PB, Witrivier

Dis vir my lekker om WARE geloof raak te loop op die web... Het julle dalk
paar DVD /CD's wat ons kan help leer?
Ons het sedert Nov 2007 die Shabbat ontdek , maar eers in 2008 bekeer uit
"churchianity" . Ons het in Abib 5768 (6008 - ek het geleer daar's 240 jare
"missing") begin Pesach hou en al die ander Wayiqira 23 feeste soos deur
Yahweh beveel.

Ons is Nazareners (Ja, die "sekte" waarvan Shaul in Handelinge praat!) wat
ook glo in Torah hou (en die VOLLE Torah , behalwe miskien die sonde offers)
en ook 'n paar ander van die 613 (bv. Mens kan nie deesdae iemand wat sekere
sondes pleeg , stenig nie!)

Kommentaar

Dit was lekker om jou brief te ontvang. Soos ons, sal jy sekerlik bemoedig
wees om te hoor dat ons die afgelope tyd tientalle soortgelyke briewe van
"nuwe" gelowiges in die volle Skrif ontvang het en ook 'n aanhoudende stroom
telefoonoproepe - veral ook van mense wat die Afrikaanse Skrif (Woord en
Getuienis) by ons wil bestel. Daar is 'n duidelike begeerte by 'n
toenemende aantal mense om Yahweh te ken en te dien en te aanbid - nie soos
kerke dit al die jare aan ons voorgehou het nie, maar soos dit klinkklaar in
die Skrif opgeteken staan en dus ook soos die heel vroegste gelowiges dit
gedoen het.

As daar enige van ons materiaal is wat jy graag wil bestel, laat weet gerus.
Jy sou dalk reeds gesien het dat meeste van die artikels onder die afdeling
"Resources" op ons webtuiste is notas wat aansluit by Shabbat boodskappe (en
leringe) wat oor die afgelope klompie jare hier by ons in Vishoek tydens ons
Shabbat dienste gehoor is. Vir elkeen van hierdie temas is daar 'n
ooreenstemmende Audio CD, soos onder die afdeling "Books and CD's" gesien
kan word. Daar is heelwat mense wat hierdie CD's deurlopend van ons ontvang
en dit gebruik vir hulle eie studie of selfs hulle eie Shabbat dienste. Een
van die dienste wat ons lewer is om elke twee weke die voorafgaande twee
Shabbatte se audio Cd's (tesame met die gepaardgaande notas) aan
belangstellendes regoor S.A. uit te stuur. Ons het egter al die "ou"
opnames in elektroniese formaat - julle is dus welkom om enige van die
voriges ook te bestel.


Baie seën vir julle daar in Witrivier. Ek het as jong seun (heelwat meer as
30 jaar gelede) vir 2 jaar in Nelspruit gebly en skoolgegaan. Dis 'n mooi
wêreld waarin julle woon. Mag Yahweh sy Woord daagliks meer en meer vir
julle oopbreek.