JB, Pretoria
Het jy al "The Passion" gaan kyk en wat dink jy daarvan?
KOMMENTAAR:
Ek het The Passion gesien. Party aspekte was vir my goed, maar net soos die Christendom baie waarhede van die Skrif oor die eeue op 'n subtiele manier verdraai het, word daar myns insiens ook in hierdie fliek gedoen. Daar is duidelike Rooms Katolieke beïnvloeding (soos die oordrewe rol van Maria; die twaalf "verposings" van die Messias op pad na Golgota; die kraai wat een van die tereggesteldes se oë uitpik, ens, wat alles op Rooms Katolieke tradisie, en nie op die Skrif gebaseer is nie). Met die demoniese manifestasies in die fliek (bv. rondom die persoon van Judas) word daar 'n sekere dramatiese effek bereik, maar dis meer as wat die Skrif ons toelaat om voor te stel. Alhoewel sommiges beslis hieroor sal verskil, stem ek saam met Skrifkenners (soos onder meer Vines se gesaghebbende "Expository Dictionary") dat die kruissimbool van heidense oorsprong is en dat die Messias nooit aan 'n kruis opgehang is nie, maar aan 'n paal, met sy hande bokant sy kop vasgespyker, as 'n direkte vervulling van Devariem 21:22-23 (vgl. Gal 3:13). Die basiese betekenis van die Griekse woord "stauros" wat normaalweg in NMG met "kruis" of "kruisig" vertaal word, is volgens woordeboeke "paal" (Engels: "stake") of "aan 'n paal ophang" (Engels: "empale"). In lyn met die onskriftuurlike "ineffable Name doctrine" noem die Messias sy Vader in hierdie fliek "Adonai" ("Here" of "Lord") en word die Naam Yahweh nie een enkele keer gebruik nie. Daar is myns insiens genoegsame bewyse in die Skrif dat dit juis die gebruik van hierdie Naam is wat een van die hoofredes is waarom die Messias tereggestel is. Ek het gehoor en gelees van die wonderlike belewenisse wat verskeie mense gehad het wat hierdie fliek gesien het. Ek kan dit verstaan, want die visuele en dramatiese tegnieke van die film is uitstekend. Ek kan egter nie help om aan die Messias se waarskuwing te dink wat in die gelykenis van El'azar (Lasarus) en die Ryk man na vore kom nie: "27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur-- 28 want ek het vyf broers--om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. 29 Toe sê Avraham vir hom: Hulle het Mosheh en die Profete; laat hulle na dié luister. 30 Maar hy antwoord: Nee, vader Avraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. 31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Mosheh en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan." (Luk 16:27-31). Ek het my bedenkinge oor die "bekering" van diegene wat nie na "Moshe en die Profete" (en ons kan hier byvoeg: die Messias self) wou luister nie, maar nou skielik deur 'n film met uitstekende (mensgemaakte) visuele effekte oortuig word. Miskien is dit nie wat jy gehoop het om te hoor nie, maar dis min of meer hoe ek oor The Passion voel. Ek mag verkeerd wees en wil beslis nie my siening op andere afdwing nie. Voel dus asseblief vry om van my te verskil ...