfde kan egter nie van
latere gemeentes en latere geslagte van gelowiges gesê word nie. Talle was nie
bereid om "van harte gehoorsaam (te word) aan die voorbeeld van die leer wat aan
(hulle) oorgelewer" is nie (Rom 6:17). Talle het nie op hulleself en op die leer
gelet en daarin volhard nie (1 Tim 4:16). Ons pluk vandag die wrange vrugte van
die kerk se onvermoë om van die vroegste tye af nougeset in die leer van die
apostels te volhard.
Moet ons ons
oë sluit en stilbly daaroor as gelowiges rondom ons kies om 'n ander koers in te
slaan as wat duidelik in die Skrif geleer word? Die Skrif sê oor en oor ons mag
so iets nie maar net gelate aanvaar nie. Paulus sê: "As iemand iets anders leer
en nie instem met die gesonde woorde van ons Meester, Yahshua die Messias en met
die leer wat volgens die godsaligheid is nie ... onttrek jou aan sulke mense" (1
Tim 6:3-5). Johannes sê "As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie,
ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie." (2 Joh 10). En Yahshua self
sê in die brief aan Thiatire dat sulke mense nie toegelaat mag word om andere te
leer nie (Openb 2:20). Wanneer dit gaan oor mense wat nie noodwendig hierdie
dinge leer nie, maar wat dit glo omdat hulle deur andere mislei is, dan behoort
ons te handel volgens die riglyn en gesindheid van 2 Tim 2:25,26: "Hy moet die
weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of Elohim hulle nie miskien bekering
sal gee tot die kennis van die waarheid nie en hulle weer nugter kan
word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy
wil te doen."
Om terug te
keer tot die tema van die doop - daar is net één doop waarmee gelowiges in die
Nuwe-Testamentiese tyd gedoop is. Wat is die eienskappe en voorwaardes verbonde
aan hierdie doop? Kom ons kyk na 'n aantal aspekte wat in die "leer van die
apostels" na vore kom.
-
Slegs persone wat bereid was om hulle van hulle sondige lewenswyse te
bekeer, wat waarlik in die Messias geglo het en wat
begeer het om hulle sondes deur Hom te laat afwas, is
gedoop.(Mark 16:16; Hand
2:37,38;
Hand 8:36,37;
Gal 3:26,27).
In die konteks van die Skrif is dit ondenkbaar dat 'n ongelowige ooit gedoop
sou word. Die doop was immers 'n openbare getuienis dat 'n persoon hom/haar
met die dood, begrafnis en opstanding van die Messias vereenselwig (d.w.s. glo
dat hy/sy saam met Yahshua gesterf het vir soverre dit die
sondige natuur aangaan, opgestaan het in 'n nuwe lewe waar die
sonde nie meer die botoon voer in sy/haar lewe nie en bo alles uitsien na sy/haar
eie opstanding uit die dood wanneer Yahshua weer kom - Rom
6:3-9). As daar slegs maar die moontlikheid bestaan het dat 'n ongelowige of
'n "nog-nie" gelowige gedoop kon word, sou dit 'n streep trek deur die
besondere betekenis van die doop (as 'n sigbare bewys dat iemand gekies het om
die Messias te aanvaar en te volg). Daarom is dit ook totaal ondenkbaar
dat die Messias of enige apostel ooit sou instem dat 'n suigeling of 'n jong
kind wat nie die volle konsekwensies van 'n keuse vir die Messias kon aanvaar
nie, gedoop mag word. Die letterlike betekenis ("baptizo" = "onderdompel,
doop of deurdrenk"), sowel as die simboliese betekenis van die doop (vergelyk
hierbo) sluit ook enige moontlikheid uit dat iemand wat gedoop is, slegs met
water "besprinkel" of "begiet"is.
-
Wanneer die Skrif verwys na volwassenes wie se "huis" of "huishouding"
(Gr. "oikos" of "oikoi") saam met hulle gedoop is, spreek dit duidelik (in
elkeen van die 5 beskrywings in die Nuwe Testament van "oikoi" wat gedoop is)
van daardie lede van die huishouding (bywoners en slawe ingesluit) wat as
individue 'n pertinente keuse tot geloof in die Messias gemaak
het (vgl. punt 1 van Bylaag). Die Skrif leer beslis nie dat die doop 'n
verbondsteken is op dieselfde wyse as wat die besnydenis 'n verbondsteken was
nie (vgl. punt 2 van Bylaag). Die besnydenis is 'n teken wat "geplaas" is op
elke Joodse babaseuntjie wat gebore word om aan te dui dat die hele
Israel
ingesluit word by hierdie (ou) verbond (Gen 17:10). Die feit dat Israel (as
nasie) nie hulle kant van hierdie verbond nagekom het nie, het meegebring dat
Yahweh (nog steeds teenoor Israel as nasie - vgl. Jer 31:31) 'n nuwe
verbond aangekondig het wat met die koms van die Messias 'n
werklikheid geword het (Matt 26:28). Die wese van die nuwe verbond is dat
Yahweh voorsiening gemaak het dat diegene wat berou het oor die dade van
ongeregtigheid wat onder die ou verbond gepleeg is, vergifnis in die Naam van
Yahshua kan ontvang deur die "afwassing" van hulle sondes (Eseg
36:25). Dit is ten diepste die simboliese betekenis van die doop (vgl. Hand
22:16). Dis asof die Vader vir sy volk kom sê: Deur julle weiering om my
verbond te hou, verdien julle die vloeke en die straf wat duidelik deel
uitmaak van die verbond (vgl. Deut 28:15). Maar in my groot liefde gaan Ek my
verbond hernu deur die koms en die werking van die Messias - diegene wat Hom
as Verlosser aanvaar en aanhang, sal "vrygespreek" en "skoongewas" word van
die straf wat hulle in werklikheid verdien (vgl. Jer 50:20). Net soos onder
die ou verbond, maar hierdie keer op 'n nog groter skaal, word die deur
oopgemaak sodat diegene "buite" Israel ook deel kan kry aan die voorregte en
die verantwoordelikhede van die verbond (vgl. Jes 56:6,7). Die onus rus egter
op die indiwidu (Jood of nie-Jood) om die volle implikasies van
die nuwe verbond te aanvaar of te verwerp (vgl. Hand 2:21,37,38,40,41). Talle
het dit verwerp en is nooit gedoop nie. Baie het dit aanvaar en is toe gedoop
- al is hulle ook voorheen besny - as bevestiging dat hulle sondes afgewas is
en dat hulle hulle vereenselwig met die dood en opstanding van die Messias
(Gal 3:27).
- 'n
Vraag wat in ons dag opnuut gevra word, is die vraag "Hoe moet daar gedoop
word?" - of meer spesifiek: "In wie se Naam moet iemand gedoop word wat tot
geloof in die Messias gekom het?" Ons is nog steeds besig om ons te bepaal by
"die leer van die apostels" wat in navolging en in gehoorsaamheid aan die
Messias van die vroegste tye af in die gemeetes geleer is. In wie se Naam het
die apostels gedoop en geleer dat daar gedoop moet word? Dit is duidelik dat
dit uitsluitlik in die Naam van Yahshua die Messias was. Die
volgende gedeeltes toon onteenseglik aan dat die doop in die Naam van Yahshua
die Messias die enigste doop is wat die apostels geken,
verkondig en toegepas het: Hand 2:38; Hand 8:16; Hand 10:48; Hand 19:5; Hand
22:16; Rom 6:3,4; 1 Kor 1:11-13 en Gal 3:26-29. Hierdie feit word bevestig
deur talle gedeeltes in die Nuwe Testament wat dit onomwonde stel dat
verlossing slegs ontvang word in die Naam van Yahshua (vgl. o.m.
Matt 24:9; Mark 16:16-17; Luk 21:17; Joh 3:18; Hand 3:6; Hand 4:10; Hand 4:18;
Hand 4:30; Hand 5:40; Hand 8:12; Hand 9:27-29; Hand 16:18; Hand 19:17; 1 Kor
1:2; 1 Kor 6:11; Fil 2:10; Kol 3:17; 1 Joh 3:23; 1 Joh 5:13; Openb 14:1) of
slegs deur geloof in Yahshua (vgl. o.m. Joh 3:15-16; Joh 6:29;
Joh 6:40; Joh 6:47; Joh 7:39; Joh 10:9; Joh 14:6; Hand 4:12; Hand 10:43; Hand
16:31). Die getuienis van die Nuwe Testament in sy geheel is oorweldigend en
kan nie weerspreek word nie.
-
Daar is egter een vers wat lyk of dit die getuienis hierbo weerspreek en dit
is Matt 28:19: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle
in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om
alles te onderhou wat Ek julle beveel het." Die frase "in die Naam van die
Vader en die Seun en die Heilige Gees" kom nêrens anders in die Skrif voor nie.
Dieselfde frase word egter reeds vir eeue lank as 'n liturgiese formule in
baie kerke gebruik word om uitdrukking te gee aan die leerstuk van die
Drie-eenheid (lees gerus die afsonderlike studiestuk oor hierdie onderwerp).
Sommige Skrifverklaarders meen om verskeie redes dat hierdie formule 'n latere
byvoeging by die oorspronklike teks van Matt 28:19 was om aan te sluit by 'n
gebruik wat later in die kerk ontstaan het. Of ons nou hiermee saamstem, of
nie, die feit bly staan dat elkeen van die apostels wat teenwoordig was toe
Yahshua hierdie woorde kort voor sy hemelvaart uitgespreek het, het dit op
presies dieselfde manier verstaan: Maak dissipels ... doop hulle in MY
NAAM ... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
"Vader", "Seun" en "Heilige Gees" is nie name nie - dis beskrywende titels wat
die verlossing deur die koms van die Messias omskryf. Boonop was die opdrag: "Doop
hulle in die Naam ..." (enkelvoud). Sonder om enige vraag te vra of enige
bespreking hieroor te hou, het die apostels eenvoudig heengegaan en elke nuwe
gelowige gedoop in die Naam van Yahshua, die Messias - die enigste Naam
waardeur ons gered moet word (Hand 4:12). Hy het immers sy Naam van die Vader
ontvang (Joh 17:11) - ja, Hy het die Naam van sy Vader geopenbaar (Joh 17:6)
en die Afgesonderde Gees is in sy Naam deur die Vader gestuur (Joh 14:26).
