U noem vir my 'n interesante ding oor Saterdag en Sondag kerk, en nadat ek die artikel oor Kersfees gelees het wil ek nou weet waarom daar traditioneel op Sondag kerk toe gegaan word en waar die gebruik vandaan kom. Is dit ook heidens?
KOMMENTAAR:
Histories is daar geen aanduiding dat gelowiges ooit op Sondae "kerk toe gegaan" het voor ongeveer 100 jaar na Messias nie. Dit wil sê die Messias self het so 'n gebruik nie geken nie, ook nie sy direkte dissipels, soos Kefa (Petrus) en Yahuganan (Johannes) nie en ook nie latere generasies van gelowiges waarvan ons in die Skrif lees (soos Timoteus) nie. Dit is alom bekend dat Sondag oorspronklik die dag van die Son(god) was en dat meeste bekeerlinge uit die heidendom (voordat hulle van die Messias gehoor het) gewoond was daaraan dat Sondae as "aanbiddingsdag" ingeruim is, met ander woorde 'n soort heidense vierdag. Hierdie gebruik is deur die Christendom oorgeneem en "goedgepraat" deur dit aan die opstanding van die Messias te koppel. Die Skrif self weet egter niks van so 'n gebruik nie en vermeld niks van enige ander dag van die week (as net die sewende dag Sabbat) wat as weeklikse rusdag of vierdag of byeenkomsdag ingeruim behoort te word nie. Dit is ook bekend dat Konstantyn in die vierde eeu na Messias 'n amptelike bevel uitgevaardig het dat alle landsburgers "on the venerable day of the sun" (d.w.s. op die Sondag) van al hulle aktiwiteite moet rus. Lank voor hierdie wet egter van krag geword het, was dit die neiging onder kerkleiers om doelbewus afstand te doen van enige maatreel of gebruik wat spesifiek as "Joods" bestempel is. Die Sabbat is as so 'n gebruik gesien. Dit wat vandag as "anti-semitisme" bekendstaan is dus 'n baie ouer sonde as wat meeste van ons gedink het ...