BL, Namibia
Ek gaan hierdie getuienis van jou (oor jou en vrou se doop) vir my familie aanstuur en ek vertrou dat dit hulle alhoemeer aan die dink sal sit … Ek wil graag weet wat toe verder in julle lewe gebeur het nadat julle julle toe laat doop het, jy het my behoorlik nuuskierig.
KOMMENTAAR:
Dis moeilik om dit wat oor die afgelope ses jaar met ons gebeur het in 'n paragraaf of drie saam te vat, maar ek gaan probeer.
Ek en Hannelie het ons albei in 1998 in die Jordaanrivier laat doop. Ek is een maand daarna (hieroor, en oor my standpunt oor die kinderdoop, wat uiteraard toe verskil het van die amptelike standpunt van die kerk) as leraar uit die NG Kerk geskors waarna ons as gesin alle bande met die NG Kerk verbreek het. Dit was uit die aard van die saak vir ons geweldig traumaties, maar Yahweh het op 'n kragtige manier voorsien en ons lewens op die koers geplaas wat Hy vir ons in gedagte gehad het. Minder as 'n week na ons skorsing het iemand vir ons 'n huis in Vishoek aangebied waarin ons gratis kon bly - so lank as wat ons begeer. Ons het in die huis ingetrek en hierdie selfde huis twee jaar later by die eienaar gekoop. Ons getroue Vader het ons BONATUURLIK in staat gestel om die huis te koop en verdere aanbouings te doen, sonder om 'n sent skuld te maak! Danksy die aanbouings is die huis vandag groot genoeg vir 'n groep gelowiges van tussen 30 en 50 om weekliks bymekaar te kom en ander aktiwiteite, insluitende administratiewe funksies, hier te vervul.
Ons het vandag nie meer die luuksheid van 'n pensioenfonds, mediese fonds, korttermyn versekering en ander aardse sekuriteite nie, maar ons kan nie ophou om te getuig van die goedheid en guns van Hom wat selfs nie gehuiwer het om sy eie Seun in ons plek te laat sterf nie. Daar was nog nie een dag dat ons in enige opsig tekort gehad het nie. Daar was ook nog nie een maand waarin Yahweh ons Vader nie in oorvloed voorsien het nie.
Die Vader se voorsiening op materiële gebied was telkens vir ons 'n bron van groot bemoediging. Dit wat Hy egter in ons harte en in ons gees kom deponeer het, is selfs nog meer en nog groter as wat ons ooit kon voorsien of kon verlang. Oor 'n tydperk van byna ses jaar het Hy vir ons die ryke betekenis van sy Naam, Yahweh, en die Naam van sy Seun, Yahshua, kom leer. Hy het ons die betekenis van die Messias se woorde in Matt 5:17-19 kom leer: "Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele."
Hy het ons die betekenis van die sewende dag Shabbat kom leer, en dat dit nooit sy bedoeling was dat hierdie dag vergeet sou word of deur 'n ander dag vervang sou word nie. Hy het ons met nuwe oë laat kyk na die feeste waarvan die Skrif praat, en laat raaksien dat dit nie die "Jode se feeste" is nie, maar "Yahweh se feeste". Hy het ook vir ons kom wys hoe tragies dit is dat Satan dit reggekry om mense se oë te verblind met feeste soos "Christmas" en "Easter", wat deur en deur heidens van oorsprong is.
Ja, ons het ook geleer wat vervolging werklik beteken, want daar is groot weerstand, veral van die kant van Christene, wanneer 'n mens die keuse maak om Yahweh en sy Woord in alles te gehoorsaam. Maar in dit alles het ons die liefde en die getrouheid van ons hemelse Vader op 'n manier leer ken wat voorheen ondenkbaar sou gewees het. Vandag besef ons: As ons nie die eerste tree van gehoorsaamheid gegee het toe Hy met ons oor die doop kom praat het nie, sou al hierdie ander dinge nie bygekom het nie. En ons is oortuig daarvan dat ons nog lank nie die einde van die pad bereik het nie. "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, het Elohiem berei vir die wat Hom liefhet" (1 Kor 2:9). Prys die Naam van ons Elohiem, Yahweh en van sy Seun, Yahshua, die Messias!