HD, Gauteng
Ek het op die internet vandag meer oor Joodse feesdae gesoek en het op jul webtuiste afgekom. Die artikels op jul webtuiste is geweldig insiggewend en dit voel of dit my geestelike werwelkolom in lyn plaas. Ek dink soveel van ons beweeg teen hoe dit in die natuur deur die Vader bestem is. Ek sou graag meer oor die Bybelse feesdae te wete wil kom. Watter dae, asook hul betekenis. Ek sien dat die nuwe maan telkens ‘n groot rol speel by feesdae.
Kommentaar
Jy sal opmerk dat daar 'n hele paar artikels op ons webtuiste oor die feeste is. Hierdie jaarlikse feeste, saam met die weeklikse Shabbatte en ook die maandelikse nuwemane, is soos jy tereg opmerk, deur die Vader bestem. Die Hebreeuse woord vir "fees" beteken heel letterlik: Vasgestelde of Vooraf-bestemde tyd. Streng gesproke is dit natuurlik nie bloot "Joodse" feeste nie en behoort ons (d.w.s. almal wat hulle met die Elohiem van die Jode vereenselwig)hierdie dae in te rig volgens die gees en patroon wat in die Skrif neergelê word en nie noodwendig soos die Jode dit beoefen nie - die Jode se eie tradisies rondom die feeste wyk soms van die Skriftuurlike patroon af. Uit die aard van die saak is daar ook sekere opsigte waarin ons doodeenvoudig nie al die detail rondom die feeste kan nakom soos dit in die Skrif aangedui word nie (soos bv. die verskillende offers wat met die feeste gepaardgegaan het). Die belangrike vandag is sekerlik DAT ons steeds die feeste sal hou - so getrou aan die oorspronklike bedoeling as moontlik. Daarin op sigself lê alreeds groot seën in opgesluit.