JB
, NamibiaVertel asb. meer oor vas en Pesach – Hoe? Wanneer? Hoe gereeld? Ensovoorts.
KOMMENTAAR:
Wat die hele saak van "vas" betref, kan ons maar net die Skrif so suiwer as moontlik navolg. Ortodokse Jode het van die vroegste tye af die gebruik gehad om gereeld twee keer per week te vas. Daar is egter niks in die Skrifte om so 'n gebruik te sanksioneer nie. Dit blyk dat Yahshua se dissipels nie soos die ander Jode (2 keer per week) gevas het nie (in elk geval nie in die tyd van die Messias nie - vgl. Matt 9:14-15). Jy kan in hierdie verband ook kyk na Rom 14 en veral die kommentaar in Woord en Getuienis, by Rom 14:5-6. Dit beteken natuurlik nie dat ware gelowiges nooit nodig het om te vas nie. Die natuurlike manier waarop die Messias oor vas gepraat het (bv. Matt 6:16 e.v.) is vir ons 'n duidelike aanduiding dat daar van tyd tot tyd omstandighede sal wees wat dit nodig maak om te vas (vgl. Matt 17:21). Die doel van vas is vir gelowiges om in 'n situasie van nood of worsteling of kritiese besluitneming hulleself vir 'n periode (normaalweg een volle dag, van sonsondergang tot sonsondergang) van kos en water en ander genietinge van die lewe te onthou, sodat hulle hulle onverdeelde fokus en aandag daaraan kan wy om die aangesig van Yahweh alleen te soek. Om vir hierdie periode geen kos en water in te neem nie, is 'n manier om te erken: Ek het meer as net kos en water en materiële dinge nodig om te kan oorleef - soos die Messias ook erken het toe Hy tydens sy versoeking en vas in die woestyn uit Devariem (Deut) 8 aangehaal het: "Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van Elohiem uitgaan" (Matt 4:4).
Volgens die Skrif is daar net een verpligte vasdag per jaar en dit is die Groot Versoendag wat vanjaar op 25 September 2004 val. Wayyikra (Levitikus) 23:27-32 gee 'n beskrywing van hoe hierdie dag deurgebring behoort te word - dit word onder meer ook as 'n "Shabbat" beskou. Die woord "verootmoedig" in hierdie gedeelte beteken "vas". Ons het 'n boekie oor die kalender en die feesdatums wat ek vir jou sal pos.
Pesag word as die belangrikste feestyd in die Skrif beskou. Vir my is dit niks minder nie as 'n ramp dat die kerk rondom die 4 de eeu besluit het om die fees van Pesag met Paasfees te vervang (Engels: "Easter", afgelei van die naam van die godin "Astarte"). Baie mense sal sê dis dieselfde fees. As 'n mens egter die geskiedenis mooi bestudeer, sien jy duidelik dat daar doelbewus met Pesag (net soos met die Shabbat) weggedoen is, juis omdat daar te veel van 'n "Joodse" konnotasie aan gekleef het. Die datum van Paasfees is jaarliks doelbewus so gekies dat dit nie met Pesag saamval nie. Daar is duidelike riglyne in die Skrif oor hoe die datum van Pesag bepaal moet word (vgl. o.m. Wayyikra / Lev 23). Die klem het met Paasfees heeltemal oorgegaan na die opstanding, terwyl Pesag uiteraard in die eerste plek met die dood van die "eersgeborenes" en van die slagting van die pesaglam te make het (vgl. die instelling van Pesag in Shemot 12). Volgens die Na-Messiaanse Skrifte het die Messias gesterf op dieselfde dag (selfs dieselfde uur) toe die Yehudiem hulle pesag lammers geslag het. Ek wil hoegenaamd nie die opstanding van die Messias degradeer nie; inteendeel, Hy was in alle opsigte die "Eersteling" uit die dode (vgl. 1 Kor 15:20-23) en "eersteling" beteken "die eerste van nog baie wat gaan volg". Volgens die Skrif is die allesbepalende "uur" waarvoor die Messias gekom het, egter sy dood. Dis omdat Hy gesterf het dat daar 'n opstanding - uiteindelik ook 'n opstanding vir jou en vir my - moontlik gemaak is. Elke deeltjie van Yahweh se verlossingsplan vir hierdie wêreld kan teruggevoer word na die feit dat Hy sy eie Seun na hierdie wêreld gestuur het om vir die sondes van verlorenes te sterf.
Pesag val nie elke jaar op dieselfde dag van die week (Vrydag) soos wat die gebruik met Paasnaweek nou is nie. Die Skrif toon baie duidelik aan dat Pesag op die 14 de dag van die maand Aviev gehou moet word. Vanjaar (2004) het dit op Maandag 5 April geval. Ons het baie goeie rede om te vermoed dat Pesag in die jaar van Yahshua se dood op 'n Woensdag geval het. Volgens Matt 12:39-40 is die teken van Yonah die enigste teken van die Messiaskap van Yahshua en hierdie teken behels dat Hy drie dae en drie nagte dood sou wees. As daar aangedring word op 'n Vrydagmiddag teregstelling en Sondagoggend opstanding, word die enigste teken van die Messiaskap van ons Meester vernietig, want daar is eenvoudig nie drie dae en drie nagte tussen Vrydagmiddag en Sondagoggend nie. Die "Shabbat" waarvan 'n gedeelte soos Yahuganan (Joh) 19:31 praat, wat sou volg net na die dood van die Messias, is nie die weeklikse Shabbat nie, maar die fees-shabbat ("die dag van daardie Shabbat was groot"), meer spesifiek: die eerste dag van Ongesuurde Brode wat op enige dag van die week kan val en wat as 'n spesiale Shabbat ingeruim moet word.
Hoe vier ons die Pesag? Eerstens, ons slag uit die aard van die saak nie 'n lam nie, want ons Pesaglam is reeds geslag (1 Kor 5:7-8). Dit beteken egter nie ons hoef nie meer Pesag te vier nie. Die apostels het nog Pesag en Ongesuurde Brode gevier, lank na die dood en opstanding van die Messias (vgl. Hand 18:21; 20:6; 1 Kor 5:7-8). Die Messias self het aangedui dat Hy uitsien na die dag wanneer Hy die Pesag sal vier in die komende koninkryk van sy Vader (Matt 26:29). Ons kom bymekaar in die aand aan die einde van die 14 de dag van die maand Aviev ('n maand begin op die dag nadat die eerste skrefie van die nuwemaan met die blote oog gesien kan word). Dit is op hierdie aand dat ons die instelling van die nuwe verbond herdenk, soos die Messias dit baie duidelik bekendgemaak het (Matt 26:26-28). Dit wat vandag allerweë as "Nagmaal" beskou word, was die jaarlikse pesagmaaltyd wat die Messias saam met sy dissipels gehou het in die aand (nag) voor sy dood. Ongesuurde brood en die wyn (of druiwesap) is van die vroegste tye af twee van die belangrikste items op die tafel tydens 'n Pesagmaaltyd. Nagmaal is nie iets wat weekliks of maandeliks of kwartaalliks gehou moet word nie, maar jaarliks, op die aand van die 14 de dag van die maand Aviev. Tydens hierdie byeenkoms ruim ons ook 'n geleentheid in om mekaar se voete te was, soos die Messias voorgestel het toe Hy voor sy dood saam met sy dissipels geëet het (Yahuganan / Joh 13).
Die sewe dae wat volg direk na Pesag is die Week van Ongesuurde Brode. Voor hierdie sewe dae (beginnende met die aand waarop die Pesagmaaltyd gehou word) moet ons volgens die Skrif alle vorme van suurdeeg uit ons huise verwyder en tydens die sewe dae mag ons slegs ongesuurde brood (en ander voedsel wat geen suurdeeg bevat nie) eet. Die verwydering van suurdeeg laat ons nie net terugkyk (en terugdink) na die uittog uit Egipte nie. Dit help ons om die suurdeeg van sonde en valsheid uit ons eie lewens te verwyder (Matt 16:6; Luk 12:1; 1 Kor 5:6-8). Die Skrif werk dikwels met die beginsel: eers in die natuurlike (realm), daarna in die geestelike (realm) - vgl. 1 Kor 15:46. Let ook daarop dat die eerste en sewende dag van Ongesuurde Brode as spesiale Shabbatte gereken word, waarop daar geen beroepswerk gedoen mag word nie (Wayyikra / Lev 23:6-8 - vanjaar val dit op Dinsdag 6 April en Maandag 12 April). Pesag self - die dag voordat die sewe dae van Ongesuurde Brode begin - is nie 'n Shabbat nie; dit word as 'n voorbereidingsdag beskou waarop die suurdeeg uit ons huise verwyder moet word en alles vir die fees in gereedheid gebring moet word. Dis nie so maklik om hierdie dae as Shabbatte te hou in 'n wêreld wat eintlik nie hierdie dae erken nie, maar as 'n mens die datums vooraf weet, kan daar betyds reelings getref word.